Christiaan Baartman is terug met ‘n nuwe enkelsnit, ‘My Vrou’

Christiaan Baartman, die talentvolle sanger en liedjieskrywer met sy diep rasperstem, het pas ’n hartroerende nuwe enkelsnit en musiekvideo vrygestel.

MY VROU kyk na ’n troudag vanuit die man se perspektief. Dié volwasse kontemporêre snit, uit die pen van Christiaan en Jattie de Beer, is ’n liefdesverklaring van ’n man aan sy vrou. “Dit is maklik om te vergeet wat regtig belangrik is op jou troudag, omdat dit ’n gejaag is om alles klaar te kry,” verduidelik Christiaan. “Baie keer neem die man dan ’n tree terug en help waar hy kan. Maar dit is vir hom ook belangrik – hy gee sy lewe op om een te word met sy vrou.”

Volgens die musikant, praat die liedjie vir diegene wat nie weet hoe om hulle gevoelens oor te dra nie. Dit dien as spreekbuis vir mans wat sukkel om te sê hoe hulle voel.

“Alles wat ek doen het dieper betekenis – soms is dit ’n fluistering en ander kere skree ek dit van die dakke af. Laasgenoemde is wat hierdie liedjie is,” sê hy. “Sowat 50% van Suid-Afrikaanse huwelike eindig in egskeiding. Dit is belangrik dat mans, of enigiemand wat besluit om te trou, verantwoordelikheid hiervoor neem. Hulle moet alles insit om hulle huwelik te laat werk.”

Christiaan is al byna vir twee dekades in die musiekbedryf doenig en het sy eerste album in 2008 uitgereik toe hy negentien was. In 2009 het hy ’n Huisgenoot Tempo-toekenning gewen vir Liedjieskrywer van die Jaar en sedertdien het hy twaalf nommer een liedjies geskryf, waarvan sewe op sy tweede album – Huppel In My Stap (2012) – verskyn het. Hierdie veelsydige ster, het ook in 2016 ’n Ghoema-toekenning gewen.

Verder het hy saam met Johnny Late opgetree as die Bearded Man Band. “My ma was ’n musiekonderwyser en ek het langs die klavier groot geword. Daarom kon ek harmoniseer voordat ek behoorlik kon praat. Musiek was nog altyd my passie, vandat ek baie jonk was. Dis my lewe,” deel hy.

Christiaan put baie van sy inspirasie uit die lewe self. “Die lewe is ’n reis wat so baie liedjies en stories bied. Dit is ons werk as liedjieskrywers om hierdie liedjies op papier te sit,” sê die sanger. Hy het groot bewondering vir kunstenaars soos Coenie de Villiers, Christa Steyn, Joshua na die Reën en Douvoordag. “Ek sal graag nog eendag saam met Appel en Jo Black wil werk. Ek dink ons praat dieselfde taal.”

Hy reis gereeld om op hoogte te bly van die nuutste musiektendense en een van sy gunsteling bestemmings is beslis Nashville. “Ek is mal oor Nashville. Ek probeer een keer ‘n  jaar daar uitkom om te kuier, te leer en te groei. Vanjaar se kuier is ongelukkig kortgeknip, maar ek glo en hoop dat ek nog ’n geleentheid sal kry om te gaan.”

Die musiekbedryf het vir Christiaan geleer dat ’n aanhouer wen. “Die lewe loop in sirkels en voordat jy jou oë kan uitvee, is dit weer jou beurt,” sê hy. “Alhoewel musiek my passie is, studeer ek tans ook vir ’n pastorale berader – wat iets is wat my al sedert my tienerjare na aan die hart lê. Ek is disleksies en het ADHD en hulle het gesê dat ek nooit behoorlik sou kon lees of skryf nie. Nou is ek al besig met my sewende diploma.”

Van sy loopbaanhoogtepunte sluit in die vervaardiging van ’n kinderalbum saam met die SAMA-bekroonde musikant, Leon Jonkman; om die finale rondte te bereik op Idols SA in 2006; om vir Smokie te open in 2012; sy optrede by Huisgenoot Skouspel in 2007; asook konserte by verskeie casino’s in Gauteng.

“Ek het ook gedurende die afsonderingstydperk elke aand lewendig gestroom op Facebook. Dit het my so lief gemaak vir die video-wêreld dat ek begin werk het aan ’n kletsprogram saam met Leon Gropp. Ek is ook besig om my videoredigeringsvaardighede op te skerp.”

Dié talentvolle musikant glo daaraan om musiek met betekenis te maak. “Musiek is mooi en kom in verskillende vorme en groottes, net soos mense. Enige mooi wysie of liriek trek my in.”

MY VROU  is aanlyn beskikbaar op: https://distrokid.com/hyperfollow/christiaanbaartman/my-vrou

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook:           https://www.facebook.com/christiaankrit/
Twitter:                @ChristiaanKrit

Instagram:          @christiaanbaartman
YouTube:            https://www.youtube.com/user/ChristiaanRock/featured?view_as=subscriber

 

Luister gereeld na jou gunsteling stasie:

Musical Venture Radio

 

 

Leave a Reply