Victor Bravo moedig luisteraars aan om nie moed op te gee nie – ‘Solank die liefde bly’

Die wêreld het die afgelope paar jaar donker tye beleef waarin dit moeilik was om positief te bly. Tye waarin geliefdes gesterf het, huwelike verbrokkel het, werke en inkomstes verloor is en baie mense lus was om op te gee. Met genade van bo, het die meeste van ons heel aan die ander kant uitgekom en dit is dié liefde en genade wat die gewilde duo, Victor Bravo, se nuutste enkelsnit geïnspireer het.

SOLANK DIE LIEFDE BLY is ’n alternatiewe snit uit dié groep, wat bestaan uit Weco van Basten (sanger en liedjieskrywer) en Jopie Pienaar (hoofkitaarspeler), se eie arsenaal oorspronklike musiek.

Dit is vervaardig deur Renier Henning Music en sluit die klanke van die bekende dromspeler, Bruce Wallace, en baskitaarspeler, Janes Blomerus, in.

“Ek het op ’n dag met my kitaar gesit en dink oor die storms en hartseer wat so rondom ons woed, en ek het gewonder wat van ons gaan word,” deel Weco. “Ek het mismoedig gevoel, maar het in daardie oomblik besef dat ek nie alleen is nie. Dat solank ons kan saamstaan en kan lief bly vir mekaar, alles sal fine wees.”

Volgens Jopie is hierdie liedjie nader aan die klank en styl wat hulle oorspronklik vir die groep in gedagte gehad het en is dit anders as hulle vorige vrystelling omdat dit gemik is op diegene wat van dieper musiek hou. “Dit bied agtergrondmusiek wat maklik is om na te luister, met ernstiger lirieke wat jou aanmoedig om aandagtig te sit en luister,” sê hy.

Die musiekvideo, wat die boodskap van die snit perfek vasvang, is ook beskikbaar vanaf Saterdag 6 Augustus. Dit is deur Gerduan Kemp van Gerduan Kemp Photo & Film verfilm by Sowaar Bar en Sowaar Studios, asook by ’n splinternuwe Airbnb in Villieria, Pretoria.

In die video sing die hoofkarakter (Weco) alleen by ’n kroeg, terwyl die res van sy orkeslede (Jopie, Janes en Jean West) ook elkeen in afsondering by hulle eie huise musiek maak. Soos wat die liedjie opbou, sluit hulle egter een-vir-een by hom aan op die verhoog totdat hulle uiteindelik weer almal saam speel en ’n groot vertoning hou.

“Die video versinnebeeld die idee van hoe alleen en afgesonder ons op ’n stadium was. In daardie tye het dit swaar gegaan, omdat ons mekaar nie kon ondersteun nie,” verduidelik Weco. “Soos wat dinge weer begin terugkeer het na normaal, het dit begin beter gaan en kon ons weer bymekaar uitkom. Solank ons mense het wat vir ons omgee, is daar altyd hoop.”

SOLANK DIE LIEFDE BLY is hulle vierde vrystelling en volg in die suksesvolle voetspore van hul vorige enkelsnit, Suiderkruis, wat in 2020 uitgereik is en aangewys is as Beste kontemporêre enkelsnit by die onlangse Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekennings.

Skemer (2019) en Breakway Line (2018) het ook elkeen met ’n Afri-Indie-toekenning (Beste duo enkelsnit en Beste algehele enkelsnit) weggestap en vir verskeie weke bo-aan treffersparades regoor die land gekuier.

Victor Bravo het in 2018 hulle debuut in die musiekbedryf gemaak. In die kort tydjie wat hulle amptelik saam musiek maak, het dié musiekpaar (wat ook familie is) reeds talle hoogtepunte bereik, wat verskeie toekennings, twee Kaapse toere en optredes op verskeie groot musiekverhoë – waaronder Aardklop 2019 – insluit.

Wanneer hy nie op die verhoog is of liedjies vir homself en ander kunstenaars skryf nie, bou en ondersoek Weco data-sisteme by die werk. Hy is reeds van jongs af doenig met musiek, was as kind lid van die Drakensberg Seunskoor en het na skool drama en kreatiewe skryfkuns in Amerika geswot.

Jopie, wat mede-eienaar van CrossFit MTVE in Pretoria is, is net so passievol oor fiksheid en gesondheid as oor musiek. Nadat hy op skool sy eerste rockkonsert bygewoon het, het hy besluit om te begin kitaar speel en het sedertdien die kuns bemeester om sy vingers moeiteloos oor die snare te laat vlieg.

Die veelsydige duo wou nog altyd gehad het dat hulle musiek moet wees wat ookal die luisteraar nodig het dit moet wees op daardie spesifieke oomblik wat hulle dit hoor. “Dit moet jet fuel wees vir die ouens wat wil kuier en dit geniet, maar dit moet ook ’n sagte vertroosting wees vir enigiemand wat op daardie oomblik ’n skouer soek om op te huil,” sê Weco.

SOLANK DIE LIEFDE BLY is een van daardie liedjies wat aan jou hart gaan knaag en in jou kop gaan maal lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het.

“Ek dink die liedjie praat met daai stemmetjie binne ons, wat vir ons wil vertel dat dit nutteloos is om aan te hou hoop, en sê hou net vas,” sluit Weco af.

Dit is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Laai dit hier af:
Apple Music
https://music.apple.com/za/album/solank-die-liefde-bly-radio-edit/1635716746?i=1635716747

 

Spotify
https://open.spotify.com/album/6zw31wRK5yP5pf57e58tSQ?si=2hrZP1pDTv2LdHdwHp54Rw

YouTube Music
https://music.youtube.com/playlist?list=OLAK5uy_mdCRcCU8Myjcf86cq1vD-2B34MBYcxnPc&feature=share

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/VictorBravoMusic

Instagram: @VictorBravoMusic

SoundCloud: https://soundcloud.com/user-625588893

Hutsmerke: #VictorBravoBand #SolankDieLiefdeBly

 

Luister gereeld na jou gunsteling stasie

Musical Venture Radio

Leave a Reply