Potchefstroom-sangeres stel eerste oorspronklike enkelsnit vry: ‘Krimineel’

“Die liedjie gaan oor ’n krimineel wat skuldig bevind word daaraan dat hy iemand se liefde gesteel het. Dit beeld ’n oneindige en onverwagte liefde, wat nooit ophou nie, en hoe dit voel om smoorverlief te wees, uit. Dit is amper soos die verhaal van ‘Bonnie en Clyde’… ’n liefde so sterk soos hulle sin,” verklap Mia oor die betekenis agter haar eerste amptelike radio-enkelsnit wat pas uitgereik is.

Alhoewel dié sangeres – met haar suiwer stem – reeds dertien jaar in die musiekbedryf doenig is én klaar ’n draai gaan maak het op The Voice SA, is dit die eerste oorspronklike liedjie wat sy aan radiostasies vrystel en dit was beslis die wag werd!

KRIMINEEL, uit die pen van Vaughan Gardiner, is ’n betekenisvolle popsnit wat sal aanklank vind by almal wat al ooit verlief was. Volgens Mia, gaan luisteraars juis daarvan hou omdat die boodskap dieper is as wat ’n mens van ’n gewone popliedjie sou verwag. “Liefde wat so sterk is, is moeilik om te vind en almal het so ’n liefdesverhaal nodig. Hierdie lied laat jou anders na die liefde kyk en elke liriek praat met die hart en gee die perfekte verduideliking van die liefde in my verhouding.”

Omdat sy glo dat haar musiek ’n passieprojek is, wat nooit moet ophou nie, het sy besluit dat dit nou die regte tyd is om hierdie besonderse snit met die land te deel. KRIMINEEL is anders, dit is uniek en mense gaan ’n verbinding daarmee kan vind,” sê sy.

Mia (oftewel Mariska Pretorius), wat in Klerksdorp grootgeword het, woon tans in Potchefstroom. Haar talent is reeds vanaf ’n jong ouderdom ontdek en ontwikkel en sy wou dit nog altyd met mense deel. Sy werk sedert 2008 in die musiekbedryf, nadat sy op die ouderdom van twaalf ’n sangkompetisie by haar skool gewen en die geleentheid gekry het om saam met ’n bekende kunstenaar deur die land te toer.

Sedertdien het sy al die verhoog met verskeie groot kunstenaars gedeel en opgetree by van die land se grootste musiekfeeste, waaronder KKNK, Aardklop, Innibos, Ek Lief Afrikaans Kaapstad en vele meer. Sy beskou elke geleentheid wat sy kry om saam met groot name vertonings te doen as ’n hoogtepunt.

“Daar was al baie hoogtepunte in my loopbaan, soos toe ek genooi is om by Ek Lief Afrikaans op te tree en ek en ander kunstenaars op ‘Bravo’ verskyn het en saam met Kurt Daren die vertoning kon afsluit,” deel sy. “Elke konsert wat ek saam met ander sterre deel, is vir my ’n groot voorreg omdat van ons vriende raak en in kontak met mekaar bly.”

Mia beskryf haarself as ’n spontane persoon, wat altyd die positiewe kant van die lewe probeer raaksien. Goeie lirieke en musiek met emosie trek haar aan wanneer dit by liedjiekeuses kom en dit is vir haar baie belangrik dat dit wat sy sing moet sin maak. Ervaring het haar ook geleer dat sukses nie maklik is nie en dat jy moet veg, vasbyt en deursettingsvermoë hê om jou plekkie in die musiek-son te behou.

Nádine word uitgesonder as haar grootste plaaslike rolmodel en iemand saam met wie sy nog graag eendag sou wou werk, terwyl Liezel Pieters, Elandré, Smokie, Celine Dion, Wet Wet Wet, Neil Diamond en Queen almal op haar lys van gunstelinge is. Net soos ek, het Nádine ook op ’n jong ouderdom begin sing en kon sy en haar musiek saam groei. Sy was nog altyd getrou aan haar waardes en haar siening van die lewe. As kunstenaar, sou ek graag nog saam met almal in die musiekbedryf wou werk, omdat mense se sienings en manier van dinge doen verskil,” verduidelik sy.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, geniet sy dit om skool te hou en te werk aan nuwe musiek. Sy is juis tans besig om saam met Muse Studios se Hugo Ludik en Vaughan Gardiner aan ’n liedjie te werk, maar hieroor mag sy nog nie te veel verklap nie.

Oor die jare, moes Mia leer dat almal in die vermaakbedryf nie vertrou kan word nie en dat selfvertroue nodig is om ’n sukses te maak van jou talent.

Net soos Johnny Depp, glo dié musikant dat musiek emosies kan raak wat woorde nie kan nie, want dit is presies wat sy met haar eie musiek probeer bereik. Met die vrystelling van KRIMINEEL oortref sy nie net hierdie doelwit nie, maar gaan sy ook ’n hele paar nuwe musiekharte verower.

Die enkelsnit is op alle digitale platforms hier beskikbaar:   https://distrokid.com/hyperfollow/mia8/krimineel-mia

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/miaartistfanpage/

Instagram: @miaartist_official

Twitter: @MiaSangeres

SoundCloud: https://soundcloud.com/mia-louw-artist

Luister gereeld na Musical Venture Radio

Leave a Reply