Dozi vier meer as twee dekades in die musiekbedryf met nuwe album, ‘Vrede’

DOZI se splinternuwe album, VREDE is pas bekendgestel en dit is ’n versameling snitte wat jou nie net nostalgies sal laat verlang na die verlede nie, maar ook met hoop sal vul vir die toekoms en met waarderende oë sal laat kyk na die hede. Hierdie akoestiese-verwerking gaan voortbou op die wenresep waarvoor dié sanger oor die jare bekendheid verwerf het, maar ook ’n splinternuwe kant van sy musiek vir die publiek wys.

Elkeen van die liedjies is noukeurig uitgesoek om Dozi se stem en styl te komplimenteer en die eindresultaat beloof om vir hom sommer ’n hele klomp nuwe luisteraars in te palm.Vir die afgelope ses jaar, het ek probeer om ’n restaurant aan die gang te hou. Dit het my laat besef hoe belangrik musiek eintlik vir my is. Dit is wat ek ken en waarvoor ek lief is en het my geïnspireer om hierdie album op te neem en eerder die restaurantbedryf vir diegene te los wat daarin spesialiseer,” vertel hy.

Hy het vir die afgelope paar jaar hom daarop toegespits om vir ander kunstenaars geleentheid te gee om op te tree en hulle werk te deel by Dozi’s Back to the Roots, maar het besluit om vanjaar weer op sy eie musiek te fokus en nuo verras hy sy aanhangers met ’n splinternuwe album, wat beloof om hulle stoutste verwagtinge te oortref.

“Wat hierdie projek uniek maak, is dat dit lewendig op my plaas opgeneem is saam met baie ervare musikante. Almal het hulle skitterend van hulle taak gekwyt en dit het baie goed uitgekom,” verduidelik die ster oor die konsep agter die opname. “Ek het op die titel besluit omdat ek op hierdie stadium van my lewe moeg is vir alles wat nie vrede gee nie – enigiets wat konfronteer, lelik en negatief is. Daar moet net vrede wees.”

Hierdie is DOZI se negentiende album en spog met twaalf oorspronklike snitte, waarvan hy drie liedjies self geskryf het. Stef Kruger het die res geskep en, volgens die sanger, was dit vir hom so lekker om weer saam met hierdie begaafde liedjieskrywer te werk. Die inhoud kan hoofsaaklik beskryf word as ’n kombinasie van dieper dinkmusiek, wat hier en daar afgewissel word met ’n ligter dansnommertjie. “Saam met ‘Op Aanvraag’ en die ‘Mercy’-album, beskou ek my nuutste vrystelling as iets wat die naaste kom aan die ware Dozi-klank en ek sien uit daarna om dit met gehore te deel. Die album is in vrede gemaak, in vrede weggestuur en nou moet dit in vrede geld maak,” verklap die musikant. Sy vorige album, Hande vol Genade, is positief ontvang en het baie goed by vertonings verkoop.

Omdat hy daarin glo om musiek te skep wat vir mense iets beteken, sonder hy die liedjie As Jy Deur Hel Gaan uit as een van sy gunstelinge. “Dis ’n lied wat so gepas is vir vandag se tyd. Ek glo daaraan dat as jy lirieke skryf dit oor iets moet gaan wat in elke mens se lewe iets kan beteken,” sê hy oor dié snit wat hy self geskryf het.

Ander titels op die album, soos Partykeer Somtyds (die eerste enkelsnit-uireiking), Galgtou, Dis Net Woorde en Groete verklap dat emosie ’n belangrike tema is wat aangespreek word en dit gaan beslis luisteraars se hartsnare prikkel. Die rede hoekom ek musiek skryf, is om iets in die wêreld beter te maak. Musikante is dissipels van die wêreld en dis hulle werk om mense se siele gelukkig te maak. As jy ongelukkig is en jy luister na die regte musiek, dan voel jy beter,” deel hy.

Dozi (oftewel Henk Opperman) is in Hluhluwe gebore en het op ’n plaas in Standerton grootgeword. Hy het op die ouderdom van twaalf begin sing en kitaarspeel en was sedertdien nog altyd ’n groot bron van vermaak vir sy vriende, familie en aanhangers.

Na sy diensplig, het hy grafiese ontwerp by die Technikon van Pretoria studeer en op ’n aand vir homself ’n optrede by die plaaslike Spur losgeslaan. Dit was die begin van ’n baie lang en suksesvolle musiekloopbaan. Hy het tot in die oggendure optredes gedoen, wat gelei het tot die ontstaan van sy bynaam – Dozi – omdat hy bedags baie lief was vir slaap.

Nadat sy paaie met Hansie Roodt en Lydia Winchester gekruis het, het dinge behoorlik begin vlam vat. Sy eerste album, Mercy, wat ’n geestelike Zoeloe-album was, is in 1999 uitgereik en het vir hom ’n SAMA-benoeming vir Beste Nuwe Kunstenaar besorg het. Verskeie bekroonde platinumverkopers, waaronder Op Aanvraag, Storm op die Horison, Siyaya – Ons Gaan… en talle nommer een-radiotreffers het daarna gevolg.

Oor die jare, het hy nie net ’n gereelde gesig geword by die land se grootste musiekfeeste en –konserte nie, maar ook bekendheid verwerf op die kassie op sy eie program – Kom ’n Bietjie Binne– asook as afrigter in twee seisoene van die realiteitsprogram, Supersterre en ’n gereelde gaskunstenaar op Noot-vir-Noot.

Volgens hom, is daar ook bittermin van die ouer kunstenaars saam met wie hy nog nie die voorreg gehad het om te werk nie. Hy sou egter nog graag saam met Jan Blohm wou optree, omdat hy so lief is vir blues-musiek en nog nooit regtig saam met musikante in daardie kringe gesing het nie.

“My inspirasie kom van wat ek hoor, ruik en sien en kom baie van binne af. Alhoewel ek gereeld kyk na oorsese goed, is ek bang om te veel belang te stel in wat in die musiekbedryf aangaan. ’n Mens is so geneig om in daardie groef te val en dan klink almal dieselfde,” sê hy. “Ek hou van enige tipe musiek en sal soms vir ure na klassieke musiek luister. Blues is net iets wat diep in my hart gekruip het, want ek hou van genres wat so ’n bietjie agter die tyd sit.”

 VREDEis ’n moet-hê-album vir elke Dozi-aanhanger. Dit is ’n kombinasie van gevoelvolle hartsmusiek en lekker luistermusiek, waarsonder geen speellys volledig sal wees nie. “Musiek is my grootste liefde. Ek wil niks anders doen nie. Sodra ek begin besigheid doen en mense begin oor enige ander iets met my praat, sien ek skoon swart kolletjies voor my oë. Dit was nog altyd so, van skooldae af,” skerts hy. “Ek is so positief en vol planne oor die toekoms, dat ek myself soms bang maak. Die grootste plan is om aan te hou musiekmaak totdat ek eendag my kop neerlê.”

 Sy nuutste vrystelling is nie net ’n duidelike bewys dat Dozi nogsteeds so passievol is oor wat hy doen soos altyd nie, maar ook ’n juweel vol treffers wat nog vir baie jare oor die radio gehoor sal word.

Die bekendstelling van VREDE gaan ook gevier word met ‘n spesiale aanlyn-konsert op die 27ste Junie.  Publiek kan gerus www.wallfly.co.za, die media en Dozi se sosiale media bladsye dophou vir meer inligting wat binnekort bekendgemaak sal word.

Laai die album hier af: https://lnk.to/47YsMkvf

LYS VAN SNITTE:

  1. Partykeer Somtyds
  2. Dit Is Ook Maar Hier
  3. Dis hoekom
  4. Ek Wil Vir Jou Sê
  5. As Jy Deur Hel Gaan
  6. Dis Net Woorde
  7. Hiervandaan
  8. Groete
  9. Galgtou
  10. Sing Van Die See
  11. Skemer Hemel
  12. Smelt Kroes

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/Dozifanpage/

Instagram: @doziopperman

 

Luister gereeld na jou gunsteling radio:

Musical Venture Radio

Leave a Reply