Duo, Victor Bravo, vier hul herkoms met nuwe enkelsnit, ‘Suiderkruis’

“Daar is baie Suid-Afrikaners wat groener weivelde gaan soek in ’n ander land. Ek was self een in my vroeë twintigs. Maar ons land en sy kultuur is deel van ons DNS en as jy eerlik is, sal jy erken dat jy dit mis,” verduidelik Weco van Basten, Victor Bravo se hoofsanger en liedjieskrywer, oor die betekenis agter hulle derde enkelsnit wat pas vrygestel is.

SUIDERKRUIS is ’n kontemporêre popsnit uit dié duo, wat bestaan uit Weco en hoofkitaarspeler – Jopie Pienaar, se eie arsenaal oorspronklike musiek. Dit is vervaardig deur Renier Henning Music en sluit die werk van bekende dromspeler, Bruce Wallace, en baskitaarspeler, Janes Blomerus, in.

“Dit maak nie saak waar in die wêreld jy jouself bevind nie. Jy bly ’n Suid-Afrikaner in murg-en-been. Rugby, braaivleis, die plaas en ons taal vloei deur jou are en ’n deel van jou gaan altyd daarna verlang,” sê Weco, wat verklap dat Erfenisdag en die groep se optrede by Aardklop in 2019 die inspirasie agter die liedjie was.

SUIDERKRUIS is anders as die musiek wat ons gewoonlik doen. Dit het ’n lekker ritme, wat mense na die dansvloer sal lok, sonder om die dieper betekenis prys te gee,” voeg Jopie by.

Laai die enkelsnit hier af: 

 Apple Music:       https://music.apple.com/za/album/suiderkruis-radio-edit-radio-edit-single/1509810700

Spotify:                 https://open.spotify.com/album/0cpi7zBkKez25uSkvAEaOY?si=ueZauyrkSKmHuM2mCFFQPA

Deezer:                 http://www.deezer.com/track/937178842

’n Musiekvideo van dié lekkerluister-liedjie is ook binnekort beskikbaar. Dit is in die Johan van Rensburg-teater by Hoërskool Drie-Riviere verfilm en maak gebruik van my baie slim beligting om nie net ’n treffende atmosfeer te skep nie, maar ook op die Suiderkruis in die sterrestelsel te sinspeel.

Hulle nuutste vrystelling volg in die suksesvolle voetspore van hulle vorige enkelsnit, Skemer, wat in 2019 uitgereik is en vir negentien agtereenvolgende weke die nommer een posisie op Springbok Internetradio se Top 20 bekleë het. Dit is ook aangewys as dié platform se Liedjie van die Jaar. Dit kan tans steeds op verskeie radiostasies gehoor word.

Breakway Line, die duo se debuut-enkelsnit, is in November 2018 uitgereik en die reaksie was oorweldigend goed. Nie net het dit speeltyd gekry op ses groot radiostasies regoor die land nie, maar was dit ook vir nege weke nommer een op die Springbok Top 20. Die musiekvideo is deur Dehan Janse van Rensburg verfilm by Mediclinic Emfuleni en Duck Point Venue in die Vaaldriehoek. Buiten vir die mooi storie (die liedjie is vir Weco se vrou geskryf toe hy weg van die huis af moes werk) en pragtige agtergrond van elke toneel, is die video besonders spesiaal omdat dit geskiet is as deel van een van Troukoors-tydskrif se amptelike gestileerde fotosessie vir die September 2019-uitgawe. Jopie en sy meisie, Rhoda Hartzer, is ook te sien in die hoofrolle van dié verhaal wat steeds op kykNET NOU! speeltyd kry.

’n Gedeelde liefde en passie vir betekenisvolle musiek, het gelei tot die ontstaan van Victor Bravo, wat vanaf 2018 saam optree by kuierplekke in die Vaaldriehoek en omliggende areas.

Die groep, wat se naam geskep is uit die eerste letters van hulle familievan – van Basten, het ’n baie unieke styl wat elemente van Alternatiewe-, Kontemporêre-, Rock-, Pop-, Folk- en Bluesklanke soomloos laat saamsmelt om ’n vars en nuwe aanslag na die Suid-Afrikaanse musiekmark te bring en waarby gehore van alle ouderdomme aanklank vind. “Die projek, Victor Bravo, is so drie jaar terug gebore as ’n konsep in my kop. Die idee was om ’n platform te skep uitsluitlik vir musiek, sonder die ander sideshows,” verduidelik Weco.

In die kort tydjie wat hulle amptelik saam musiek maak, het die musiekpaar (wat ook familie is) reeds verskeie hoogtepunte beleef. As deel van die Local is Lekka-kompetisie en -inisiatief; wat deur die bekroonde Country-ster Vernon Muso, VCR 90.6, IFM Radio 102.2, Mooivaal Media en Barnyard Vereeniging aangebied is; het hulle nie net die wonderlike voorreg gehad om te open vir komedielegende, Barry Hilton, se konsert nie, maar het ook ’n radio-onderhoud en koerantartikel gekry as gevolg hiervan.

Verder was Victor Bravo ook deel van Aardklop 2019, die Boshof Skou, die On Tap-kunsbierfees by Emerald Resort & Casino en het hulle al by verskeie groot kuierplekke in die Vaaldriehoek, Pretoria en omliggende areas opgetree, waaronder Stage at N12, Café Barecelona, Shovels Pub and Grill én die Yami Rib & Burger-groep se verskillende restaurante. “Goeie musiek moet jou hart raak en dit is wat ons anders maak. Die liedjies wat ons kies, is dieper en ons pas die klank aan om ’n meer treffende en emosionele boodskap deur te gee,” verklap Jopie oor wat gehore van hulle konserte kan verwag.

Hulle was ook saam met ’n mede-plaaslike musikant, Carla van Wijk, deel van die toergroep, Klankgolf, wat in November 2019 deur die Tuinroete getoer het en baie goed ontvang is.

 

DIE MANNE AGTER VICTOR BRAVO

Voorsanger, liedjieskrywer, ritmekitaar- en klavierspeler, Weco van Basten, kom uit ’n musikale familie wat gereeld saamkuier om die braaivleisvuur met ’n kitaar in die hand en ’n liedjie om te deel. Hy het hoofsaaklik in Sasolburg grootgeword en van kleins af musieklesse geneem, in die skoolkoor gesing en deelgeneem aan al wat kunswedstryd en konsert is. Gedurende die laaste twee jaar van sy laerskoolloopbaan, was hy ook lid van die Drakensberg Seunskoor. Omdat hy nog altyd passievol was daaroor om mense te vermaak en die stories in sy hart op papier te deel, is hy na skool Amerika toe om Drama en Engelse Kreatiewe Skryfkuns te studeer. In hierdie tyd, was hy deel van die akoestiese groep, Victim, wat gereeld in en rondom Houston opgetree het. Die finale twee jaar van sy Taalstudies, is by Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus voltooi, waar hy ook sy vrou ontmoet het. Alhoewel hy ’n wye verskeidenheid musiek geniet, sonder hy kunstenaars R.E.M., Cat Stevens, Sarah McLachlan, Eric Clapton, Ted Hawkins, Karen Zoid, Klopjag, Eminem, Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, 2nd Life en Jo Black uit as musikante wat, vir verskeie redes, sy eie styl tot dusver beïnvloed het. Hy verklap verder dat enigiets hom kan inspireer om ’n liedjie te skryf op die regte oomblik. “Alledaagse dinge, soos koudkry, braaivleis en vriende, gee my soms idees vir lirieke. Maar dis die rou menslike oomblikke, daardie hartverskeurende mooi insidente waar die menslike weerloosheid naak lê vir almal om te sien, wat my die meeste tref… en dan moet ek skryf,” sê hy. Natuurlik is al sy musiek nie ewe ernstig nie en het hy dit geniet om onlangs die treffer, Boontasties, vir die trap-kunstenaar BOON se eerste album te skep. ’n Tweede lied, Sê Net Wat Jy Wil Sê, is ook deur dié kunstenaar aanvaar, maar verskil hemelsbreed van sy prettige voorganger. Tans werk hy ook aan twee liedjies vir ander opkomende kunstenaars.

Hoofkitaarspeler, sanger en liedjieskrywer, Jopie Pienaar, is ’n passievolle musikant met ’n natuurlike talent om van die kitaar een van die hoofrolspelers in enige musiekproduksie te maak. Musiek was nog altyd deel van sy lewe en iets wat hom kon laat goed voel in enige fase of situasie waarin hy homself bevind het. Nadat hy op die ouderdom van veertien sy eerste rockkonsert (Straatligkinders) bygewoon het, het hy ’n kitaar aangeskaf en homself leer speel. Op hoërskool was hy deel van die band, Mad About You, en was hy ook betrokke by verskeie musiekprojekte by die skool en kerk. Dit is egter die tye, rondom die braaivleisvuur saam met Weco, wat vir hom uitstaan en wat hy beskou as die amptelike ontstaan van Victor Bravo. Wanneer hy nie besig met optredes nie, is hy ook ’n fiksheidsinstrukteur by CrossFit Razmig in Pretoria en werk hy daaraan om sy eie talent en selfvertroue as sanger en liedjieskrywer verder te ontwikkel. Buiten vir sy groot liefde vir Bluesmusiek, meen hy dat groepe soos Blink 182, Fokofpolisiekar, Dire Straits, Pink Floyd, Lynyrd Skynyrd en Kings of Leon die grootste invloed op sy kitaarstyl gehad het. “Tans luister ek na Spoegwolf. Hulle manier van skryf en hoe hulle musiek opbou en vloei, is baie goed. Ek hou ook van Rainbow Kitten Surprise se vreemde styl, metafore en die hoofsanger se stem,” vertel hy.

Victor Bravo wil hê dat hulle musiek moet wees watookal die luisteraar nodig het dit moet wees op daardie spesifieke oomblik wat hulle dit hoor. “Dit moet jet fuel wees vir die ouens wat wil kuier en dit geniet, maar dit moet ook ’n sagte vertroosting wees vir enigiemand wat op daardie oomblik ’n skouer soek om op te huil,” sê Weco.

Wat begin het as ’n Nuwejaarsvoorneme om musiek te maak ter wille van die passie en naletenskap daarvan, het uitgedraai in ’n kitssuksesverhaal wat die groeplede se wildste drome oortref het.

SUIDERKRUIS gaan nie net ’n treffer op die dansbaan en om die braaivleisvuur wees nie, maar is ook die volgende stap in die baie belowende musiekloopbaan van hierdie veelsydige groep.

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/VictorBravoMusic

Twitter: @VictorBravoMusic

Instagram: @VictorBravoMusic

SoundCloud: https://soundcloud.com/user-625588893

Hutsmerke: #VictorBravoLive #Suiderkruis #VierJouKultuur

 

BESPREKINGS EN NAVRAE:

Annelien van Basten

Sel: 082 863 6817

E-pos: victorbravomusic@realsounds.co.za

 

Luister gereeld na jou gunsteling stasie:

Musical Venture Radio

Leave a Reply