Dozi is terug met ‘n nuwe enkelsnit, ‘Partykeer somtyds’

Wanneer jy die naam Dozi hoor, dink jy onwillekeurig aan treffers soos Grassade in die Wind, Ou Ryperd, Tussen Jou  en My en meer en sien jy in jou geestesoog ’n prentjie van dié sagmoedige reus wat oor die afgelope twee dekades diep spore in Suid-Afrikaanse musiekharte kom trap het.

Nadat hy homself vir die afgelope paar jaar daarop toegespits het om vir ander kunstenaars die geleentheid te gee om hulle werk met gehore te deel by sy restaurant en kuierplek, Dozi’s Back to the Roots, het hy besluit om vanjaar weer op sy eie musiek te fokus en aanhangers te verras met ’n splinternuwe album getiteld VREDE, wat beloof om hulle stoutste verwagtinge te oortref.

Die eerste enkelsnit, PARTYKEER SOMTYDS, tref radiostasies landswyd op 15 Mei en daar word reeds voorspel dat dit  ‘n groot treffer onder luisteraars gaan wees.  Die liedjie is geskryf deur die uiters talentvolle liedjieskrywer, Stef Kruger en gaan  daaroor dat niemand van ons eintlik beheer het oor ons lewens nie en alles net genade is.  Ons maak almal foute en word heen en weer deur die wind teen alles vasgewaai.  Maar dan baiekeer kom daardie een persoon in jou lewe in wat alles kom regmaak en liefde in oorvloed bring.  “Dit gaan oor seisoene, die hele lewe gaan oor seisoene en dit gaan so gou verby en dan partykeer maak die hemel oop en gee vir ons reën en dit kom alles net weer terug na genade toe”, sê Dozi oor hierdie pragtige nuwe lied.

Dozi se nuwe album, VREDE, sal vanaf einde Mei op alle digitale platforms beskikbaar wees en is ’n versameling snitte wat jou nie net nostalgies sal laat verlang na die verlede nie, maar ook met hoop sal vul vir die toekoms en met waarderende oë sal laat kyk na die hede. Hierdie akoestiese-verwerking gaan voortbou op die wenresep waarvoor dié sanger oor die jare bekendheid verwerf het, maar ook ’n splinternuwe kant van sy musiek vir die publiek wys.

Hierdie negentiendealbum van Dozi spog met twaalf oorspronklike snitte, waarvan hy drie liedjies self geskryf het. Stef Kruger het die res geskep en, volgens die sanger, was dit vir hom so lekker om weer saam met hierdie begaafde liedjieskrywer te werk. Die inhoud kan hoofsaaklik beskryf word as ’n kombinasie van dieper dinkmusiek, wat hier en daar afgewissel word met ’n ligter dansnommertjie.  Die rede hoekom ek musiek skryf, is om iets in die wêreld beter te maak. Musikante is dissipels van die wêreld en dis hulle werk om mense se siele gelukkig te maak. As jy ongelukkig is en jy luister na die regte musiek, dan voel jy beter,” deel hy.

 

Die album kan nou al hier vooraf bestel word:  https://lnk.to/47YsMkvf

 

Die bekendstelling van VREDE gaan ook gevier word met ‘n spesiale aanlyn-konsert op die 27ste Junie.  Publiek kan gerus www.wallfly.co.za, die media en Dozi se sosiale media bladsye dophou vir meer inligting wat binnekort bekendgemaak sal word.

VREDE gaan beslis ’n moet-hê-album wees vir elke Dozi-aanhanger. Dit is ’n kombinasie van gevoelvolle hartsmusiek en lekker luistermusiek, waarsonder geen speellys volledig sal kan wees nie.

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook:https://www.facebook.com/Dozifanpage/

Instagram: @doziopperman

 

Luister gereeld na jou gunsteling stasie:

Musical Venture Radio

Leave a Reply