‘Wonder Van Kersfees’, deur Jacques & Liezel gaan verseker ‘n gunsteling wees op almal se Kersmusiek-speellys.

Sedert hulle in November vanjaar hul debuut gemaak het gaan die splinternuwe duo, Jacques en Liezel, net van krag-tot-krag.

Daarom het hulle besluit om musiekharte warm te laat klop hierdie feesseisoen met die vrystelling van hulle tweede enkelsnit, WONDER VAN KERSFEES, wat beslis ’n gunsteling gaan wees op almal se Kersmusiekspeellys.

Volgens die musiekpaar, gaan hierdie opgewekte geestelike snit (uit hulle eie pen) oor God wat Jesus – die ware Wonder van Kersfees – vir Sy kinders gegee het.

“Ons is albei mal oor die Kersseisoen en -liedere en wou iets skryf wat ons harte deel,” verduidelik hulle. “Kersfees is die herdenking van Jesus se geboorte, maar ons vergeet dat hy gebore is vir ’n rede… om gekruisig te word en te sterf vir ons almal se sondes. Sy bestemming was die kruis, Sy doel ware liede en Sy rede… jy!”

Die liedjie is vervaardig deur Jattie de Beer van Artistry Productions en beloof om aanklank te vind by gehore van alle ouderdomme. “Ons dink mense sal van die liedjie hou, omdat dit ’n vars, nuwe en opgewekte Kerslied is in ons pragtige moedertaal. Dit gaan nie oor klingelende klokkies, takbokke of sneeuvlokkies nie, maar oor die ware rede vir Kersfees – samesyn vir familie en vriende, terwyl ons met dankbare harte Jesus se geboorte vier,” deel die twee.

WONDER VAN KERSFEES volg in die voetspore van hulle eerste oorspronklike lied, Uit My Hande, wat vir hulle ’n groot loopbaanhoogtepunt was sover en baie positief ontvang is. “Ons debuut-enkelsnit is met ope harte ontvang deur verskeie radiostasies, asook die publiek. Ons het nog net goeie terugvoer gekry en heelwat boodskappe van mense wat vertel hoe baie dit vir hulle beteken het,” sê hulle.

Jacques Schoeman en Liezel Marshall het mekaar sowat nege maande terug ontmoet toe hy, deur middel van Facebook, musiektoerusting by haar gekoop het. Hulle het dadelik gekliek, goeie vriende geword en besluit om saam musiek te maak en só het ’n splinternuwe duo ontstaan waarvan ons nog sommer baie in die toekoms gaan hoor.

Jacques geniet dit om ou motors te restoureer en hy is ook die eienaar van Iron Horse Customs wat spesialiseer in motorfietse terwyl Liezel haar eie besigheid bestuur wat spesialiseer in digitale inhoudskepping.  Sy was ook vir ‘n paar jaardeel van die groep Onbeskaamd en het al een Ghoema-benoemde album op haar kerfstok.

Tans is dié musikante se doel om soveel as moontlik van hulle eie musiek met die wêreld te deel en werk hulle reeds aan hulle derde enkelsnit, wat vroeg in 2022 beskikbaar sal wees.

Met WONDER VAN KERSFEES wil hulle luisteraars graag herinner aan wat belangrik is. “Jesus is die ware ‘Wonder van Kersfees’ en ons wil dit graag saam met almal vier. Daar is soveel om voor dankbaar te wees, selfs in die moeilike tye wat ons tans beleef,” sluit die paar af.

 

Dié enkelsnit is nou aanlyn beskikbaar, kry dit hier: https://distrokid.com/hyperfollow/jacquesandliezel/wonder-van-kersfees

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook –  https://www.facebook.com/JacquesLiezel

Instagram – @jacquesliezelmusic

YouTube – https://www.youtube.com/channel/UCap744cllbJPUaVrdGoM3ZQ

TikTok – https://vm.tiktok.com/ZSe2DUjED/

 

Luister gereeld na jou gunsteling stasie,

Musical Venture Radio

 

Leave a Reply