Sky Ocean sing oor haar Retrospek Van Liefde

Die gewilde sangeres, Sky Ocean, het pas haar nuwe enkelsnit, Retrospek Van Liefde, bekendgestel. Die liedjie volg op die hakke van haar eerste twee enkelsnitte, Blackholes in my Head en Vlekke, wat steeds baie gewild onder luisteraars is.

“Wanneer jy verlore raak in jou eie denke of vir ’n oomblik terugdink aan jou liefdeslewe – of dit nou goeie of swak keuses was wat jy gemaak het, vorm dit steeds deel van jou menswees. Retrospek Van Liefde is presies dit – wanneer ek terugdink aan die liefde, dan lyk my romantiese wêreld iets tussen ’n romantiese komedie en ’n treurverhaal,” vertel sy.

Retrospek Van Liefde kom uit die pen van Juan Boucher en Sky Ocean en is vervaardig deur Byron Keno.

“Een aand, om ’n brandende vuur, het my wildste drome onverwags ook vlam gevat nadat ek saam met ’n vriend by Juan Boucher gaan braai het. Juan het uit die bloute gevra dat ek vir hom ‘When we say nothing at all’ van die alombekende sanger, Ronan Keating, sing, terwyl hy die begeleiding speel op sy kitaar. Nutteloos om te sê was ek so angsbevange dat ek gesukkel het om die sleutel (waarin hy die liedjie speel) te kry en skielik was dit asof ek nie meer die liedjie of melodie ken nie. Maar met die Here se genade alleenlik, het ons toe met die volgende braai begin skryf aan Retrospek Van Liefde,” vertel sy baie verlig.

“Ek is opreg en ongelooflik dankbaar vir al Juan se insette en kennis wat hy met my gedeel het, asook sy geduld met die skryfproses. Ek het veral gehou van sy skryfstyl met die kontras van woorde, gevoelens en siening van bv. liefde, haat en seer,” voeg sy by.

Sy dink dat ’n verskeidenheid mense moontlik aanklank sal vind by die liedjie omrede dit die positiewe en negatiewe van vorige verhoudings, keuses en liefde kan weerspieël. Dit hang af watter paar liefdes-skoene die luisteraar aanhet.

Haar stem is een van daardie stemme wat jou in jou spore laat vassteek wanneer jy haar vir die eerste keer hoor sing. Daar is ’n strelende klank in haar stem wat jou uitnooi om verlore te raak in haar musiek. Sy is mal oor Demi Levato se musiek en sal graag eendag die verhoog wil deel met kunstenaars soos Elvis Blue en Die Heuwels Fantasties.

Die musiekvideo van die enkelsnit is ook reeds vervaardig en speel gereeld op kykNET NOU.

Retrospek van Liefde is deel van Sky Ocean se debuut-album, Spore Van My Hart en beskikbaar op alle digitale platforms.  Koop dit hier:

https://itunes.apple.com/za/album/spore-van-my-hart/1360337302

 

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/skyoceanoff/

Instagram: @skyoceanofficialandreschwartz.co.za

Luister gereeld na jou stasie.

Kliek net op: Musical Venture Radio

Leave a Reply