Louis Geldenhuys se enkelsnit, ‘Harte In Die Lug’

Die opgewekte, meesleurende wysie en vrolike liefdeslirieke van die sanger Louis Geldenhuys se nuwe liedjie, HARTE IN DIE LUG, gaan beslis binnekort ’n gunsteling wees op al wat ’n dansvloer en speellys is. Hierdie enkelsnit is pas vrygestel en het ook reeds ’n draai by die KKNK gaan maak.

HARTE IN DIE LUG is geskryf deur Dennis East en gaan oor twee verliefdes wat enige plek en enige tyd hulle drome en wense met mekaar kan deel. Hulle is soos ballonne in die lug, wat deur die wind gedryf word tot waar hulle ’n paradys ontdek en waar liefde sal oorheers.

“Ek kan my en my vrou, Lindi, se verhouding vereenselwig met die lied. Almal soek ’n paradys, hetsy dit gaan oor die leefstyl of waar jy bly. Dis oor twee mense wat mekaar liefhet en ’n toekoms saam beplan, maar dit is nie altyd net lekker nie omdat daar soms winde is wat die twee harte daarvan weerhou om dit te kry waarna hulle streef, vertel Louis oor sy debuut-enkelsnit wat spog met ’n lekkerluister Country-Pop-aanslag en jou nooi om saam met die paartjie opgewonde en verlief te voel. “Die liedjie het ’n vars melodielyn en my stem en die verwerking praat met mekaar.” ’n Musiekvideo vir dié vrystelling, word ook vir die nabye toekoms beplan.

Hierdie talentvolle musikant, met sy gesofistikeerde stem, kom van Welkom af en is al versot op musiek vandat hy kan onthou. Ek het staaltjies gehoor dat ek in die kleuterskool op ’n stoel gestaan en Ruiter Van Die Windjie gesing het vir almal wat wou hoor,” gesels hy. Buiten vir koorsing, het Louis geen formele sangopleiding gehad nie, maar hy was vasberade om sy passie om mense te vermaak ’n realteit te maak. Na skool het hy gereeld by funksies en kroeë opgetree en is toe vir twee jaar Europa toe. Daarna het hy Drama gaan studeer by Nortlink College onder leiding van Nicole Holm en Albert Maritz.

Ek kon ongelukkig nie my studies klaarmaak nie, want my pa is in 2007 oorlede en ek moes sy besigheid in Welkom oorvat. Tien jaar later, is ek getroud met my skoolliefde en het ons drie pragtige kinders,” deel hy. “So tussen die werk en kinders grootmaak deur, het ek bly hunker om weer te sing en moes ek ’n besluit neem. Deesdae woon ons in Blouberg en tree ek weer voltyds op en toer ek saam met Manie Jackson en Die Lieflinge deur die Karoo.”

Sedertdien het hy ook al by verskeie feeste, soos die KKNK en die KYKNET Buite Ekspo opgetree, en in 2018 ’n konsert gereël vir groot name in Mosselbaai, soos Nádine, Manie Jackson, Rudi Claase, Pieter Koen, Monique Steyn waartydens hy ook die geleentheid gehad het om saam met hulle te sing.

Louis het groot bewondering vir lekkerluister musiek met betekenis en meen dat dit geïnspireer is deur die sangers waarmee hy grootgeword het soos Bles Bridges, BZN, Jim Reeves en Albert Hummond. In die toekoms sou hy nog graag saam met talentvolle mense soos Johan Vorster wou werk as hy die kans sou kry en hy beplan ook om binnekort liedjies uit sy eie pen met luisteraars te deel.

Hy verklap dat hy tans, buiten vir die familiebesigheid, saam met sy vrou ’n selfsorgeenheid bestuur en dat hy graag ’n hoteleienaar of akteur sou wou wees as hy nie ’n sanger was nie. “Ek is ’n dromer, wat maklik huil oor emosionele dinge. As ek my eie hotel gehad het sou ek ’n groot vleuelklavier aangeskaf en by die ingang gesit het, waar ek dit gereeld sou speel. Ons het nou ’n selfsorgeenheid, maar ek kort nog die klavier!”

Die musiekberyf het vir Louis Geldenhuys geleer om hard te werk, in homself te glo en nederig te bly. Sy droom is om die harte van mense in Suid-Afrika, en regoor die wêreld, te verower met sy strelende stem, unieke klank en voetstamplekkerritmes en ook om binnekort sy eerste album op te neem. As HARTE IN DIE LUG enige aanduiding is van wat hy beplan, wag daar voorwaar ’n blink toekoms op hom in die musiekwêreld.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/Louis-Geldenhuys-201436030619778/

Twitter: @L_Geldenhuys

Instagram: @louisrealll

 

Luister gereeld na jou gunsteling stasie: Musical Venture Radio

Leave a Reply