Posduif is terug met ‘n nuwe enkelsnit, ‘Niks Vergelyk’. Daarmee vier hul die geskenk van vriendskap.

POSDUIF het nou maar een maal die unieke gawe om hulle gedagtes en gevoelens op ’n manier weer te gee, wat so lekker is om na te luister, dat almal daarby aanklank vind. Hulle nuutste enkelsnit, NIKS VERGELYK, is geen uitsondering nie. In tipiese POSDUIF-styl, kry hierdie liedjie dit reg om iets te vier wat baie van ons as vanselfsprekend aanvaar – vriendskap!

Hierdie enkelsnit, uit die pen van hoofsanger James Boland en kitaarspeler Nick Jordaan, is ’n lekker saamsing-liedjie. Maar, net soos die res van hulle arsenaal, is dit nie net daarop gemik om mense op hulle voete te kry nie en het dit ook ’n dieper betekenis.

“Ons almal het ’n goeie vriend of vriende wat uniek is en hulle eie manier het om goed te doen; ’n vriend wat pret is en saam met wie jy kan groot kuier en lag. Hierdie liedjie gaan oor daai vriend,” sê James. “Maar dit gaan ook daaroor om te besef dat die lewe nie altyd net een groot partytjie is nie en dat selfs die gelukkigste mense soms hartseer ervaar. Dit is wanneer vriende mekaar die meeste nodig het. In die geheel, gaan dit daaroor om dankbaar te wees vir vriendskap.”

Die liedjie, verduidelik Boland, is geïnspireer deur ’n vriend wat besig was om deur ’n moeilike tyd te gaan en nodig gehad het om te weet dat hulle daar is om hom te ondersteun. “Ons het almal iemand in ons lewe vir wie ons wil dankie sê vir hulle vriendskap; iemand vir wie ons wil sê: ‘Ek is hier vir jou’.”

In ware POSDUIF-tradisie, word die liedjie ook gekomplementeer deur ’n opwindende musiekvideo wat deur die SAMA-benoemde vervaardiger, Kyle White, vervaardig en verfilm is by Soirée in Sunninghill. Omdat die liedjie ’n tagtigs-aanslag het, het hulle besluit op ’n prettige verhoogoptrede-konsep. “Kyle het ons eerste video opgeneem en ons het oor die jare vriende geword wat dit geniet om saam te werk. Omdat dit ’n lighartige video is, wat die tagtigs uitbeeld, is dit nogal ’n ervaring wat beloof om kykers te laat glimlag,” verduidelik Jordaan.

“Die musiekvideo vertel nie ’n storie nie. Dit speel af op die verhoog en die manne geniet hulleself gate uit,” sê Kyle. “Ek ken die groep al lank en geniet dit om saam met hulle te werk. Hulle is passievol oor wat hulle doen en ’n mens kan dit hoor in hulle musiek.”

Baskitaarspeler, Amiel Gopal voeg by dat hy dink mense sal aanklank vind by die video, omdat dit die prettige herinneringe van ware vriendskap versinnebeeld. “Ek dink dis meer interaktief en baie pret om na te kyk omdat dit kykers ’n idee gee van hoe ons lewendige optredes is.”

“Ons wou ’n video skep wat outentiek en vintage lyk… en nie goedkoop nie. Alles is baie mooi deurdink, van die danspassies tot die kleredrag, al het ons nie noodwendig ‘cool’ keuses gemaak nie,” bevestig vervaardiger en kitaarspeler, Brendan Campbell.

NIKS VERGELYK is die titelsnit van hulle opkomende album en volg in die voetspore van die emosiebelaaide treffer, Herinner My, wat uitstekend ontvang is en op die treffersparades van verskeie radiostasies landswyd gekuier het.

POSDUIF het beplan om hulle debuut-album verlede jaar vry te stel, maar die pandemie en inperkingsmaatreëls het hierdie planne in die wiele gery. Soos altyd het hulle dit reggekry om iets positief daarvan te maak en ’n album saamgestel waarop hulle regtig trots is.

“Die album bied ’n kombinasie van liedjies, wat jou sal laat saamsing of emosioneel sal maak. Dit is ’n versameling stories oor die lewe en elke liedjie het ’n dieper betekenis,” sê Boland. “Die idee was om ’n album te skep wat jy van begin tot einde kan luister, sonder om belangstelling te verloor. Daarom het elke liedjie ’n unieke klank en storie.”

 NIKS VERGELYK, wat op 28 Oktober uiteindelik bekendgestel word, beloof om eie te wees aan POSDUIF se klank en sal iets hê om elke oor tevrede te stel. “Elke liedjie wat ons ingesluit het, is vol en interessant en vertel stories waarmee luisteraars kan vereenselwig.”

Om hulle debuut-album behoorlik te vier en bekend te stel, sal die groep twee spesiale optredes doen. Die eerste een is op 28 Oktober by Heroes in die Kaap (Cape Gate-dekorsentrum, Nitida Avenue, Brackenfell) vanaf  xx, en die tweede sal by Daisy Jones Bar (Summerhill Wines, Stellenbosch) plaas vind op 31 Oktober 2021 vanaf 17h00.

POSDUIF is in 2018 gestig en het hulle debuut gemaak met die liedjie Brandy Special, wat meer as 300 000 trefslae op sosiale media gehad het. Sedertdien, het hulle ook Een vir My, Laat Val Die Water en Herinner My vrygestel en is hulle deur Bok Radio benoem as Groep van die Jaar en vir Liedjie van die Jaar.

Die groep bestaan uit Boland, Jordaan, Gopal, Campbell en nuweling, Nick McCreadie, op die dromme.

Ten spyte van die uitdagings wat die pandemie bied, bly die groep positief. “Ons is ongelooflik dankbaar om te kan doen waarvoor ons lief is en waardeer ons bewonderaars, radiostasies, luisteraars en almal wat agter die skerms werk se ondersteuning. Ons kan nie wag om saam met die publiek fees te vier wanneer alles verby is nie. Ons is lief vir ons land en sy mense en sien uit daarna om weer te kan optree wanneer inperkingsmaatreëls verslap word.”

NIKS VERGELYK (die enkelsnit) word op 23 September aan radiostasies vrygestel en is vanaf 30 September beskikbaar op alle digitale platforms.

 

LYS VAN SNITTE OP DIE ALBUM

  1. Laat val die Water
  2. Stellenbosch Somersaand
  3. Engeland
  4. Niks Vergelyk
  5. Valskerms
  6. Herinner My
  7. Braai Song
  8. Spinnekop 
  9. Wat van Jou
  10. My Gesin

Bonussnitte op die fisiese album:

  1. Brandy Special
  2. Een vir My

 

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook:  https://www.facebook.com/PosduifLive/

Instagram: @posduif_live

Twitter: @Posduif14

Webblad: https://posduif.live/

 

Skakel gereeld in na jou gunsteling stasie

Musical Venture Radio

Leave a Reply