Louis Geldenhuys wen harte met debuut-album!

Louis Geldenhuys se eerste enkelsnit, Harte in die Lug, is onlangs vrygestel en is baie hartlik deur die publiek ontvang, veral by die KKNK en Jamrock-teater in die Kaap, en kan gereeld oor die radio gehoor word. Nou is dié talentvolle ster terug in die kollig met sy debuut-album, met dieselfde naam, wat beloof om nuwe woema in die Suid-Afrikaanse Country-popgenre te blaas.

Net soos die titelsnit, is die album slim saamgestel om die mooiste lirieke en wysies te kombineer om ’n hoendervleismooi eindresultaat te verseker. “My gesin en verlange na die verhoog en musiekbedryf was die grootste inspirasie agter my eerste album. Ons werk al sedert 2016 aan die uitkies en opneem van liedjies wat deur verskeie talentvolle liedjieskrywers; soos Dennis East, Pierre Rossouw, Rudi Claase en Warren Grey Elliot; geskep is,” verduidelik die sanger. “Dit was vir my belangrik dat ek self van elke liedjie moes hou, omdat ek dit graag met gevoel wil vertolk. Ek hoop dat luisteraars ook, net soos ek, by die inhoud van die album sal aanklank vind.”

HARTE IN DIE LUG, ’n titel wat hy gekies het omdat dit net so uniek is soos sy musiekstyl, bestaan uit elf oorspronklike snitte wat wissel tussen opgewekte dansmusiek en dieper liefdes- en gospelliedjies. Volgens hom is dit moeilik om ’n gunsteling-snit te kies, omdat die inhoud so sorgvuldig saamgestel is, maar as hy egter een moes kies sou dit beslis Eenkeer wees. “Op die dag wat ek die liedjie ontvang het, het God met my gepraat en dit gebeur steeds elke keer wanneer ek dit sing,” verklap hy. “‘Sy’s ’n Vrou Wat Kan’ wat Dennis East vir my oor my eie vrou geskryf het, is ook baie spesiaal omdat hy dit reggekry het om haar so mooi vas te vang – in my oë kan sy alles doen, van karavaan sleep tot gate boor in die muur.”

Louis vertel verder dat Engel bo-aan sy kinders se speellys is, terwyl vriende en familie Vlamme die meeste geniet. “Ek wil graag hê dat mense my moet leerken vir wie ek is, deur middel van my musiek – ’n pa wat graag sy droom wil uitleef, sodat sy kinders kan trots wees op hom,” sê hy. “Met hierdie album, wil ek toer na elke hoekie van Suid-Afrika sodat almal my musiek kan hoor.”

Die opgewekte, meesleurende lekkerluisterwysie en vrolike liefdeslirieke van die titelsnit was die perfekte lusmaker vir dié album en is reeds ’n gunsteling op al wat ’n dansvloer is. Dit is geskryf deur Dennis East en gaan oor twee verliefdes wat enige plek en enige tyd hulle drome en wense met mekaar kan deel. Hulle is soos ballonne in die lug, wat deur die wind gedryf word tot waar hulle ’n paradys ontdek en waar liefde sal oorheers. ’n Musiekvideo vir dié vrystelling, word ook vir die nabye toekoms beplan.

Hierdie talentvolle musikant, met sy gesofistikeerde stem, kom van Welkom af en is al versot op musiek vandat hy kan onthou. “Ek het staaltjies gehoor dat ek in die kleuterskool op ’n stoel gestaan en Ruiter Van Die Windjie gesing het vir almal wat wou hoor,” gesels hy. Buiten vir koorsing, het Louis geen formele sangopleiding gehad nie, maar hy was vasberade om sy passie om mense te vermaak ’n realteit te maak. Na skool het hy gereeld by funksies en kroeë opgetree en is toe vir twee jaar Europa toe. Daarna het hy Drama gaan studeer by Nortlink College onder leiding van Nicole Holm en Albert Maritz.

“Ek kon ongelukkig nie my studies klaarmaak nie, want my pa is in 2007 oorlede en ek moes sy besigheid in Welkom oorvat. Tien jaar later, is ek getroud met my skoolliefde en het ons drie pragtige kinders,” deel hy. “So tussen die werk en kinders grootmaak deur, het ek bly hunker om weer te sing en moes ek ’n besluit neem. Deesdae woon ons in Blouberg en is ek weer voltyds op die verhoog.”

Sedertdien het hy ook al by verskeie feeste, soos die KKNK en die kykNET Buite Ekspo opgetree, en in 2018 ’n konsert gereël vir groot name in Mosselbaai, soos Nádine, Manie Jackson, Rudi Claase, Pieter Koen, Monique Steyn waartydens hy ook die geleentheid gehad het om saam met hulle te sing.

Louis het groot waardering vir lekker luister musiek met betekenis en meen dat dit geïnspireer is deur die sangers waarmee hy grootgeword het soos Bles Bridges, BZN, Jim Reeves en Albert Hummond. In die toekoms sou hy nog graag saam met talentvolle mense soos Johan Vorster wou werk as hy die kans sou kry en hy beplan ook om binnekort liedjies uit sy eie pen met luisteraars te deel.

Die sanger deel dat die laaste snit op die album, Laaste Liedjie, wat deur Rudi Claase geskryf is hom ook baie na aan die hart lê: “Dis ’n gospelliedjie wat ek opgedra het aan my Hemelse Vader, waarsonder niks sou moontlik wees nie.”

HARTE IN DIE LUG stel nie net die sanger se unieke stem en styl ten toon nie, maar is ook die begin van ’n splinternuwe hoofstuk van Louis Geldenhuys se musiekloopbaan… en Suid-Afrika gaan beslis nog baie van hierdie ster hoor.

Die album is beskikbaar op alle digtale platforms en kan hier aangekoop word: https://music.apple.com/za/album/harte-in-die-lug/1469362230

SNITTE OP DIE ALBUM

  1. Harte In Die Lug
  2. Engel
  3. Jy Is My Lewe
  4. Vlamme
  5. Sy’s ’n Vrou Wat Kan
  6. My Beloftes
  7. Ek Sal Jou Lief Hê
  8. Deur Jou
  9. Eenkeer
  10. Gee My Die Kans
  11. Laaste Liedjie

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/Louis-Geldenhuys-201436030619778/

Twitter: @L_Geldenhuys

Instagram: @louisrealll

 

Leave a Reply