Jan-Hendrik Swiegers sing oor sy tuisdorp in nuwe enkelsnit – Musical Venture Radio

Jan-Hendrik Swiegers sing oor sy tuisdorp in nuwe enkelsnit

Jan-Hendrik Swiegers en sy tuisdorp, Murraysburg, is tans op almal se lippe nadat hy vroeër vanjaar ’n musiekvideo op YouTube vrygestel het van ’n liedjie wat geïnspireer is deur sy liefde vir die Karoo en die plek waar hy vandaan kom.

“Dit is vir elke Suid-Afrikaner bedoel wat al ooit empatie gehad het met boere en die swaar tye waar deur hul dikwels moet gaan asook vir elkeen vir wie dit belangrik is om deel te wees van ’n hegte gemeenskap”, verklap die musikant oor die rede agter dié kitstreffer waarvan die video binne slegs twee maande deur meer as 75 000 mense op sosialemedia gesien is.

Hierdie ses-en-dertigjarige eiendomsontwikkelaar van die Paarl se diep stem is die perfekte pasmaat vir hierdie nostalgiese ballade uit sy eie pen. MURRAYSBURG is ’n interessante verwerking, met ’n moderne boere-country-aanslag, wat daaroor gaan om trots te wees op jou herkoms. Die snit se meesleurende wysie is nie net strelend op die oor en hartsnare nie, maar is ook een van daardie liedjies wat in jou kop bly vassteek – lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het. “Ek wou vir die inwoners van Murraysburg iets gee om op trots te wees, iets wat eie aan die dorp, sy mense en die omgewing is,” sê hy. “Buiten dit, wil ek hê dat my kinders, sowel as elke ander Suid-Afrikaner moet weet van hierdie ongelooflike dorpie, wat dit als bied, en watter spesiale gemeenskap dit is. Die lied is my manier om dit uit te basuin vir die wêreld.”

Dit het ’n week geneem om die beeldmateriaal vir die video bymekaar te kry, wat in Murraysburg self verfilm is. Jean de Villiers van Daville was aan die stuur van sake, maar die gemeenskap was ook baie betrokke tydens dié opname waarin bekende inwoners, insluitend Jan-Hendrik se vrou (Michelle) en kinders (Christiaan en Karien), ook te sien is.

“Soveel mense het ons gehelp, sonder om iets terug te verwag. ’n Oom het 800 skape in ’n kraal gejaag, net vir my video, en die waterval op sy plaas in die Sneeuberge is ook gebruik om die prentjie af te rond. ’n Ander boer het weer sy perdekar en perde beskikbaar gestel vir ons gebruik. Daar is ’n gevoel van liefde in ons dorp en almal wil graag saamwerk. Ek hoop dat hierdie liedjie net meer mense na Murraysburg sal lok,” sê Swiegers.

Die Swiegers-ouerhuis in Voortrekkerstraat, wat deur hulle pa aan hul nagelaat is en deesdae as vakansiehuis dien, verskyn ook in ’n toneel of twee. “Ons wou graag die huis behou om ons kinders aan die Karoo bloot te stel. Oor vakansies gaan rus ons in Murraysburg. Ek braai elke aand, drink sundowners saam met my vrou op die bult en ry saam met my seun motorfiets. Die huis is altyd vol vriende en familie wat die betowering van die Karoo wil ervaar,” sê hy.

Alhoewel hy homself nog lank nie as ’n professionele musikant beskou nie, vertel Jan-Hendrik dat hy sy liefde en passie vir musiek by sy oorlede pa, Gert, geërf het wat self ’n kitaarspeler was. Volgens die sanger, vermaak hy al vir die afgelope vyftienjaar sy vriende en familie om die braaivleisvuur en was hy verstom oor die kommersiële opslae wat sy eerste enkelsnit tot dusver gemaak het.

Omdat hy meen dat musiek die beste manier is om mense te laat weet hoe hy voel, skryf hy graag oor onderwerpe en sake wat sy hart raak en hoop dat dit êrens ’n verskil kan maak in mense se lewens. Wanneer hy musiek luister, is dit gewoonlik dieper ballades met min instrumente, en sy eie liedjies getuig ook hiervan.

Karen Zoid is vir hom ’n groot inspirasie en iemand saam met wie hy graag in die toekoms sal wil werk. “Ek sal graag saam met Karen ’n liedjie wil opneem op haar program. Verlede jaar het ek haar by ’n vertoning ontmoet. Na groot aansporing van my vriende, het ek toe op die verhoog gespring en saam met haar ‘Toe Vind Ek Jou’ gesing,” deel hy.

Buiten vir ’n paar nuwe liedjies, is hierdie veelsydige man ook besig met eiendomsontwikkeling en konstruksie in die Weskaap, by onder andere Val de Vie, en open hy ook binnekort ’n boetiekgastehuis in Murraysburg in ’n ou gedenkwaardige huis wat opgeknap is.

Jan-Hendrik Swiegers wil graag klein Karoodorpies bevorder met sy musiek. MURRAYSBURG is nie net die perfekte wegspringblok vir hierdie droom nie, maar gaan ook diep spore in die harte van luisteraars trap. Dit is die begin van ’n baie belowende loopbaan vir hierdie talentvolle kunstenaar.

 

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/SingerSongwriterMburg/

Twitter: @jan_swiegers

Instagram: @janhendrikswieg

Leave a Reply

%d bloggers like this: