Martin Bester wil net wees wie hy is, sonder toestemming! – Musical Venture Radio

Martin Bester wil net wees wie hy is, sonder toestemming!

Net wanneer jy dink dat Martin Bester jou nie nog meer kan beïndruk nie, verras dié veeslydige vermaaklikheidster en bekroonde radio-omroeper jou altyd met iets nuut en opwindend om jou dag te maak!

Sy splinternuwe enkelsnit, VIR DIE LIEFDE, is nie net so ’n aangename verrassing nie, maar beloof ook om baie vinnig ’n gunsteling te word op luisteraars se musiekspeellysies en op treffersparades regoor die land.

Hierdie polsende popliedjie, uit die pen van Martin, Dolf Willemse en Ewald Janse Van Rensburg, het ’n baie kragtige en inspirerende boodskap waarby oud en jonk sal aanklank vind. “Dis ’n baie persoonlike liedjie. Ek het oor die afgelope jaar weereens besef dat ’n mens partykeer ’n lyn in die sand moet trek. Nie almal gaan van jou hou nie en dis oukei, maar jy moet wees wie jy is en nie wie ander wil hê jy moet wees nie. Liefde sal altyd seevier, veral as jy eerlik is,” verklap die sanger oor die betekenis agter sy nuutste vrystelling. “Baie mense behoort hierdie snit te verstaan, want daar is baie druk op almal om ander tevrede te stel. Maar jy moet dit nie toelaat nie. Leef voluit en laat jouself toe om te voel, al is dit seer. Daar is ’n plek vir almal in die wêreld en jy moet net joune vind.”

VIR DIE LIEFDE volg kort op die hakke van sy vorige voetjeuklekker enkelsnit, Ek Het Geweet, ’n lekker popliedjie met ’n punk-rock aanslag, wat vreeslik goed deur die publiek ontvang is en steeds gereeld oor die radio gehoor kan word. Die musiekvideo, wat in Pretoria se middestad verfilm is, is ook reeds deur ’n paar duisend mense op YouTube gekyk. Buiten hiervoor, is die musikant ook veral bekend vir vorige treffers soos Wat weet ek tog, Ou Spoor en Sterre. “Ek wil hê my liedjies moet mense raak en dat hulle dit van toepassing moet maak op hulle eie lewens. Ek love dit as my musiek met iemand ‘praat’ op die dansvloer, op ’n road trip in die kar of selfs net alleen by die huis,” sê hy.

Kyk na die video van ‘Ek het geweet’:

Martin is een van die bekendste radiopersoonlikhede in die land, was al aanbieder van ’n paar televisieprogramme, waaronder Wie’s my Liefie op VIA en het ook klein rolle gehad in Afrikaanse rolprente soos Pretville, Vrou Soek Boer en Sonskyn Beperk. Kinky Robot, die groep waarvan hy die hoofsanger is, is benoem vir ’n SAMA en sy debuut solo-album, Vir Die Eerste Keer, is van die begin af goed ontvang. Die lirieke van Hobie Beach, Kinky Robot se eerste enkelsnit, is ook onlangs ingesluit in ’n Engelse handboek vir graadelfs.

Sy werk het hom al na interessante plekke, verhoë en geleenthede regoor die wêreld gestuur en die sanger is tans ook besig om die land plat te reis met sy Vir Die Liefde-Toer. “Toegang is gratis, maar ons vra wel dat konsertgangers ’n kombers of iets saambring vir minderbevoorregtes. Meer besonderhede hieroor is op my sosialeplatforms beskikbaar,” verduidelik hy.

Martin Bester se doel is om mense se harte met sy musiek te raak en met VIR DIE LIEFDE gaan hy nie net hierdie doelwit oortref nie, maar ook sy plek in die musiekbedryf verder verstewig. Dié enkelsnit sal gehore nie net bemagtig om te wees wie hulle is nie, maar ook lank in hulle koppe en harte bly nadat hulle daarna geluister het.

 

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/MartinBesterSolo/

Instagram: @martin.bester

Twitter: @MartinBester

 

Leave a Reply

%d bloggers like this: