Ghoema wenner stel nuwe solo album bekend!

Elkeen van ons smag die een of ander tyd na ’n nuwe begin… ’n tweede kans om ons drome waar te maak. STELLA se debuut solo-album, Nuwe Môre, verteenwoordig nie net die nuwe rigting waarin haar musiekloopbaan gaan nie, maar is ook iets waarby luisteraars sal aanklank vind. Die CD bestaan uit twaalf hoendervleismooi oorpronklike kontemporêre snitte, wat haar gevoelvolle stem komplementeer en selfs die kritieste oor in vervoering sal hê.

Dié talentvolle sangeres en liedjieskrywer is beslis geen nuweling in die musiekbedryf nie. Sy is deel van die gospelgroep, Duis:Lig, wat pas ’n Ghoema-toekenning vir Beste Gospel Album vir die tweede jaar in ‘n ry gewen het!

Haar eerste enkelsnit en musiekvideo, Nuwe Môre, is in April 2016 bekendgestel. Beide is ongelooflik goed ontvang deur radiostasies.  Die tweede enkelsnit, Deur Die Liefde En Die Seer, is geudrede Maart 2017 uitgereik en bou voort op die sukses wat sy reeds bereik het.

Sy is vreeslik opgewonde oor die vollengte album, wat op 28 April 2017, bekendgestel word en beskryf dit as modern en kontemporêr met ’n bietjie Pop- en Folk-elemente. Hulle werk al sedert 2013 aan die inhoud en sy vertel: “Ek wou liedjies insluit wat reflekteer wie ek is as kunstenaar en mens. Dit is ’n nuwe rigting vir my loopbaan en daarom is die titel gepas. Alhoewel ek die meeste van die liedjies self geskryf het, is daar ook ’n paar waaraan ek saam met Jake Odendaal gewerk het. Hy is ’n baie begaafde musikant en liedjieskrywer. Die grootste uitdaging was om my eie klank te vind. Ek hou van te veel goed en ’n mens moet balans vind tussen jou eie voorkeure en waarvan ander mense sal hou. Luisteraars kan uitsien na kwaliteit Afrikaanse musiek, met baie diepte en ’n verskeidenheid klanke. Een liedjie verklap nie die res van die album nie. Daar is iets vir almal om mee te vereenselwig. Ek wil hê dat my musiek mense moet hoop gee, dat dit hulle moet seën en laat goed voel.” Die Berge Blou is tans haar gunsteling, maar sy is ook mal oor Onthou Jy Nog omdat dit haar aan haar kinderdae herinner. Die album is beskikbaar op alle digitiale platforms, insluitend iTunes, Apple Music, Google Play Music en MiTracks.

Alhoewel sy reeds nege jaar professioneel sing en liedjiesskryf, het haar groot deurbraak eers gekom toe sy en Hennie Maritz Duis:Lig begin het.  Net soos haar uitsonderlike, veelsydige stem, is STELLA ook ’n vrou van vele talente en met baie hooi op haar vurk. Wanneer sy nie haar lyf musikant hou nie, is sy ook boervrou op hulle plaas in Carolina en ma van ’n agtmaande oue dogtertjie. Sy is ook mede-bestuurder van hulle gastehuis en trou-venue, Acorn Guest Farm.

Die musiekbedryf het haar oor die jare geleer om geduldig te wees en jouself te omring met die regte span mense. Sy moes al baie groot uitdagings oorkom in haar persoonlike en professionele lewe en fokus daarop om ’n goeie, gelukkige, gesonde leefstyl en gesinslewe te hê. “Ek beleef hoe God vir my al die regte deure oopgemaak het op die regte tyd, voel gereed hiervoor en wil maar net my ding doen. Optree, weer skryf en opneem, aan die STELLA-handelsmerk bou en saam met Duis:Lig te bedien met lof en aanbidding,” sê sy oor die toekoms. Net soos Hans Christian Anderson, glo STELLA dat musiek praat waar woorde nie genoeg is nie. Haar eie musiek getuig juis hiervan en ons kan nie wag om te hoor wat sy nog in die toekoms wil deel nie…

LIEDJIES OP DIE ALBUM
Deur Die Liefde En Die Seer (Stella & Jake Odendaal)
Die Berge Blou (Stella & Jake Odendaal)
Nuwe Môre (Stella & Jake Odendaal)
Dagbreek (Stella)
Hoop In Liefde (Stella)
Limbo (Stella)
Onthou Jy Nog (Stella)
Carry You (Stella & Jake Odendaal)
Wonderwerk (Stella)
Suid-Afrika (Stella, Rixi Roman, Jake Odendaal)
Uit Die Mond Van ’n Boom (Stella)
Words (Stella & Jake Odendaal)
Nuwe Môre (Akoestiese weergawe)

Kyk na ‘Nuwe Môre’ hier:

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/StellaMusiek/

Twitter: @StellaCombrink

Instragram: @stellacombrink

Leave a Reply

%d bloggers like this: