‘Super Sokkie’ – As jy rustig wil sit en kuier, is dié een dalk nie vir jou uitgeknip nie!

Enige dans het seker die potensiaal om een vir die boeke te wees, maar met die name wat op “Super Sokkie” kom saamkuier, kan jy met sekerheid weet dat dié een, een van legendariese proporsies sal wees!

Kurt Darren, Modern Talking, Steve Hofmeyr, Brendan Peyper, Ray Dylan, Gerhard Steyn, Die Campbells, Dozi en talle ander eersterangse kunstenaars sorg vir ‘n speellys wat voetsole oraloor met ‘n goeie skoffel aan die brand sal kry.

Die album beslaan 20 oorspronklike enherwerkte plaaslike-, sowel as internasionale gunstelinge soos “Going back west”, “Kaptein”, “Summer of ‘69”, “Pampoen”, “Queen of hearts”, “Drie pikkewyne” en “Bad moon rising” – nagenoeg ‘n uur-en-‘n-kwart se verskeidenheid treffers wat van die 80’s tot nou opslae gemaak het.

Dis ‘n hoë-energie album, met net ‘n Klipwerf-“Midnight special” wat so na die middel se kant toe sorg vir ‘n lekker rustige twostep om bietjie asem te skep!

 “Super sokkie” doen sy naam gestand en is beslis nie vir diegene wat verkies om net rustig agteroor te sit en kuier nie. Dié ding vrá om gedans te word!

Die album is nou landswyd beskikbaar.

Leave a Reply

%d bloggers like this: