Notice: Function _load_textdomain_just_in_time was called incorrectly. Translation loading for the radio-station domain was triggered too early. This is usually an indicator for some code in the plugin or theme running too early. Translations should be loaded at the init action or later. Please see Debugging in WordPress for more information. (This message was added in version 6.7.0.) in /home/lksjumsw/public_html/wp-includes/functions.php on line 6114
Ruhan du Toit se nuwe enkelsnit, ‘onumentaal’ – Groot lied werp nuwe lig op Afrikaner se monumentale oomblikke – Musical Venture Radio

Ruhan du Toit se nuwe enkelsnit, ‘onumentaal’ – Groot lied werp nuwe lig op Afrikaner se monumentale oomblikke

Na bykans 2 000 km en 5 dae se reis oor Suid-Afrika is die Afrikaner-monumente vasgevang soos nog nooit tevore nie. Dít vir die Afrikaanse sanger Ruhan du Toit se nuwe musiekvideo en snit, Monumentaal, wat ’n terugblik gee op die Afrikaner se geskiedenis.

Ruhan, voorheen lid van Touch of Class, het die land aan sy lippe gehad met sy weergawe van die treffer, Sound of Silence. Hy sal ook herken word as een van die vyf manlike sangers wat die lied, Die Land, gesing het.

Na bykans twee jaar se produksie saam met Coleske Artists is sy langverwagte solo album, Monumentaal, uiteindelik binnekort beskikbaar en die titelsnit het mense aan die gons.

Die hoofdoel agter die snit is om opnuut ’n identiteit by die Afrikaner aan te wakker. Dit is asof daar ’n hopeloosheid onder baie Afrikaners broei wat verbreek moet word. Ek glo dit is nodig dat ons weer ons verlede moet onthou en trots daarop moet wees, sodat ons in geloof aan ’n toekoms kan bou,” vertel Ruhan oor die titelsnit van sy 15-snit album wat 31 Julie landwyd beskikbaar sal wees.

Met die verfilming van die musiekvideo het Ruhan besluit om tien van die Afrikaner se mees merkwaardige landmerke te gaan besoek. Op sy roete het hy die Voortrekker Monument, die Paul Kruger Monument op Kerkplein asook die Paul Kruger Gereformeerde Kerk in Pretoria besoek. Hy was ook by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein, die Sarel Cilliers Gedenkteken in Kroonstad, die Slag van Bloedrivier Erfenisterrein in Dundee, Susanna Catharina (Maritz) Smit (bekend as die Kaalvoetvrou) se standbeeld in Bergville, die Paardekraal Monument in Krugersdorp en die Majuba Boereoorlog Monument in Volksrust.

Die laaste erfenisjuweel is die simbool van die familie-Bybel, wat vir my ons belangrikste en grootste monument is. Ons geloof was en moet steeds die beweegrede agter ons grootste monumentale oomblikke wees,” voeg hy by.

Die musiekvideo kan nou op YouTube gekyk word:

Dr. Ehrhard Visser van Pretoria wat onlangs sy Ph.D navorsing in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria op die onderwerp van die Afrikaner subjek posisie in die “nuwe” Suid-Afrika gedoen het, dink Ruhan het ’n punt beet. “Afrikaners bevind hulself vandag in ’n identiteitskrisis en het nodig om weer te kan steun op iets wat hulle trots maak om ’n Afrikaner te wees,” vertel hy. “’n Fundamentele bousteen van enige persoon se identiteit is hul persepsie van waarvandaan hulle kom. ’n Wanpersepsie het stelselmatig onder Afrikaners ontstaan oor wie en wat hulle is. Dit word versterk deur uitlatings in die media sowel as nasionale beleid.”

Hy stem saam met Ruhan dat die Afrikaner se monumentale oomblikke uitstekende inspirasie kan bied om weer ’n trots in die Afrikaner se identiteit te vestig. “Die Afrikaner se geskiedenis is vol van helde en gebeure wat trots kan aanwakker. Dit vertel die verhaal van ’n groep mense wat nooit teruggestaan het vir enige bedreiging nie, wat die land se grond bewerk het en doelgerig gebou het aan ’n toekoms – diep gewortel in hul geloof,” sê Visser.

Monumentaal het aanleiding gegee tot die Ons is Monumentaal-inisiatief wat Ruhan pas saam met Solidariteit Helpende Hand van stapel gestuur het om kulturele armoede te verlig.

Helpende Hand besef dat fisiese armoede nie die enigste armoede is wat ondervind word nie. Ons weet ook daar is geestelike en kulturele armoede. Daarom is dit vir ons ’n voorreg om deel van die liedjie en inisiatief te wees. Dit spreek kulturele armoede aan. Ons weet die fisiese armoede verniel mense tans. Ons weet ons is nog nie naby die stert van die nuwe koronavirus (Covid-19) en die impak daarvan nie, daarom is dit belangrik om mense ook toekomshoop te gee en ’n liedjie soos Monumentaal herinner ons aan die tye waardeur ons al is en wat die Afrikaner kan verrig. Monumente wys ons om nie te vrees nie, maar om vorentoe te kyk en met hoop en geloof die toekoms te gemoed te stap,” sê Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur.

Saam met hierdie inisiatief wil Ruhan mense verder aanmoedig om die monumentale oomblikke van hul lewens te begin vier. “Ek nooi mense uit om ’n foto van ’n monumentale oomblik in jou lewe te kies, en dit jou Facebook-profielfoto te maak. Gebruik die Monumentaal-raampie bo-op die profielfoto om só jou trots te begin dra en die mense om jou te laat dink oor hulle eie trots,” vertel hy. Die Facebook-raam kan hier afgelaai word: https://bit.ly/MonumentaalRaam

Monumentaal kan vanaf vandag, 17 Julie, op alle stromingsdienste (“streaming services”) geniet word.  Klik hier:  https://AIG.lnk.to/MonumentaalMB  Kyk ook uit vir die volledige album wat einde Julie oral te koop sal wees.

 

Sosiale media

Facebookhttps://www.facebook.com/RuhanduToitt/

Instagramhttps://www.instagram.com/ruhandutoitt/

Twitterhttps://twitter.com/ruhandutoit82

 

Luister gereeld na jou stasie:

Musical Venture Radio

Leave a Reply