Hennie de Bruyn & die kitaarkerels – ‘Bosveld Kitare’

hennie

Lus vir ʼn wegbreek Bosveld toe? Jy kan – deur net jou ore te spits…

Sedert 2004 wikkel musiekliefhebbers op die maat van Hennie de Bruyn & Die Kitaarkêrels se eiesoortige snaarvernuf.

Daar is al 23 CD’s en drie DVD’s. Vyf albums en ʼn DVD het reeds goue status bereik en een album spog met platinumstatus. Die musikante se kitaarvaardigheid is met talle Tempo-, Ghoema- en SAMA-benoemings erken. Hul vorige album, Weskussnare, is vanjaar in die instrumentale afdeling benoem.

En hier is die trio se splinternuwe opskopalbum: Bosveldkitare! Sommer van die titelsnit al word luisteraars deur dié manne se unieke Boeremusiek-aanslag oorrompel: reguit dansvloer toe. Hul kenmerkende drievinger-aanslag, soos vervolmaak deur die legendes Jan Brits en Chris Oberholzer, is die tegniek waarmee die musikante hul unieke klank skep.

OORSPRONKLIKE KOMPOSISIES

Die album bevat 18 snitte; drie daarvan tradisionele verwerkings van Hans se gemmerdans, Fraulien en die Shannonwals. Al die ander snitte is oorspronklike komposisies uit Hennie – wat ook leier- en ritmiese baskitaar speel – se pen. Jannie Ludick (leier- en ritmekitaar) en Dawie Beukes (baskitaar) voltooi die trio, wat onderskeidelik op Henley on Klip, Randfontein en Alberton woon. 

MUSIEK WAT DIE LEWE VIER

Die vreugdevure gloei warm in die titels. Daar is vastrappe, setiese, boogies en walse. Die kitare besing die Bosveld se waterstrome, skop gat onder die Kareeboom, trap spore verby Kromdraai en skommel sorgeloos om die lente te vier.

Die kenmerkende passievolle manier waarop hulle klanke kombineer, vind wyd aanklank. Elkeen van die voetjeuk-lekker snitte op die CD  het ’n gemaklike styl en klank wat die luisteraar as’t ware Bosveld toe nooi.  Jy deel in die prag van die landskap, die vreugde van die mense, die nostalgie en  die melancholie.

Dis kuiertyd in die Bosveld! Kom, vier die lewe!

Leave a Reply

%d bloggers like this: