Jacques en Liezel moedig luisteraars aan om op God te vertrou met hul hartroerende lied, ‘Vashou’.

“Om in alle tye en omstandighede op te kyk na God en vas te hou aan waar ons hulp vandaan kom,”Jacques en Liezel oor die inspirasie en betekenis agter hulle nuwe enkelsnit, VASHOU.

Volgens dié talentvolle duo, wat vanjaar vir vyf Afri-Indie Onafhanklike Musiektoekennings benoem is, is hierdie kontemporêre geestelike snit geskryf om vir luisteraars hoop te gee in moeilike tye.

“Ons is self deur diep waters gedurende inperking en het besef dat God die enigste anker is waaraan jy kan vashou in sulke tye,” deel hulle. “Daar is mense wat so baie verloor het in hierdie afgelope twee jaar. Maar ten spyte van wat die lewe na jou kant toe gooi, wil ons graag vir mense sê dat as jy vir God het, jy alles het wat nodig is.”

Hulle nuutste vrystelling is oudergewoonte deur Jattie de Beer van Artistry Productions vervaardig en word vergesel deur ’n pragtige musiekvideo wat die boodskap van die lied perfek vasvang.

Die video sal op 18 Maart 2022 vrygestel word. Dit is in KwaZulu-Natal verfilm deur Huntsman se Adriaan Venner Scheepers en die paar is dankbaar dat die natuurelemente saamgewerk het om die perfekte eindresultaat te skep.

VASHOU volg in die voetspore van Uit My Hande en Wonder van Kersfees wat beide goed ontvang is en goed presteer het op treffersparades regoor die land.

Sedert Jacques Schoeman en Liezel Marshall in November 2021 hulle debuut in die musiekbedryf gemaak het, het hulle nog net van krag-tot-krag gegaan.

Dié musiekpaar, wat op Facebook ontmoet het, is reeds volstoom aan die gang vir die jaar en beplan om binnekort hulle eerste Engelse country-liedjie vry te stel. Verder is hulle ook besig om hulle eie besigheid op die been te bring, nuwe liedjies te skryf en lewendige optredes te reël.

Buiten vir musiek, geniet Jacques dit om ou motors te restoureer, tyd saam met sy seuntjie te spandeer en om saam met sy vriende te braai.

Liezel was vir ’n paar jaar deel van die groep Onbeskaamd en het al ’n Ghoema-benoemde album op haar kerfstok. Wanneer sy nie musiek maak nie, hou sy van perdry en fotografie en kuier sy ook graag saam met vriende.

VASHOU het begin as ’n gedig om hoop en moed te gee in moeilike omstandighede en het gegroei tot ’n volwaardige lied wat die potensiaal het om lewens te verander.

Dié hartroerende snit is nou aanlyn beskikbaar, kry dit hier: http://tinyurl.com/JACQUESLIEZEL-VASHOU

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook –  https://www.facebook.com/JacquesLiezel

Instagram – @jacquesliezelmusic

YouTube – https://www.youtube.com/channel/UCap744cllbJPUaVrdGoM3ZQ

TikTok – https://vm.tiktok.com/ZSe2DUjED/

 

Luister gereeld na jou gunsteling stasie

Musical Venture Radio

 

Leave a Reply