Sanet Lambrechts moedig luisteraars aan om net hulself te wees in nuwe enkelsnit, ‘Binne En Buite’.

Sanet Lambrechts is ’n gesoute sanger en liedjieskrywer van Namibië wat sedert 2013 al diep spore in die Afrikaanse musiekbedryf getrap het.

Op ses-en-veertig spog sy reeds met drie ATKV-toekennings, vier suksesvolle albums, treffers op Suid-Afrikaanse, Namibiese, Japanese en Amerikaanse radiostasies en ’n temalied vir die kykNET-program, Sing in Harmonie.

Sy is doelgerig om mense met haar musiek te bereik en daarom het sy pas ’n splinternuwe enkelsnit uitgebring wat beslis die sukses van sy voorgangers gaan oortref.

BINNE EN BUITE, uit die pen van Julanie J, gaan oor hoe mense hulleself van ander isoleer deur nie te wys wie hulle regtig is nie. “Soms voel ’n mens geïsoleerd tussen ’n klomp mense omdat hulle jou nie waarlik ken nie, en ander kere staan jy verstom oor wat jy in iemand anders raaklees sonder dat hulle iets sê,” verduidelik die sangeres. “Ek het Julanie J gevra om vir my ’n liedjie hieroor te skryf en was baie tevrede met wat sy vorendag gekom het, omdat dit nuut en vars is en lekker val op die oor.”

Hierdie popsnit, wat deur Gideon Botes vervaardig is, spog met ’n lekker polsende ritme en sal aanklank vind by luisteraars van alle ouderdomme.

’n Musiekvideo van die liedjie sal ook binnekort beskikbaar wees en word op 25 Februarie vrygestel.

 BINNE EN BUITE volg in die voetspore van drie 2020-vrystellings, Sien Jy Nie, Alles Wat Jy Is en Hemelse Vader wat baie goed ontvang is en deel vorm van haar digitale album (Alles Wat Jy Is) wat ook gedurende inperking uitgereik is.

Vir Sanet, wat op ’n plaas in Gobabis grootgeword het, is sing soos asemhaal. Sy het reeds op skool begin met musieklesse en -opleiding en het gereeld opgetree as agtergrondsanger vir groot sterre soos Bles Bridges, Manuel Escorio, Ronnie Belcher, Hessel van der Waldt en meer as hulle in Namibië getoer het.

Buiten vir musiekkwalifikasies in verskeie instrumente, teorie en sang van Unisa en Trinity College, het sy ook grade in Afrikaans en Sielkunde, asook ’n nagraadse diploma in Onderwys.

Na skool was sy betrokke by M Factor, ’n gewilde musiekgroep in Windhoek, en het sy ook as musiekonderwyser gewerk om die pot aan die kook te hou.

Sanet beskryf haarself as ’n geestelike en sekulêre sanger met ’n sterk stem wat goed werk vir popmusiek. Sy het groot bewondering vir musikante wat uniek en kreatief is en vind aanklank by Riana Nel, Theuns Jordaan, Karen Zoid, Steve Hofmeyr, Amanda Strydom en Anna Davel se musiek. Sy sal ook graag eendag saam met Joshua na die Reën, Len Muller, Janie Bay en Die Heuwels Fantasties wil werk.

Oor die jare, het sy heelwat loopbaanhoogtepunte behaal, waaronder twee ATKV-bekroonde albums (Rooi Kalaharisand en Dorsland), verskeie musiektoekenningbenoemings en talle radiotreffers plaaslik en oorsee. Sy is ook 2020 aangewys as die Namibiese Vroue Vereniging se Kunstenaar van die Jaar en het al die voorreg gehad om die verhoog met talle groot name te deel, waaronder Lianie May, Theuns Jordaan, Elvis Blue, Nianell, Loyiso, Gerhard Steyn, Louis Brits en vele meer.

 Die grootste les wat sy geleer het in haar musiekloopbaan, is om nederig en dankbaar te bly en aan te hou sing – want waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. “Ek voel geseënd en dankbaar vir alles wat ek al op my pad bereik het en moontlik nog gaan bereik,” deel sy.

Tans woon sy op ’n plaas buite Windhoek, waar sy aan haar kreatiwiteit vrye teuels kan gee om aan haar musiek en ander toekomsplanne, wat ’n kortfilm-projek vir VIA insluit, te werk en na hartelus voor te berei vir haar verhoogoptredes.

Met BINNE EN BUITE gaan sy beslis haar plek in musiekharte verstewig en weereens wys hoekom sy reeds so gewild is.

Die liedjie is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Laai dit hier af:

 

Spotify

https://open.spotify.com/album/6yxlnlk0Rb4RZgmN2yjAGo?si=baUA2t9QSDeIFgjXFAG6Ng

 

Apple Music

https://music.apple.com/za/album/binne-en-buite-single/1608804729

 

YouTube Music

https://music.youtube.com/watch?v=P2ET3xR7kEk&feature=share

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/SanetMusic/

Instagram: @SanetMusic

Twitter: @SanetMusic

YouTube: Sanet Lambrechts – YouTube

TikTok: @sanetmusic

 

Luister gereeld na jou gunsteling stasie:

Musical Venture Radio

 

Leave a Reply