Ray Dylan vier Theuns Jordaan en die liefde met ‘n nuwe enkelsnit uit sy pen!

“Ek het hierdie liedjie vir ’n groot mentor in my lewe, Theuns Jordaan, geskryf om op te neem wat hy nooit kans gekry het om te doen nie. Omdat dit goeie reaksie uitgelok het op konserte, het ek dit voor sy afsterwe opgeneem en om dit nou te kan vrystel, beteken vir my ontsettend baie. As ’n mens mooi luister sal jy die Theuns-aanslag hoor,” verklap die SAMA-bekroonde musikant and liedjieskrywer, Ray Dylan, oor sy nuutste enkelsnit wat pas vrygestel is en reeds besig is om soos ’n veldbrand te versprei.

VIR EENS IN MY LEWE is ’n Afrikaanse popsnit uit sy eie pen en is ’n liedjie wat beklemtoon hoe belangrik liefde en stabiliteit in ’n mens se lewe is. ’n Tema wat veral hierdie maand relevant is.

“Die liedjie gaan oor ’n persoon wat ’n definitiewe rigting in hulle lewe gevind het. Enigiemand beleef soms wankelrige tye en hierdie snit beskryf hoe iemand in hierdie posisie beslissing/ rigting in hulle lewe gekry het,” verduidelik hy. “Ek skryf altyd uit lewenservaring en hierdie is maar net nog ’n voorbeeld van my lewe. Vir eens in my lewe weet ek wie ek is.”

Die musiekvideo is by Photo Factory in Boksburg verfilm en die produksie is deur Vonk Musiek en CoolerBox Brothers behartig.

“Die venue het verskillende stelle op een perseel en dit het ons werk baie maklik gemaak. Die verste wat ons moes loop om by die volgende plek uit te kom, was 100m,” verklap die vervaardigers oor hoekom hulle die venue gekies het.

Nadat Ray en die span daaroor gesels het, het hulle besluit om ’n optrede-video te maak, sodat aanhangers die liedjie ten volle kan geniet en lekker daarop kan dans wanneer dit op die kassie verskyn.

Kyk die video hier:

Ray Dylan – Vir Eens In My Lewe – YouTube

VIR EENS IN MY LEWE volg in die voetspore van sy emosiebelaaide treffer, Laaste Groet, wat steeds op verskeie treffersparades pronk, asook By Jou Voete Lê wat dansvloere laat gons het oor die afgelope paar maande.

Ray is al vir meer as drie dekades in die musiekbedryf doenig en is veral bekend vir treffers soos Hokaai Stoppie Lorrie, Dis Verby, Jessica, Hier binne klop ’n Boerehart, Angel-face, You’re My Everything, Vir Ewig Jonk, Uitbasuin, Hier Teen Jou Lyf en meer.

Sedert hy op die ouderdom van twaalf saam met Bles Bridges begin optree het, het hy die kuns vervolmaak om met Afrikaners se harte te praat en verskeie goue- en dubbelplatinumstatus-albums en -liedjies uitgereik.

Tans werk hy aan twee nuwe albums wat hy binnekort wil uitreik en geniet hy dit om weer voor gehore te kan optree.

VIR EENS IN MY LEWE is ’n treffende liedjie wat twee top-kunstenaars se style kombineer en dadelik in jou kop vassteek. Dit nooi jou uit om saam te neurie en te onthou dat die lewe uitwerk soos wat dit moet.

Laai dit hier af: https://linktr.ee/raydylan

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebookhttps://www.facebook.com/raydylan

Instagram – @raydylanmusic

Webbladwww.ray-dylan.co.za

 

BESPREKINGS:

RDM PROMOSIES

Jessica Dylan-Jersich

Sel: 084 561 1865

E-pos: jessica@ray-dylan.co.za

 

Luister gereeld na jou gunstelingadio

Musical Venture Radio

 

Leave a Reply