Logan Pietersen is ‘n vars nuwe talent om dop te hou!

Die nege-en-twintig-jarige musikant, Logan Pietersen, van Naboomspruit werk al vir ’n dekade in die musiekbedryf, maar het pas eers sy debuut-enkeslnit, 3 WEKE, bekendgestel. Hierdie liedjie, wat net so lekker luister op die langpad as op die dansvloer, plaas hom stewig in die kollig en maak van hom ’n vars nuwe talent om verseker dop te hou!

Hierdie nuwe uitreiking sal deur oud en jonk geniet word omdat dit gebaseer is op ’n ware gebeurtenis waarmee almal kan vereenselwig.

Verhoudings werk nie altyd uit nie en kan jou op ’n mallemeule van emosies en ervarings neem waaruit jy baie oor jouself en die lewe kan leer.

Met hierdie liedjie kyk hy terug na ’n verhouding wat vir hom baie beteken het, maar wat nie bedoel was om te wees nie.

“Ek het tydens ’n jaarlange verhouding met ’n spesiale meisie, alles herleef wat ek ervaar het in my vorige verhoudings (oor ’n tydperk van sewe jaar). Sy was ’n pragtige toets wat vir my gestuur is om my te laat besef waaraan ek nog moet werk en waar sy ook nie reg was vir my nie. Dit was seer, want ’n mens raak lief vir alles van die persoon en wil dit so graag maak werk,”  vertel hy oor die betekenis agter 3 WEKE, wat deur Fanie Pieterse van Forge Media en Estian le Grange van Jo Black Band vervaardig is. “Alles in die lewe word bepaal deur die regte tydsberekening en om dit te aanvaar is die belangrikste.”

“Die lied beteken vir my baie en het my gehelp om vrede te vind nadat my verhouding tot ’n einde gekom het. Ek het dit reeds begin skryf toe ons nog saam was en dit vir my onmoontlik gevoel het om met haar te kommunikeer en ek graag wou sê hoe ek voel. Aanvanklik sou ek ’n Engelse lied opneem, maar daai dag in die ateljee het die liedjie homself gekies en hier is ons nou,” verduidelik hy.

Daar is ook ’n musiekvideo op pad vir hierdie besonderse snit en dit sal binnekort uitgereik word.

Logan is die oudste van drie kinders. Alhoewel hy mal is oor die natuur, was musiek nog altyd sy grootste passie en was dit nog altyd deel van sy lewe.  Loopbaan-hoogtepunte sluit in om deur te dring na die Top 96 van seisoen drie van The Voice SA en die Top 46 van Maak My Famous. Hy het ook twee oudisies geslaag om Suid-Afrika te verteenwoordig in New York in 2020, maar kon weens die Covid-19 pandemie nie hierdie droom verwesenlik nie.

“My grootste uitdaging sover, was om my sussie te verloor in die tyd wat ek deelgeneem het aan The Voice SA. Sy was die een wat my aangespoor het om dit te doen en ewe skielik was sy net weg. Ter ere van haar nagedagtenis het ek besluit om nie moed op te gee nie en wel deel te neem,” deel hy.

Omdat hy ’n groot hart het vir mense en hulle graag wil help, fisies en deur sy musiek, beplan hy om binne die volgende vyf jaar sielkunde te begin studeer wat hy graag as ’n tweede beroep wil beoefen. Hy is ook besig om sy tweede enkelsnit op te neem, die kitaar te bemeester en vertonings te beplan noudat kunstenaars weer mag optree.

 

3 WEKE is nou aanlyn op alle digitale platforms beskikbaar. Kry dit hier:

Apple Music: https://music.apple.com/za/album/3-weke/1583605348?i=1583605349&ls

Spotify: https://open.spotify.com/track/0AG6kmLaGeCtaVZznmbBUW?si=RRGRvkQYR1CWzeIdDO4XWw&utm_source=whatsapp&dl_branch=1

Deezer: https://deezer.page.link/9jvuihJTwjGBUKFj9

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/profile.php?id=100045252295855
Instagram: @l_o_g_a_n_29

 

Vir jou gunsteling stasie, luister gereeld

Musical Venture Radio

Leave a Reply