ELANDRÉ SE NUWE ALBUM – ‘N RUGSAK PROPVOL LEWENSLES… EN LEWENSLUS!

Sy eerste album het binne ‘n oogwink platinumstatus bereik, sy eerste enkelsnit van sy tweede, goue album, dubbel-platinumstatus en met sy splinternuwe derde album, Rugsak, is Elandré sak-en-pak op pad na die volgende bergpiek.

Sommer so uit die staanspoor is een ding duidelik: Hierdie is nié ‘n album wat homself steur aan norme en konformiteit nie. Hy’t sy eie, kleurryke idees oor hoe musiek, mense, verhoudings en die wêreld behoort te lyk en werk.

In die elf snitte wat die album beslaan is daar, eie aan Elandré, ‘n onmiskenbare sorgeloosheid in liriek en melodie, maar ook ‘n baie diep wysheid en perspektief wat, op ‘n amper speelse wyse, dinge soos identiteit, selfbeeld, karakter, egtheid, die liefde, drome, uitdagings, inspirasie, ambisie en vernuwing uitpak en bekyk.

Dis juis daarom dat die titelsnit – wat ‘n hele rugsak vol kosbare lewenslesse noukeurig in ‘n snit met ‘n sterk akoestiese ondertoon blootlê – so gepas is.

Die ander snitte op die album – soos Waar die wind my waai, Binne en buite, Lemmetjieboom, Musiek, Mode, Net-net genoeg, Land of sand en ook die Engelse nuutskepping, Jungle – komplementeer dit uitstekend. Elandré se barritonstem, wat allermins bang is om die hoë registers ook moeiteloos te verken, word fantasties beklemtoon teen die agtergrond van eteriese harmonieë, sterk baslyne, polsende ritmes, unieke en onvoorspelbare progressies, elektroniese- en selfs simfonieklanke.

Dis ‘n baie diverse album propvol nuutskeppings – een wat jou saamnooi op ‘n sielsdiepe staptog, maar homself tog nie te ernstig opneem nie. Een wat belangrike dinge praat, maar nie skroom om ‘n draai by ‘n goeie kuier, en nou en dan selfs op die dansvloer, te maak nie!

“Ek is geleer dat ons elkeen die lewe deurgaan met ‘n rugsak. ‘n Spreekwoordelike bêreplek vir die klippe wat jy op jou lewenspad vind”, sê Elandré. “Dit is in die stilte van ‘n pandemie dat ek die geleentheid geneem het om my eie rugsak om te keer, te analiseer en te vereer.”

DIE ALBUM EN NUWE MUSIEKVIDEO BESKIKBAAR VANAF 26 MAART
______________________________

 

 

Luister gereeld na jou gunsteling stasie

Musical Venture Radio

Leave a Reply