Rita Li is terug met ‘n splinternuwe enkelsnit, ‘Iemand Anders’

Sy is optimisties, energiek en positief.  Opregtheid straal uit haar uit en wanneer jy vir die eerste keer in daardie potblou oë van haar kyk kan jy nie anders as om die deernis en omgee vir  ander  in  haar  raak  te  sien  nie.  Dít is  RITA LI, die blonde sangeres wat al sedert die vrystelling van haar eerste enkelsnit, My Eerste My Laaste, 18 maande gelede, harte regoor Suid-Afrika verower.

En nou kom bederf sy ons wéér met ‘n splinternuwe enkelsnit, Iemand Anders.  Dié Afrikaanse popliedjie wat pas vrygestel is, is geskryf deur Dewald Wasserfall en Danny Smoke en gaan oor ’n liefdesdriehoek en al die emosies en worsteling wat daarmee gepaard gaan.

“Danny Smoke het een aand ’n fliek gekyk waarin die vrou haar man verkul het en hy wou die emosie hiervan vasvang in ’n liedjie, wat hy toe die volgende dag saam met Dewald Wasserfall geskryf het,” verduidelik die sangeres. “Elkeen van ons het al voor ’n keuse in ons lewe gestaan wat betrekking het op ’n verhouding. Almal van ons wil geliefkoos word, êrens hoort en passievol begeer word deur ons lewensmaat. Wanneer ons dit egter nie in ons verhoudings kry nie, gaan soek ons daarvoor – meestal op die verkeerde plek. Ek het gesien hoe die regte besluit jou kan laat blom en ’n inspirasie kan wees vir iemand anders wat dit dalk moeilik vind om reg te kies, maar ek het ook al gesien hoe dit jou totaal kan verwoes en hoe dít wat só idillies lyk, soms net ’n masker is waaragter ons wegkruip om ons eie foute weg te steek.”

Die musiekvideo vir die liedjie word op 26 Februarie 2021 vrygestel, maar meer as dit wil die sangeres nie verder verklap nie.

Iemand Anders is die eerste vrystelling vanaf haar komende album, ROEKELOOS VERLIEF, wat op 9 April 2021 bekendgestel sal word en groot dinge word vir hierdie enkelsnit en opkomende album voorspel waarvan die produksie deur die gesoute vervaardiger Murray Lubbe hanteer is.

RITA LI is ’n plaasmeisie van Clocolan in die Vrystaat, maar woon deesdae saam met haar man en seuntjie in Pretoria.  Sy kan nie net sing nie, maar ook klavier en dwarsfluit speel en het selfs ‘n afrigtingskwalifikasie in tapdans behaal.

Na haar studies het sy vir tien jaar lank as sportfisioterapeut gewerk voordat sy haar praktyk verruil het vir die mikrofoon.

Oor haar toekoms is sy optimisties en opgewonde:  “Ek is reeds besig om te beplan aan my volgende album, ’n landswye toer en verskeie plaaslike vertonings. Verder is my eie klerereeks en aanlynwinkel ook op die kaarte. Ek wil ek ook graag hê dat my musiek mense se harte moet raak en wil ek aanhou om die stories te deel wat oor my pad kom.”

Iemand Anders is die perfekte kombinasie van treffende lirieke en ’n meesleurende deuntjie, wat haar stem op sy beste laat vertoon en luisteraars uitnooi om saam te sing. Dit is verseker ’n lekker voorsmakie van wat luisteraars van haar nuwe album kan verwag en van die kwaliteit musiek wat sy nog met haar aanhangers gaan deel.

Die liedjie is nou hier op alle digitale platforms beskikbaar en die album kan ook reeds hier vooraf bestel word:
https://AIG.lnk.to/IemandAndersMB

 

SOSIALE MEDIA SKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/ritalimusiek

Instagram: @ritalimusiek

Twitter: @RitaLimusiek

Webblad: www.ritali.co.za

YouTube: Rita Li Musiek

 

luister gereeld na jou gunsteling stasie:

Musical Venture Radio

Leave a Reply