Stefan Jansen met sy eerste enkelsnit, ‘Verdienste en Genade’

Spits jou ore, want die Pretorianer, Stefan Jansen se eerste enkelsnit, VERDIENSTE EN GENADE, is beslis nie iets wat jy wil mis nie. Die liedjie is pas vrygestel en reg om die radiogolwe oor te neem. Dit spog met ’n verfrissende kontemporêre klank en opregte hartslirieke waarby luisteraars aanklank vind.

Dié sangsensasie se dinamiese lekkerluister-stem is die perfekte pasmaat vir hierdie emosionele liefdestreffer uit die kunstenaar se eie pen.

VERDIENSTE EN GENADE is ’n baie persoonlike liedjie wat gaan oor die sanger se liefdesverhouding met sy meisie. Hulle vriendskapsverhouding van die afgelope vyf jaar en sy skuldgevoelens oor hoe dinge op ’n stadium skeefgeloop het, het hom gedryf om sy gevoelens aan haar te openbaar en haar te vra om hom te vergewe. Dit is eers in Engels geskryf en opgeneem as Song of Silence, waarna Robin Walsh hom geïnspireer het om dit na Afrikaans te vertaal.

Dit gaan oor die pad wat ek en my meisie al saam gestap het. Ek het nie van die begin af gesien watter waarde sy tot my lewe voeg nie en ons was vir n rukkie lank net vriende,” vertel hy. Op n stadium, het ek besef dat ek haar in my lewe nodig het en nie as vriendin en maat wil verloor nie, al sou dit beteken dat ek my liefde uiteindelik aan haar moes verklaar. Ek het oop kaarte met haar gespeel en sy het my vergewe; nie uit verdienste nie maar alleen uit genade.”

Die snit, wat letterlik oornag geskryf en die volgende oggend opgeneem is, se meesleurende wysie sal jou nie net lus maak om jou meisie nader te trek vir ’n rukkie nie, maar is ook een van daardie liedjies wat in jou kop bly vassteek – lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het.

Hierdie is my eerste Afrikaanse liedjie en ek het nie kans gehad om n storie uit te dink nie. Die inhoud is die suiwer waarheid,” verduidelik die musikant. Ek dink dat baie mense daarmee sal kan vereenselwig. Almal was al op n plek waar hulle iets gekry het uit blote genade. Almal weet hoe liefde voel en almal het soms vergifnis nodig.”

Hy was nog altyd versot op musiek en was in graad-10 deel van ’n Punk-musiekgroep op skool, maar dit het nie lank gehou nie. Nou lag hy daaroor en sê: “Niemand van ons kon regtig sing destyds nie. Dit het ons einde beteken. Nou sing almal van ons redelik goed. Tydsberekening is alles!”

Dit was egter waar die musiekgogga hom behoorlik gebyt het en hy sy pa gevra het om hom ordentelik te leer kitaarspeel. Wat begin het as kampvuurmusiek in die bosveld, het gou gegroei na betaalde solo-optredes by restaurante en kroeë vir sakgeld in Pretoria waar hy gaan Regte studeer het. Later het hy deel geword van die Gobabis Band, saam met wie hy steeds musiek maak.

Oor die jare, het hy die verhoog saam met verskeie groot name gedeel, waaronder Jan Blohm, Valiant Swart, Justin Serrao, Crash Car Burn en Anton Goosen. Hy het ook die voorreg gehad om in 2018 by The Parlotones aan te sluit as deel van hulle twintigjaarherdenkingtoer in Europa en om aan die begin van 2020 sy musiek in Switzerland te gaan bemark.

Die sanger, wat groot geword het in Bronkhorstspruit, verklap dat hy mal is daaroor om na betekenisvolle akoestiese musiek te luister en dat hy ook groot bewondering het vir ’n verskeidenheid intenasionale musikante en musiekgroepe soos Foo Fighters, Elton John, Paul Simon, Bob Dylan, Leonard Cohen, Joshua Kadison, Foy Vance en Freddy Mercury, terwyl hy plaaslik graag saam met name soos Laurika Rauch, Hunter Kennedy, Valiant Swart en Danie du Toit (Spoegwolf) sou wou werk. As ek my gunsteling-musiek moet opsom sou ek sê dit sou organies, eg en eerlik wees. Liriekgedrewe musiek is vir my belangrik, maar ek vang myself baie uit net na die musiek luister, en andersom,” deel hy.

As hy nie ’n musikant was nie, sou hy graag akoestiese kitare wou bou en verkoop; ’n vaardigheid wat hy graag in die nabye toekoms wil bemeester, aangesien hy reeds ’n gekwalifiseerde kitaartegnikus ook is.

Maar vir nou is sing sy grootste fokus en werk hy hard aan nuwe Afrikaanse liedjies, lewendige optredes en regsake om die pot aan die kook te hou.

Stefan Jansen glo dat musiek opreg en eerlik moet wees… en daarom sing hy graag oor hoe hy die wêreld sien. VERDIENSTE EN GENADE gaan nie net ’n treffer onder verliefdes en op die treffersparades wees nie, maar is ook die begin van ’n baie belowende solo-musiekloopbaan vir hierdie talentvolle kunstenaar.

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/StefanJansenMusic/

Instagram: @stefan.jansen.music

Luister na VERDIENSTE EN GENADE hier:

 

VERDIENSTE EN GENADE is beskikbaar op alle digitale platforms.

Luister gereeld na jou gunsteling stasie:

Musical Venture Radio

Leave a Reply