Juan Boucher laat Afrikaanse harte warm klop met nuwe album. Hier is die 2de enkelsnit, ‘Ek mis maar net jou hart’.

Na twaalf suksesvolle jare in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf, het Juan Boucher beslis geen bekendstelling nodig nie. Hierdie bekroonde Vaaldriehoeker, met sy growwe stem, lekkerluister-lirieke, ritmiese musiek en vermaaklike verhoogpersoonlikheid, het oor die jare diep in sy ondersteuners se harte kom nesskop.

Vandag is dié Gebore Om By Jou Te Wees-sanger ’n gevestigde naam, met ses goue- en platinumverkoper ateljee-albums, talle radiotreffers en verskeie musiektoekennings op sy kerfstok. Hy is ook deesdae die trotse eienaar van die kleremaatskappy, Bouch Clothing, wat fokus op diegene wat daarvan hou om net so stylvol en gemaklik te lyk in die bosveld as in die stad.

Ter viering van sy suksesvolle loopbaan sover, het Juan pas ’n splinternuwe album, GEWIGLOOS, uitgereik, wat beloof om bewonderaars se stoutste verwagtinge te oortref. “Dit is my eerste album waar nie een van die klanke geprogrammeer is nie en met regte, lewendige instrumente opgeneem is,” vertel die sanger. “Wanneer ek daarna luister, voel ek gewigloos. Elke liedjie is in ’n unieke skryfstyl, ritme en tempo, met kitare wat sag skree en die bas wat alles nostalgies bymekaar hou. Ek wil graag hê die inhoud moet Afrikaans sterker maak en Suid-Afrikaners saam bind.”

Album nommer sewe bestaan uit twaalf oorspronklike snitte, wat sorgvuldig uitgesoek is om ’n aanloklike storie te vertel. Buiten vir lekker opgewekte dansnommertjies en pragtige liefdesballades, is daar ook twee liedjies wat saam met ander kunstenaars geskryf is ingesluit. In die Bosveld saam met Neil Somers, is baie goed ontvang en kuier al vir weke lank bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies. Die musiekvideo is ook reeds deur meer as 280 000 kykers op YouTube gesien. Verder is die snit, Toestand, saam met sy agent en mede-musikant, Len Muller, geskryf. “‘Geroeste Ysters’ is ’n huldeblyk aan die manne wat destyds ons grense opgepas het tydens die oorlog,” verduidelik hy. “‘Brandewyn’ is eintlik geskryf toe ek een-en-twintig was en sou nie op die album gewees het nie, maar toe daag iemand my uit om dit wel op te neem en nou is dit deel van die speellys.”

Die nuutste enkelsnit, EK MIS MAAR NET JOU HART, is onlangs vrygestel en beloof om aan selfs die kieskeurigste vereistes te voldoen. Hierdie is ’n liefdesliedjie uit die sanger se eie pen. “Dit gaan oor die persoon wat jy tans liefhet en nie oor iemand in die verlede nie,” verklap Juan, wat dié snit as sy gunsteling beskryf. “Wanneer jy al lank met iemand in ’n verhouding is en julle dryf so ’n bietjie uitmekaar uit en kommunikeer nie meer so effektief nie, is wanneer jy kan sê: ‘EK MIS MAAR NET JOU HART’. Dit is ’n liedjie vir elke persoon wat al ooit lief was vir iemand en sal by almal aanklank vind.”

Die musiekvideo van hierdie snit, wat deur Wian van der Walt van Vonk Musiek vervaardig is, is al langs die kus verfilm – van Vishoek tot George. Regdeur die video, is daar skote van Juan wat alleen staan en die lewe bepeins, wat simbolies is van die swaar tye in verhoudings waarin ’n mens eensaam voel en jou geliefde mis. “Ek wou graag hê dat die video moes lyk asof dit in ’n ander wêreld afspeel, so alhoewel dit in Suid-Afrika gedoen is, lyk dit asof ons in die sneeu geskiet het,” vertel hy. “Die liedjie gaan oor iemand wat na die begin-stadium van ’n liefdesverhouding verlang en ons wou hê dat die video hierby moes inskakel.”

 

Juan het in 2012 sy debuut gemaak in die musiekbedryf met treffers soos Onthou Jy Om Jonk en beskou musiek en sy geliefdes as die grootste vreugdes in sy lewe. Musiek is ’n geskenk van bo en ek is so geseënd om te kan sing en skryf,” sê hy. “Ek is op my gelukkigste as my liedjies mense laat glimlag en is lief vir die lewe, liefde en mense.”

Hy is bekend vir sy goedvoelmusiek en het reeds vroeg die kuns bemeester om liedjies te skep waarby die gehoor aanklank vind. Daarom is hy nie net in 2017 aangewys as die publiek se gunsteling tydens die Ghoema-toekennings nie, maar is hy ook in 2019 met Aitsa- (Beste Lirieke in Suid-Afrika) en Bokkie-toekennings (Beste Manlike Kunstenaar) bekroon.

Dit is dan ook nie vreemd dat hy reeds ses suksesvolle albums op sy kerfstok het nie, waarvan Dis Wie ek Is en Onthou Jy om Jonk albei goue- en Kalm Voor Die Storm platinumverkoopstatus bereik het. Hy is ook veral bekend vir treffers soos Ons Word Een, Huisie in die Bos (saam met Jan Rhaap), In Jou Wolk en Whiskey en Jy, en ’n gereelde gesig by die land se grootste feeste en funksies.

As hy enige ander beroep moes kies, sou hy graag sokker wou speel vir sy gunsteling-klub, Arsenal. Hy verklap ook dat hy nie kan wag om eendag sy eie kinders te hê nie en dat hy dit sy prioriteit sal maak om sy gesin behoorlik te versorg en daar te wees as hulle hom nodig het.

Die musiekbedryf het hom geleer om sy drome te volg en hard te werk om hulle waar te maak. “As jy dit nie gaan haal nie, gaan niemand dit vir jou gee nie,” meen hy.

GEWIGLOOS is ’n moet-hê-album vir elke Juan Boucher-aanhanger. Dit is ’n kombinasie van lekkerluister-musiek waarsonder geen speellys volledig sal wees nie. Sy nuutste album en enkelsnit is nie net ’n duidelike bewys dat dié sangsensasie sy gehoor se belange op die hart dra nie, maar ook ’n juweel vol treffers wat nog vir baie jare oor die radio gehoor sal word.

 

LYS VAN SNITTE OP DIE ALBUM

Lewenslustig

Trou

Gewigloos

September

Mis Maar Net Jou Hart

Geroeste Ysters

Kampioen

Gif

Kan ek?

Toestand

Brandewyn

In die Bosveld

 

SOSIALE MEDIA SKAKELS:

JUAN BOUCHER

Facebook: https://www.facebook.com/juanboucherpage/

Twitter: @juanboucher007

Instagram: @juanbouchersa

 

Die album is vanaf 9 Oktober 2020 in winkels beskikbaar en sal teen einde Oktober 2020 op alle digitale platforms beskikbaar wees. Om die album nou voor-af te bestel, kliek hier: https://www.gaangroot.co.za/collections/voorafbestelling/products/juan-boucher-gewigloos

 

Luister gereeld na jou gunsteling stasie

Musical Venture Radio

 

Leave a Reply