Juan Boucher en Neil Somers se nuwe enkelspeler, ‘In Die Bosveld’ gaan Suid-Afrikaners de harte diep raak.

Wat gebeur wanneer twee gewilde sangers en liedjieskrywers kragte saamspan om oor een van hulle grootste gedeelde passies te sing? ’n Hoendervleismooi liedjie kry lewe, wat Suid-Afrikaanse harte net so diep sal raak soos die ongerepte natuurskoon van die bosveld.

IN DIE BOSVELD pas Juan Boucher en Neil Somers se diep storievertellerstemme soos ’n handskoen en is een van daardie enkelsnitte wat dadelik in jou kop kom vassteek, omdat dit jou onmiddellik laat verlang na ’n rustige kuier langs ’n kampvuur in die bos.

Hierdie moderne Afrikaanse pop-rocksnit, waaraan Juan en Neil saam getimmer het, weerspieël die liefde en passie wat beide kunstenaars vir die bosveld het en kry dit reg om die rustige gevoel van hierdie lappie aarde aan die luisteraar oor te dra. “Ek is baie lief vir die bosveld en spandeer baie tyd daar, daarom wou ek nog altyd ’n ordentelike liedjie daaroor sing,” vertel Juan oor hierdie duet wat hom reeds so na aan die hart lê. “IN DIE BOSVELD gaan in enige liefhebber van die natuur en die bosveld se kraal val. Ek vermoed dit gaan reuse golwe in die Afrikaner kultuur maak. Die liedjie vang die gevoel vas wat die bosveld in ons almal wakker maak,” voeg Neil by.

 

Die musikante ken mekaar al ’n geruime tyd, maar het eers weer regtig kontak hervat nadat Juan in dieselfde area as Neil ingetrek het. “Gedurende die grendeltyd het ons besluit om saam aan ’n liedjie te werk en ’n tema gekies waaroor ons albei passievol is. Om saam met Neil te werk, was ’n baie lekker ervaring,” verduidelik Juan, wat glo dat dié snit by oud en jonk sal aanklank vind.

Neil het dit net soveel geniet om saam met Juan te werk en beskryf hom as ’n uitstekende liedjieskrywer: “Dit was regtig lekker om saam te werk. Ons dink dieselfde oor baie goed en dit kom deur in die liedjie. Om saam met iemand anders te skryf en hulle styl te verstaan, is altyd ’n goeie leerondervinding en so verbreed jy ook jou eie skryfvernuf en -kennis.”

Die musiekvideo van die duet word saam met die enkelsnit bekendgestel. Dit is op Stanley van der Burgh se plaas, net buite Groblersdal, verfilm en beeld vir Juan en Neil in die natuur – tussen die vlaktes, berge en diere uit. Volgens die manne, het hulle hulleself gate uit geniet en moes hulle selfs ’n moeilike buffel, genaamd Gebrand, trotseer om die perfekte eindresultaat te kry. “Die spesifieke skote waarop ons besluit het en wat die vervaardigers vasgevang het laat die natuur uitstaan. Die gevoel wat jy kry as jy die video kyk, laat jou onmiddellik verlang na die bos en die mense saam met wie jy dit altyd geniet,” sê Neil.

 

Kyk die video hier:

 

Neil Somers is ’n SAMA- en Huisgenoot Tempo-benoemde kunstenaar wat net so bekend is vir sy diep fluweelstem as vir sy betekenisvolle lirieke. Oor die jare, het hy verskeie suksesvolle radio-snitte uitgereik, insluitend Jy Slaan My Asem Weg, Eendag op ’n Reëndag, Skipper, Silwer Kombers (wat meer as 190 000 kyke op YouTube gehad het), Hierdie Hande, Bloedgrond, Anderkant Atlantis, Sinnelose Lente, en vele meer.

Dié sangsensasie het grootgeword in Bethal, Mpumalanga en het al die verhoog gedeel met van die land se grootste kunstenaars soos Koos Kombuis, Dozi, Theuns Jordaan, Robbie Wessels, Bok van Blerk, Lianie May, Hugo, Kurt Darren en vele meer.

Tans is hy besig met die finale afrondings aan sy opkomende album, wat vir die einde van die jaar beplan word.

 

Juan Boucher is ’n veelsydige musikant en liedjieskrywer, wat oor die jare sommer diep in Suid-Afrikaners se harte kom inkruip het. Die Vaaldriehoeker het in 2012 sy debuut gemaak in die musiekbedryf met die treffer 082.

Hierdie sanger, wat in 2017 aangewys is as die publiek se gunsteling tydens die Ghoema-toekennings, is bekend vir sy goedvoelmusiek en het die kuns bemeester om liedjies te skep wat by die publiek aanklank vind.  Hy spog met verskeie suksesvolle albums en groot treffers op sy kerfstok waarvan Dis Wie ek Is en Onthou Jy om Jonk albei goue- en Kalm Voor Die Storm platinumverkoopstatus bereik het.  Hy is die trotste eienaar van die kleremaatskappy, Bouch Cloting, wat fokus op diegene wat daarvan hou om net so stylvol en gemaklik te lyk in die bosveld as in die stad.

Tans is hy besig om sy nuwe album te finaliseer, wat binnekort beskikbaar sal wees en geniet hy dit om elke oomblik wat hy kan in die bosveld te spandeer.

IN DIE BOSVELD se meesleurende wysie, lekkerluister-lirieke en nostalgiese boodskap is die perfekte bestanddele vir ’n treffer wat vir nog baie jare lank ’n gunsteling gaan wees in die plaaslike mark. Hopenlik is dit net die begin van nog baie saamwerkgeleenthede vir hierdie begaafde musikante.

Die liedjie sal op Juan se album beskikbaar wees wat binnekort uitgereik word.

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

JUAN BOUCHER

Facebook: https://www.facebook.com/juanboucherpage/

Twitter: @juanboucher007

Instagram: @juanbouchersa

 

NEIL SOMERS

Facebook: https://www.facebook.com/pages/Neil-Somers/128036245754

Twitter: @somersneil

Instagram: @neilsomers

Leave a Reply