Rinel Day oorkom die seer van haar verlede met die nuwe enkelsnit, ‘Ek het opgestaan’

“Die liedjie is spesiaal geskryf vir enigiemand wat al ooit seer beleef het en iewers dalk ’n tree terug moes vat in die lewe, om hulleself weer op te tel en te vind,”Rinel Day oor die betekenis agter die titelsnit van haar langverwagte album wat pas vrygestel is.

Ses jaar na haar vorige album, word aanhangers van hierdie talentvolle brunet uiteindelik beloon met ’n splinternuwe vrystelling wat diep tref.

EK HET OPGESTAAN is ’n betekenisvolle enkelsnit wat die opbouende tema van die sangeres se nuwe album perfek saamvat. Omdat dit geïnspireer is deur ’n moeilike tyd in haar eie lewe, is dit vir haar baie persoonlik en beskou sy dit as ’n lied oor geloof, hoop en liefde.

“Nadat ek en my eksman uitmekaar uit is in 2016, is ek deur diep water en moes ek soveel dinge van vooraf vir myself ervaar as ’n enkellopende persoon. Ek moes myself vind, terwyl ek nog die stukkies van my hart opgetel het,” deel sy. “’n Jaar later, het die Here die lirieke in my hart geplaas. Toe ek dit geskryf het, was ek nog nie sterk genoeg om dit te sing nie. Min het ek geweet dat die lirieke wat vir my gestuur is, presies die manier sou wees waarop ek sou opstaan. Deesdae waardeer ek weer die mooi. Ek het weer liefde gevind en my passie vir musiek is groter as ooit.”

Hierdie snit het ’n sterk boodskap waarby gehore van alle ouderdomme sal aanklank vind en die meesleurende wysie sal luisteraars uitnooi om saam te sing en ’n draai op die dansvloer te maak.

“Moeilike tye hou nie vir ewig nie. Dit maak nie saak op watter donker plek jy is nie, daar is altyd ’n kans om op te staan en aan te beweeg. Die Here sal niemand deur ’n moeiliker tyd sit as wat hulle kan hanteer nie. Jy is sterker as wat jy is en kan opstaan.”

EK HET OPGESTAAN is die eerste enkelsnitvrystelling vanaf die kunstenaar se derde ateljee-album met dieselfde naam. “Dit is ’n mengelmoes van Country- en Popmusiek. Daar is liedjies soos ‘Jy’t My Gered’ met mooi Country-klanke wat die hartsnare sal roer, terwyl snitte soos ‘Breek Die Mure Af’ jou voete sal laat jeuk om te dans,” verklap Rinel entoesiasties. “Ek het in 2016 begin skryf aan die inhoud van die album en hier-en-daar ander skrywers betrek om ook hulle insae te kry. Werner Beukes het aan die begin van die jaar die finale liedjieopnames in die Kaap gedoen.”

Die album, wat binnekort uitgereik sal word, bestaan uit vyftien snitte wat spesiaal omskep is om haar strelende stem op sy beste te laat vertoon. Rinel wou graag musiek kies waarmee aanhangers kon identifiseer en glo dat Jy’t My Gered, Hier Om Te Bly en Breek die Mure Af baie gewild gaan wees.

Volgens die kunstenaar, het sy baie inspirasie vir die musiek op die album geput uit haar eie lewe. “Ek wil hê dat my album vir luisteraars moet hoop gee dat hulle weer kan opstaan en lus wees vir die lewe, ongeag van wat gebeur,” verduidelik sy.

Rinel is in Vryheid gebore en het hoofsaaklik in Richardsbaai en Swartruggens grootgeword. Sy is verloof aan die liefde van haar lewe, Shaun Walker, en is al vir meer as ’n dekade lank doenig in die musiekbedryf.

Op die ouderdom van tien, het sy haar eerste sangkompetisie gewen en in 2012 haar eerste selfgetitelde Ghoema-benoemde album (Beste Pop-album deur ’n Vroulike Kunstenaar) uitgereik. Dit is baie goed ontvang en het twee-en-twintig nommer-een-radio-treffers opgelewer, waaronder Een Somersaand (met Henri Alant), DJ Speel Dit Weer, Geluk en vele meer.

Haar tweede album, Dit Staan in Die Sterre, het ewe veel sukses bereik en is in 2014 vrygestel. Dit het ’n Ghoema-nominasie ontvang vir Beste Kontemporêre Album deur ’n Vroulike Kunstenaar en bevat bekende liedjies en musiekvideo’s, soos Dit Staan in die Sterre, Ligjare Weg, Maak My Joune, ensovoorts wat reeds deur duisende mense geluister en gekyk is.

Oor die jare, het dié veelsydige kunstenaar verskeie hoogtepunte bereik: in 2012 het sy sestiende gekom in die internasionale World Peace Song Contest, met haar liedjie Vuur Met Vuur Veg (Céline Dion was tweede in hierdie kompetisie); vanaf 2014 tot 2018 het sy as Beskermengel van die Jakaranda Kinderhuis opgetree; in 2015 was sy te sien in Leon Schuster se Shucks! Pay Back The Money; en laastens was sy ook deel van die groep JANEDUKE wat deurgedring het na die top 26 van die Afri-Visie-liedjieskryfkompetisie.

Shania Twain, Madonna, Carrie Underwood, Katy Perry, Demi Lovato en Marren Morris word uitgesonder as internasionale sterre waarby sy aanklank vind, terwyl sy ook groot respek het vir plaaslike kunstenaars soos Riana Nel, Juanita du Plessis en Steve Hofmeyr. Sy verklap ook dat alhoewel sy reeds saam met sangers soos Elvis se Seun en Dennis East gewerk het, sy graag nog saam met Snotkop sou wou musiek maak.

Wanneer sy nie besig is om harte te verower op die verhoog nie, is sy drukbesig om liedjies te skryf en te werk aan haar blog, My Millennial Blog, waarin sy raad gee oor hoe om mooi te lyk op ’n beperkte begroting.

“Ek het ’n nuwe liefde vir skryf gevind. In die verlede het ek gewoonlik net saamgeskryf aan liedjies waar ek nou die kans het om alleen te skryf en my stempel, as persoon en kunstenaar, af te druk op my werk,” deel sy. “My blog is gerig op ’n internasionale mark, so enige vrou in die wêreld gaan daarby kan baatvind. Op die einde van die dag, wil ek graag ander mense leer hoe om ’n blog te begin en ’n inkomste daaruit te verdien. Ek glo almal kan doen met ’n ekstra geldjie veral in vandag se tyd.”

Die vermaakbedryf het vir Rinel geleer om geduldig te wees, hard te werk en deursettingsvermoë te hê wanneer dit by haar drome kom.

EK HET OPGESTAAN is ’n getuigskrif van hoeveel Rinel Day en haar musiek oor die jare gegroei het en dien dit as die perfekte lusmaker van die nuwe en opwindende seisoen waarin haar loopbaan beweeg.

 

Die liedjie is nou aanlyn beskikbaar. Laai dit hier af:

 

  • Google Play Music Link

https://play.google.com/store/music/album?id=B3wkol4s44y2k2jdpy6hzklgd2y

•Apple Music Link

https://music.apple.com/us/album/ek-het-opgestaan-single/1520282208

•Deezer Link

https://www.deezer.com/en/album/156796872?deferredFl=1

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: www.facebook.com/rineldayoffisieel

Instagram: @ekisrinelday

Twitter: @ekisrinelday

Webblad: www.rinel.co.za

 

Luister gereeld na jou gunsteling stasie

Musical Venture Radio

Leave a Reply