William Wolf stel nuwe enkelsnit, ‘Droom’ beskikbaar en loods ook ‘n kompetisie vir Junie 2020

Willam Wolf glo dat almal moet droom en dit is iets wat hy nooit wil ophou doen nie. DROOM, sy nuutste enkelsnit, kom uit sy eie pen en is vervaardig deur Ewald JV Rensburg van PopKult. “Ons almal het verskillende drome, maar ek dink baie min van ons bewaarheid dit omdat ons ons eie grootste vyande kan wees en te veel omgee oor wat ander mense dink,” deel William oor DROOM.

DROOM het ’n vars, alternatiewe popklank, uniek aan William se styl. Die lirieke het die potensiaal om aanklank te vind by ’n wye verskeidenheid mense danksy die relevante droomboodskap. Die koor het ’n aangrypende melodie met ’n goeie luisterwaarde juis weens die goeie kontras tussen die koor en verse.

 

In ‘n tyd van inperkings sal Droom se musiekvideo ook jou asem wegslaan en is beskikbaar op sy Facebook-blad. Nico Welgemoed was betrokke by die produksie van die musiekvideo wat in die prentjiemooi Mosselbaai- en George-omgewing verfilm is. Die natuurskote is bedoel om aanhangers te laat droom, droom oor die mooi in ons land en droom oor drome wat ‘n realiteit kan word.

Dit is in die lig hiervan dat die droom-denker besluit het om ’n ander kunstenaar se drome te help waar maak. William se Droom-kompetisie bied een kunstenaar die geleentheid om hul droom af te vuur met ‘n wenprys ter waarde van meer as R50 000. Dit sal die volgende insluit: ’n unieke liedjie geskryf deur William Wolf, opname en vervaardiging van die liedjie, ’n musiekvideo en ’n volle Publisiteitspakket wat die omslagontwerp asook 3 maande se bemarkings op die enkelsnit insluit. Omdat William weet hoe moeilike dit is om jouself as kunstenaar in die musiekindustry te vestig, wil hy dit graag makliker maak vir ‘n opkomende kunstenaar. Enige kunstenaar kan hiervoor inskryf, met meer details op William Wolf se Facebook-blad. Die kompetisie begin op 1 Junie en die wenner sal op 1 Julie aangekondig word. Bekende persoonlikhede in die vermaaklikheidsindustrie soos Martin Bester, Pieter Koen, Heidi Edeling, Wian Smith-Venter en Pieter Cloete sal beoordelaars wees en seker maak dat ‘n gelukkige wenner ook ‘n droom kan uitleef.

Dié onafhanklike kunstenaar het grootgeword in ’n huis wat altyd vol van goeie musiek was. Alhoewel hy die enigste een in sy gesin is met sangtalent, het dit hom nie gekeer om self te droom nie. Hy vertel, “Ek is nog altyd ’n dromer. Dis vir my baie belangrik om ideale en drome te hê en te glo dat enigiets moontlik is in werk en verhoudings. Dat ’n mens jou éie drome moet najaag en nie dié van ander nie. ‘Sit die pen terug in jou hand.’”

William is geen vreemdeling in die musiekwêreld nie. In 2003 het hy ’n SAMA-nominasie ontvang en terselfdertyd het sy voormalige groep, Soul Proxy, ’n nommer een liedjie op 5fm gehad. Dit was hierna dat William in Afrikaans begin skryf het, en ook sy skryftalent gebruik het om vir ander kunstenaars te skryf. Van die mees bekende liedjies wat William geskryf het of waarvan hy medeskrywer was, is Brendan Peyper se TAFELBERG VIR TWEE, Pieter Koen se ’N MAN KAN OOK HUIL, Martin Bester se OU SPOOR, Willem Botha se SOEN & VERGEET en Lee Scott se PERFEKTE VREEMDELING. William is ook die wenner van ATKV Crescendo se Liedjieskryfkompetisie van 2008.

Die donkerkop put inspirasie uit die musiek van David Ramirez, John Mayer en James Bay, maar ook ouer musiek waarmee hy grootgeword het soos Eagles, CCR, Leonard Cohen en Cat Stevens. Hy glo dat ‘n kunstenaar moet aanhou fokus daarop om jou eie stem en identiteit te ontwikkel.

William sal as kunstenaar altyd nog iets aan sy musiek wil verander, maar hy sê hy het al geleer om op ’n punt op te hou redigeer en die musiek net vry te stel. Hy hoop om in die toekoms meer gereeld oorspronklike musiek vry te stel. “As liedjieskrywer het ek baie musiek om te deel.” Tydens die inperkingstydperk gebruik hy sy tyd produktief om soveel as moontlik te skryf, en neem hy sy werk op by sy huis-studio.William Wolf se DROOM-dag

 

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook:  https://www.facebook.com/pg/ItsWilliamWolf/

Instagram: www.instagram.com/its_william_wolf/

 

Luister na jou gunsteling stasie

Musical Venture Radio

 

Leave a Reply