Lefra bring hulde aan Lance James met ‘n ‘Kelderkonsert’ op Sondag, 14 Junie 2020

Lefra se gewilde Country Legendes- en Country Legendes en Vriende-konserte het musiekaanhangers deur die jare vermaak en was jaarliks by Carnival City aangebied onder die leiding van die “Big Daddy” van Suid-Afrikaanse countrymusiek, Lance James.  Maar op 2 Maart vanjaar word Lance se stem vir altyd stil.  Lefra se Kelderkonserte bring nou hulde aan Lance en die ander groot name van countrymusiek met die uitsending van Country Legendes op Sondag, 14 Junie om 17:00Country Legendes en Vriende volg op Sondag, 12 Julie om 17:00.  Alle besprekings kan by itickets.co.za of lefra.com gedoen word teen slegs R70 per kaartjie per huishouding.  Die twee aanlynkonserte kan ook as deel van die Lefra se Kelderkonserte-pakket bespreek word teen ‘n lekker afslag.  Besoek gerus lefra.com en bespreek by itickets.co.za.

Lefra se eerste Country Legendes-konsert word op 5 Augustus 2006 in die Big Top Arena van Carnival City aangebied, en word binne weke uitverkoop.  Die koninklikes van Suid-Afrikaanse countrymusiek het geskitter in een van die grootste Country shows nog.  Die koning en koningin van country, Bobby Angel en Barbara Ray het saam met Lance James die verhoog gedeel met Sally Vaughn Clive Bruce, Tommy Dell, Jody Wayne, Lee Magnum en Billy Forest in ‘n skouspel wat hierdie kunstenaars weereens as legendes bevestig het.  Die Rodeo Girls het die danspassies verskaf.  Die konsert was opgeneem en word op Sondag, 14 Junie om 17:00 uitgesaai as een van Lefra se Kelderkonserte.  “Ons wil graag hiermee hulde bring aan die legendariese Lance James”, sê Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies.  Hy skryf ‘n roerende huldeblyk aan Lance vir ‘n dagblad kort na Lance se afsterwe en sê die volgende oor hom: “Vir jare werk ons saam met veral die Country Legendes produksies wat ons by Carnival City aangebied het met uitverkoopte vertonings.  Vir Lance James was niks ooit te veel gevra om die “show” te maak werk nie.  Hy doen media onderhoude, hy doen promosies, hy gesels met sy mede-kunstenaars en sorg dat die “show” ‘n sukses is.  En as hy op die verhoog kom, bekoor hy met die suiwerste stem en grootste verhoogpersoonlikheid waaraan jy kon dink.  Lance James ons sê DANKIE.  Die vermaaklikheidsbedryf gaan soveel armer wees sonder jou.  Ons salueer die legende, Lance James!”

Die dawerende sukses van die Country Legendes-konserte word jaarliks voortgesit, en in 2008 verander dit na Country Legendes en Vriende toe.  Die konsert in Junie van daardie jaar word ook op film vasgelê en verenig die legendes en vriende Lance James, JJ Stephens, Jason Bradley, Cheree, Matt Hurter, Barbara Ray, Alan Ladd, Bobby Angel, Tommy Dell en die Rodeo Girls in die grootste country konsert nog!  Vrouekeur beskryf die konsert as ‘n “kontreikarnaval” en is kaartjies ook uitverkoop!  Die Country Legendes en Vriende word op Sondag, 12 Julie om 17:00 as een van Lefra se Kelderkonserte uitgesaai.

 

Op 3 Augustus 2013 oorhandig Lefra Produksies ‘n Ere-Toekenning aan Lance James vir sy groot bydrae tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.  Op die toekenning se inskrywing staan: “Dit is ‘n groot eer vir Lefra Produksies om hierdie toekenning aan Lance James te maak vir sy besondere bydrae aan die Afrikaanse Musiekbedryf oor meer as 50 jaar.”  Ons salueer jou, Lance James!

Alle besprekings kan by itickets.co.za of lefra.com gedoen word teen slegs R70 per vertoningt per huishouding.  Besoek gerus ook www.lefra.com vir meer inligting.

 

Luister ook na jou gunsteling stasie, dalk wen jy ‘n kaarjie!

Musical Venture Radio

 

Leave a Reply