Groot SA Country Legende Oorlede…

Dit is met groot hartseer dat ons die nuus moet deel dat ons “Big Daddy” en Country legende, Lance James vanoggend na ‘n lang siekbed in die hospitaal oorlede is. Lance het vredevol gesterf met sy familie by hom.

Lance James is ‘n paar weke terug opgeneem in die hospitaal nadat hy hartprobleme ondervind het. Wat hom egter verder gekniehalter het is toe hy geval het in die hospitaal en sy heup gebreek het. Hy moes ‘n nood-heupvervanging ondergaan.
Sy toestand het daagliks verswak na amper 8 weke in die hospitaal.

Sy familie wil die publiek en aanhangers uit hul harte bedank vir hul jarelange ondersteuning. Lance sal bly voortleef met sy unieke persoonlikheid, lang loopbaan as sanger en radio-omroeper met vele treffers.

Ons vra dat die publiek asseblief sy familie en naasbestaandes tyd sal gun om te rou.

Lance James laat sy lewensmaat, Eunice, sy dogters Dionne en Chanelle, asook ‘n kleindogter en twee kleinseuns agter. Benji, sy skoonseun het ook ‘n groot rol in sy lewe gespeel.

Lance James sal bly voorleef in ons harte wat hom ontsterflik sal maak vir ons almal wat hom en sy musiek liefgehad het.

Vir meer inligting oor die roudiens, hou die media dop.

Leave a Reply