As jy van Calendar Girls en The Full Monty gehou het gaan jy mal wees oor Military Wives!

As flieks soos Calendar Girls en The Full Monty op jou lys van gunstelinge is, gaan jy beslis mal wees oor regisseur Peter Cattaneo se nuutste film, MILITARY WIVES, wat binnekort op plaaslike skerms te sien is.

Met dié projek het hy dit weereens reggekry om die ware verhaal van gewone vroue – wat onverwags bekendheid verwerf – te omskep in ’n warm, humoristiese en inspirerende rolprent.

MILITARY WIVES vertel die storie van ’n groep vroue wat ’n reuse sukses maak van dit wat veronderstel was om ’n terapeutiese stokperdjie te wees. Die draaiboek, wat deur Rosanne Flynn en Rachel Tunnard geskryf is om hulde te bring aan vroue wat saamstaan, draai om die pogings van soldate se vroue om hulle gemoedere te lig wanneer hulle mans gaan oorlog maak.

“Daar is baie oorlogflieks, maar jy sien nooit wat met die gesinne gebeur wat agterbly nie,” verduidelik Cattaneo. “Hierdie rolprent bring hulde aan die vroue en meisies wat agtergelaat word. Wanneer die lewe moeilik raak, het ’n mens soms nodig om saam te lag om te oorleef. Hierdie is ’n eerlike verhaal oor mense wat daarvan hou om mekaar te laat lag. Dit gaan oor menslikheid en mense kan baie snaaks wees.” 

MILITARY WIVES is gebaseer om die ware verhaal van die koormeester, Gareth Malone, wat in 2011 ’n groep vroue onder sy vlerk geneem het terwyl hy besig was om aan die BBC-program, The Choir, te werk. Navorsing het getoon dat koorsing help om stres te verminder en eensaamheid, angs en depressie te bekamp. Malone se doel was om die vroue en meisies van soldate te help om hulle gevoelens weer te gee deur middel van musiek. Wat begin het as ’n stokperdjie, het aansienlik gegroei oor die afgelope dekade – daar is nou meer as 2 300 vroue met weermagverbintenisse in 75 kore regoor Brittanje en oorsee.

Met Kristin Scott Thomas en Sharon Horgan in die hoofrolle, plaas MILITARY WIVES klem op hoe diegene wat agterbly wanneer die manne oorlog toe gaan in ’n roetine verval, terwyl hulle wag vir hulle geliefdes om terug te keer en hoop om nooit slegte tyding te kry nie.

Kate (Scott Thomas) is netjies en georganiseerd, terwyl Lisa (Horgan) meer gemaklik en onkonvensioneel is. Saam vorm hulle ’n onverwagse vennootskap wat lei tot die eerste koor vir soldate se vroue. Hierdie koor help nie net dié vroue deur van die moeilikste oomblikke in hulle lewens nie, maar word ook mediasensasie wat die weg baan vir soortgelyke pogings regoor die wêreld.

“Dit was baie opwindend om lewe te gee aan ’n kontemporêre millitêre basis deur hierdie verhaal van gewone vroue in ongelooflike moeilike omstandighede, wat die genesende krag van saamsing gebruik om mekaar te bemoedig,” sê Cattaneo.

“Kate en Lisa se verhouding is die emosionele ruggraat van die prent en dit was ’n plesier om saam met hulle te werk. Hulle is albei talentvolle akteurs en net so gemaklik in snaakse as ernstige rolle. Alhoewel hulle hemelsbreed van mekaar verskil – wat voorkoms, agtergrond en energie aanbetref – vul hulle mekaar tog ook perfek aan.”

Greg WiseJason FlemyngEmma LowndesGaby FrenchLara RossiAmy James-Kelly en India Ria Amarteifio is ook in die fliek te sien.

“Ek hoop dat fliekgangers saam met die karakters in MILITARY WIVES sal lag en huil, dat hulle geïnspireerd sal voel deur hierdie vroue se dapperheid en dat hulle die ou musiektreffers sal geniet,” sê Cattaneo.

MILITARY WIVES is ’n inspirerende goedvoel rolprent oor vriendskap, liefde en ondersteuning binne ’n gemeenskap. Die fliek word plaaslik versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal vanaf 20 Maart 2020 in bioskope te sien wees.

Kyk die lokprent hier: https://www.youtube.com/watch?v=KLPBiYXsKPQ

 INTERNASIONALE SKAKELS

Facebook: @militarywivesmovie

Nuts About Movies: https://www.facebook.com/NutsAboutMovies/

 

Leave a Reply