Abel Knobel: Musiek ’n ‘refleksie’ van sy eie kronkelpaaie

Jy het hom leer ken as die energieke en aantreklike blondekopsanger in die mannegroep NRG. En nou – ná ’n kort stilte, ’n verskyning op The Voice en ’n draai in Spanje – is Abel Knobel terug met ’n knal – en gereed om harte met sy sielvolle musiek te verower . . .

Met die eerste oogopslag val dit jou by: Iets aan die aantreklike blondekopman herinner jou aan iemand wat jy al voorheen gesien het . . .

Dalk is dit sy stoppelbaard; of dalk selfs daardie sjiek blonde kuif wat altyd perfek stileer en na regs gekam is.

Skielik besef jy: Dis die baard en die kuif, ja, maar eintlik is dit daardie strelende melodieuse stem van Abel Knobel – dieselfde stem wat vir vier jaar lank as ’n lid van die elektropop-mannegroep NRG (Energie) die een na die ander treffer uitgereik het.

Drie jaar lank was aanhangers optimisties afwagtend vir die sanger se volgende skuif; en nadat hy as ’n spanlid van Bobby van Jaarsveld ’n draai op The Voice (Suid-Afrika) gemaak het, stel hy nou amptelik sy debuut solo-album – én die eerste enkelsnit daarop – bekend.

Die album is getiteld Refleksies – en die musiek vertel stories van hoop; liefde en selfaanvaarding.

En ja, hy én sy musiek het in die laaste jare meer volwasse geword, vertel die sanger tergend.

My debuutalbum is ’n ander genre as waaraan aanhangers met NRG gewoond was. ’n Mens sou kon sê ek het groot geword . . . My klank is meer volwasse – en dis definitief iets wat die publiek nog nie gehoor het nie,” vertel hy.

Waar hy voorheen vir ’n elektropopklank bekend was – en as baskitaar- en klawerbordspeler vir die mannegroep – het sy debuutalbum eerder ’n volwasse temporêre klank. En ja, natuurlik ook effens pop- rock . . .

Sy eerste enkelsnit – getiteld Die Wildernis – vertel van hoop en liefde – ’n tema wat soos ’n goue draad deur die album loop.

Ek beskryf die snit as ’n feel good song. Dit gaan oor die avonture van die lewe; dat jy altyd meer kan bereik en meer kan leer as daar iemand is wat hierdie avontuur saam met jou ervaar. Die betekenis is eenvoudig: Om te verdwaal in Die Wildernis – wat ook al jou eie wildernis mag wees – is om jouself werklik te vind.

Die liedjie het ’n tydlose gevoel – en al die instrumente daarop is live en sonder elektroniese byklanke.

Dis nie net dié snit wat ’n dieperliggende betekenis het nie: Refleksies is soos ’n venster na die binnekamers van sy hart . . . Die lirieke van elke snit reflekteer op die verlede, en soms op die hede, en is ’n blik op sy lewensreise – op paaie wat soms gekronkel het; soms vol duwweltjies was en nie altyd maklik was nie.

Elke snit is ’n reis in sy lewe wat op welke wyse ook al ’n impak op hom gelaat het en hom gevorm het in die mens wie hy vandag in die spieël sien – en elke verhaal word op so ’n wyse vertel dat die luisteraar homself daarmee kan vereenselwig.

Dís die doel van die musiek: Storieliedjies wat jou aan jou eie reise herinner.

Die snitte vertel verhale wat met jonk én oud sal praat, en die tydlose elemente; die opgewekte elektroniese klanke; betekenisvolle lirieke en vervaardiging van die album mik ook na ’n breër gehoor.

As ’n jong sanger wat homself nou as solo-kunstenaar vestig het ek baie om te sê,” vertel Abel.

Daar is baie positiewe boodskappe in die album vasgevang. Dis nie moeilik om die temas van hoop, liefde en selfaanvaarding te sien nie. Hierdie is elkeen elemente wat in my persoonlike lewe weergaloos is. Ek wil hê die luisteraar moet weet: Daar is mense wat dieselfde pyn en worstelinge as jy ervaar – en dit ís moontlik om jouself te bevry.

Refleksies bestaan uit 17 snitte. Elkeen is deur Abel en Sean Butler – vervaardiger van die album – geskryf.

Vir hom is net een ding belangrik: Om ’n enkele lewe – of dalk meer – aan te raak.

Ek weet dinge gaan moeilik in die musiekbedryf. Daarom het hoop ek net een ding: Dat die album ’n verskil kan maak. As ek net tien mense se lewens verander, was dit vir my die moeite werd.

Die aantreklike sanger het nog ’n verrassing: Hy maak eersdaags ’n verskyning in die gewilde SABC2- sepie 7de Laan. En aanhangers sal maar moet wag om te sien watter kattekwaad hy op die kassie aanjaag . . .

Volg hom op sosiale media:

FacebookAbel Knobel

Twitter@ABknobel

Instagram: abelknobel

Leave a Reply