Rudi Claase span sy seile

Die talentvolle liedjieskrywer, sanger en musikant, Rudi Claase, voel vir die eerste keer in sy lewe of hy homself gevind het. Sy eerste solo-enkelsnit in sewe jaar word vandag landwyd vrygestel en soos ál die woorde wat die afgelope paar jare uit sy pen gevloei het, beloof “Seile” – wat ’n stukkie van sy hart oordra – om die egte Rudi Claase-stempel af te druk.

Elke liriek is noukeurig gekies, elke noot is sorgvuldig gespeel en elke emosie is besonders vasgevang.

Claase kan nie ophou praat oor “Seile” nie. “Ek dink die metafoor is ook gepas omdat ek nou, vir die eerste maal in jare, gereed is om op te staan vir myself en vir wie en wat ek is,” vertel dié bekroonde liedjieskrywer met ’n breë glimlag. “Seile” is nie net nóg ’n toevoeging tot sy skatkis van liedjies wat hy oor die jare geskryf het nie, maar Claase glo dat dit hoop sal bring vir elke mens wat daarna luister. “My droom is dat mense met die lied sal vereenselwig en opnuut krag sal kry om hul eie seile te span teen die wind. Elkeen moet besef dat daar lig in elke donker situasie is en dat hy/sy sterker is as wat hulle besef wanneer die lewe soos ’n golf oor hulle gemoed breek. Ek bid dat “Seile” in menigte harte sal inkruip en dat die lied hul lewens-temalied kan word,” vertel ’n emosiebelaaide Claase.

Dié kranige liedjieskrywer – wat sélf al in menigte harte ingekruip het – huiwer nie om te erken dat hy aan bipolêre depressie ly nie, maar hy glo dat hy hierdie gemoedsversteuring daagliks aanpak en oorwin.

Claase het al ’n mandjie vol pragliedere vir vele Suid-Afrikaanse sangers geskryf, waarvan die meeste groot treffers geword het. Meer as 700 van die liedjies uit Claase se pen het ’n plek in duisende musiekliefhebbers se harte waarvan die lirieke in hul geheue-kabinet gestoor is, en “Seile” behoort óók ’n spesiale bêre-plek te kry.

Hierdie keer hoop Claase dat dié lied – omdat dit vir hom soveel betekenis het – vir die hele, wye wêreld sal wys wie hy werklik is. Hy lê homself in “Seile” bloot en wys ’n rou stukkie van homself. “My stem is my eie en ek weet presies wat ek wil sê. Elke lied behoort vir my aan iemand en ek gee dit met liefde weg. Daardie kunstenaar se loopbaan word verryk deur iets waarvoor ek ’n talent van God gekry het. Dis die grootste eer. Oor die jare het ek myself ontgin en nóú weet ek wie ek is. Daarom het ek “Seile” vir myself geskryf, maar ook vir elkeen wat die lewe se donkerder kant ken en dalk moet hoor hoe om weer ’n kers aan te steek, sodat hulle harte weer warm lig kan uitstraal.

Die ATKV het Claase onlangs bekroon met ’n Afrikoontoekenning vir sy bydrae tot die Afrikaanse taal en musiek. Hierdie toekenning het vir Claase baie beteken en net nóg hoop en krag gegee om te doen wat hy die beste doen en dít is om te skryf en sing. Hy tree gereeld regoor Suid-Afrika op en staan reeds vir jare bekend as een van Suid-Afrika se Lieflinge. Met hierdie samewerkingskonsep het Claase ou liedjies afgestof en dit saam met ’n duetmaat aan gehore herbekendgestel. “Die Lieflinge” het gou ’n gewilde handelsnaam geword in elke huishouding wat die praglirieke en -stemme nostalgies waardeer. Claase is steeds passievol oor sy sangmaat, Charné Hugo en “Die Lieflinge” staan sterk. “Elke kunstenaar kan in ‘n groep welslae behaal en terselfdertyd sy/haar solo-drome najaag. Ek waardeer Charné só baie dat die nodige woorde ontbreek.”

Seile” se melodie en lirieke neem die luisteraar op ’n reis, ’n selfondersoekende reis. Claase glo dat dit harte diep sal raak en dat dit hartseer harte se vonkies sal terugbring. “Die tyd is nou my eie en ek respekteer eintlik myself uit God se genade dat ek hierdie stap kon doen. “Seile” is vir my bevrydend en veilig.

As ek my seile span teen die wind kan ek voel hoe die liefde my kry”, en dít is presies wat dit is: Die liefde het vir Rudi Claase gekry.

Volg Rudi op sosiale media:

Facebook: Rudi Claase

Twitter: @RudiClaase

Instagram: rudi_claase

 

 

Leave a Reply