Len Muller vier sewe suksesvolle jare in die musiekbedryf met ‘n nuwe kortspeelplaat (EP)

Len Muller is ’n veelsydige en talentvolle musikant, wat bekend is vir sy hoendervleismooi musiek, wat direk met die hart te praat.

Sy nuwe kortspeelplaat (EP) is vandag bekendgestel en die sanger is baie opgewonde hieroor omdat dit hom die geleentheid gegee het om ’n meer organiese produk, wat nie oorvervaardig is nie, op die rak te sit. Die album bestaan uit vyf van sy bestaande treffers, waarvan sy nuutste hartroerende enkelsnit – Oorgenoeg – een is. “Ek wou al baie lank van my musiek lewendig en akoesties laat opneem, met net die regte instrumente soos die tjello, banjo, ukelele, akoestiese kitaar ensovoorts,” vertel hy. “Hulle sê dat masjiene musiek in die toekoms perfek gaan maak en dat mense nie meer sal nodig wees nie. Maar ek voel dat menslikheid en emosie in musiek dit juis besonders maak, al breek daar ’n snaar êrens in die middel – want net soos wat ons foute maak, is daar ook foute in musiek.”

Hy deel verder: “Dis nou sewe jaar vandat ek die besluit gemaak het om voltyds in musiekbedryf te werk. Twee solo-albums later, weet ek nogsteeds nie altyd of dit die regte besluit was nie. Wat ek wel glo, is dat hierdie deel van my passie en roeping is. Om musiek te maak om in die kommersiële mark te pas werk nie vir my nie, want ek kom agter dat luisteraars my eie werk en styl meer waardeer. Ek wil nie voel dat ek met ander kunstenaars moet meeding vir die spreekwoordelike kollig nie. Elkeen moet tog ’n plekkie hê sonder om in kompetisie te wees, omdat dit nie eintlik oor die individu gaan nie. Ek wil help bou aan die onderstebo-koningkryk waar die laaste eerste is, die kleinste die grootste of belangrikste is en wie die minste het eintlik die meeste het… In hierdie koningkryk het almal ‘oorgenoeg’.”

Oorgenoeg, dié blondekopster se nuutste enkelsnit en musiekvideo wat spesifiek vir sy kortspeelplaat opgeneem is en gedurende Mei 2019 uitgereik is, is ’n treffende Afrikaans-Akoestiese verwerking wat sy vaardighede as liedjieskrywer en sanger behoorlik ten toonstel en selfs die kieskeurigste luisteraar tevrede sal stel.  Hierdie enkelsnit kan reeds gereeld oor die klankgolwe van radiostasies landswyd gehoor word!

Die snit kan beskryf word as rou en eerlik en kom uit ’n baie spesiale plek in die sanger se hart uit. “Vandat ek baie klein was, het ek ’n diep hartseer oor die armoede in ons land en het baie gehuil oor mense wat op straat moet bly. Ek kon nog nooit vertaan hoekom ’n sekere groep mense meer het as wat hulle nodig het, terwyl ander doodgaan van die honger nie. Die liedjie het dus ontstaan uit hierdie frustrasie met geldgierigheid”, verduidelik Len. “Ek het gevoel dat ek self nie veel finansieel kan doen om ’n verskil te maak nie, maar wat ek wel het is musiek. As ek een persoon kan kry om anders te dink of meer mededeelsaam te leef, dan is dit die moeite werd. Die lirieke is baie rou en eerlik en dit is seker een van die eenvoudigste liedjies wat ek al geskryf het, maar tog die naaste aan my hart.”

Oorgenoeg, wat deur Theo Crous van Bellville Studios vervaardig is, is ook die eerste liedjie wat hy saam met sy sussie, Miemie Blaauw, opneem en haar stem vul syne perfek aan in die laaste koorgedeelte van die enkelsnit. “Sy het my laat huil in die ateljee. Dit was baie spesiaal,” deel hy.

Volgens Len is die musiekvideo geskep om vir die liedjie ’n platform te skep en agtergrond te bied van wat agter-die-skerms by die ateljee gebeur. “Die idee was om meer te deel oor die skeppingsproses en nie noodwendig om ’n storie te probeer vertel nie. Hierdie enkelsnit praat vir hom self en die video ondersteun dit,” vertel hy. “Ons wou graag mooi visuele elemente afneem terwyl ek die lied sing, in oop spasies.” 

 Kyk die video hier:

 

Die beeldmateriaal is by die Voortrekkermonument verfilm, kort na Len se vertoning by Park Acoustics waar hy die liedjie vir die eerste keer lewendig opgevoer het. Reghardt, Werner en Nelis Botha van Blimp Films het die video opgeneem en vervaardig.

Die kunstenaar was ook, saam met Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Leon Gropp, Lizandra Winter en Liani Reynolds, deel van die betowerende reeks musiekkonserte, Musiek Soos Grond, wat in Mei 2019 by Villa Avianto in Bloemfontein en The Big Red Barn in Pretoria plaasgevind het. Hierdie reeks is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en is daarop gemik om vir kontemporêre kunstenaars ’n platform te gee om hulle hoendervleismooi lirieke, ware lewensverhale en veelsydigheid op die verhoog te deel. Die konsep is ongelooflik goed ontvang en daar word reeds nog ’n vertoning in Potchefstroom beplan vir 18 Julie 2019. Lugballon, ’n enkelsnit en musiekvideo deur al die kunstenaars wat deel was van die konsert om dit te bemark, kan tans op verskeie gewilde platforms gesien en gehoor word.

Len Muller se nuwe kortspeelplaat bewys nie net hoe talentvol dié musikant regtig is nie, maar bewys ook weereens hoe innoverend en veelsydig hy is. Kry die kortspeelplaat nou hier:  http://ditto.fm/akoesties

Kyk gerus die EPK hier:

 

LIEDJIES OP DIE KORTSPEELPLAAT

  1. Nuwe Horison (Akoesties)
  2. Oorgenoeg (Radioweergawe)
  3. Ek Glo (Akoesties)
  4. Sing vir Sente (Akoesties)
  5. Verdwyn

 

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/lenmuller1/?fref=ts

Twitter: @lenniemuller

Instagram: @lennie.muller

Webblad: www.lenmuller.co.za

YouTube: www.youtube.com/lenniemuller

SoundCloud: www.soundcloud.com/lenmuller

 

BESPREKINGS

E-pos: bookings@lenmuller.co.za  / len@lenmuller.co.za

Leave a Reply