Nuwe Afrikaanse duo, SKEMER, met hul 1ste enkelsnit, ‘Sê Dit Harder’

SKEMER, ‘n nuwe Afrikaanse man- en vrou-duo, het pas hulle heel eerste enkelsnit vrygestel en hulle gaan verseker Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers is in rep en roer hê.  SÊ DIT HARDER, wat beskryf kan word as ’n moderne Country-liedjie met ’n pop-aanslag, is soos ’n vars briesie in die bedryf en gaan beslis die radiogolwe oorneem.

SÊ DIT HARDER kom uit die pen van die bekende liedjieskrywer, Johan Oberholzer, en moedig luisteraars aan om nie hulle gevoelens op te krop nie. “Die snit gaan daaroor om jou emosies te openbaar. Om vir almal te vertel hoe jy regtig voel. Dikwels is jy te skaam om iemand in te lig dat jy van hulle hou, maar dit gaan nie net daaroor om dit te sê nie, jy moet dit ook wys. Ons wou mense dus uitdaag om dit ‘harder te sê’,” vertel die musiekpaar oor hierdie goedvoel-liedjie. “In ons huwelik beteken die liedjie ook om elke dag met jou maat te deel wat in jou hart is. Ons hoop die publiek gaan daarvan hou en dat dit êrens ’n verskil sal maak in iemand se lewe.” ’n Musiekvideo van dié treffer word vir later in die jaar beplan.

SKEMER, wat bestaan uit Armand en Andrea Espach, het in 2017 ontstaan nadat die paar op Facebook ontmoet het en nie net verlief geraak het nie, maar ook besluit het om hulle musiektalent te kombineer. Die groep, wat die vrystelling van hul eerste enkelsnit as die hoogtepunt van hulle loopbaan sover beskou, is passievol oor musiek en deel hierdie talent en energie graag op die verhoog met elke optrede. Sedert hulle saam begin musiek maak het, het die duo al by verskeie skole, troues, feeste, restaurante en funksies opgetree en ook een van die internasionaal-bekroonde groep, Prime Circle, se vertonings geopen.

Armand Espach het eers sy passie vir musiek op die ouderdom van een-en-twintig ontdek en besluit dat hy graag in Country wou spesialiseer. Dit het hom nie lank geneem om ’n gereelde gesig op die verhoog te word by kuierplekke in en rondom Polokwane en raakgesien te word deur die mense wat saakmaak in die vermaakbedryf nie. Sedertdien het hy al geopen vir sterre soos Juanita du Plessis en ook in 2010 die verhoog gedeel met Theuns Jordaan by Airport Africa Lodge. Die kunstenaar luister graag na musiek wat hom laat goed voel en verklap dat die bedryf hom geleer het om hard te werk om sy drome waar te maak.

Andrea Espach is die talentvolle vrou agter SKEMER met die strelende stem. Hierdie sielvolle sangeres is gebore om te vermaak en het reeds op veertienjarige ouderdom begin sing en is ook ’n baie goeie danser. In 2016 het sy begin met formele sangopleiding by ADAM se Kyle Grant, waarna sy Copperstone se heel eerste talentkompetisie gewen het. Sedertdien het sy al by verskeie feeste soos Innibos, restuarante en korporatiewe funksies opgetree. Andrea het ’n groot hart vir kinders en sou graag ’n onderwyser wou word as sy nie ’n musikant was nie. Die musiekbedryf het haar geleer om nederig te wees en die geleenthede te gebruik wat na haar kant toe kom.

Om mense se harte te raak met hulle musiek is dié talentvolle musikantpaar, wat ook onlangs getroud is, se grootste doelwit en met hulle eerste enkelsnit kry hulle dit beslis reg. “Ons is tans ook besig met ons volgende enkelsnit. Ek het my broer so ’n paar weke terug in n karongeluk verloor. Hy het vir ons kitaar gespeel en het ’n paar maande voor sy dood ’n lied saam Armand geskryf. Ons het dieselfde droom gedeel en wil graag sy laaste droom vervul.  Ek dink mense gaan mal wees oor die liedjie,” verklap Andrea oor hulle toekomsplanne. “Voor die einde van die jaar, wil ons ook graag ’n EP vrystel en onsself vestig is die musiekbedryf.”

Met SÊ DIT HARDER word SKEMER se talent in hoofletters aan luisteraars en radiostasies bekend gestel en bewys hulle ook dat dit moontlik is om iets uitsonderlik te skep in ’n musiekstyl wat soms geneig is om gewoon te wees.

Sê DIT HARDER is beskikbaar op alle digitale platforms.  Koop die liedjie hier:

SPOTIFY:
https://open.spotify.com/track/5YvJrR0M3fLa2i18nBWtGC?si=JIfLpRndRrKo7qAtKp-QYw
DEEZER:
http://www.deezer.com/album/91222182
APPLE MUSIC:
https://itunes.apple.com/za/album/s%C3%AA-dit-harder-single/1457313427

 

SOSIALEMEDIASKAKELS

 

Luister ook gereeld na jou stasie: http://www.musicalventureradio.com

Leave a Reply