Binnelanders se Ramey Short en sy nuwe enkelsnit!

Ramey Short, alombekend vir sy rol as Dr. Quinton Meyer in die daaglikse drama BINNELANDERS (weeksaande op kykNET om 19:30), se nuutste projek gaan aanhangers van die akteur se voete behoorlik laat jeuk van plesier – asook hul harte raak. Short stel eersdaags sy solo-album aan die wêreld bekend, maar intussen kan musiekliefhebbers hul ore spits vir die eerste enkelsnit ‘Al wat ek kan sê’ wat aan radiostasies landwyd gestuur word.

Al die liedjies op die album (wat nog in wording is) beteken iets vir my”, vertel Short oor dié nuwe produk, “omdat daar soveel tyd in die vervaardiging daarvan gegaan het. Ek is baie trots op hierdie eerste enkelsnit wat vrygestel word, omdat dit die eerste liedjie is wat ek geskryf het.

Short het ‘n spesifieke idee gehad vir die klank van die album, en het alles in sy vermoeë gedoen om dit weer te gee in sy aanbieding. “Ek sou die album beskryf as ‘n vars bries met ‘n internasionale geur,” verduidelik hy. “Dit is ‘n voetestamp storievertelling wat gebaseer is op boustene van hoop, liefde en inspirasie, en ek glo elke liedjie bevat ‘n storie wat vertel moet word. Hopelik gaan elke luisteraar wegstap met ‘n warm hart en ‘n opgewonde positiewe gesindheid wat hul lus vir die lewe weer gaan aanwakker, op die ritme en lirieke van my musiek.

Die tot dusver ongetitelde album is oor ‘n tydperk van amper twee jaar vervaardig, alhoewel die idee vir die album reeds in 2016 in die Kaap gebore is. “Ek het al van toe ek ‘n kind was gedroom om my eie album te maak, maar die geleenthede en tyd het ontbreek om aan hierdie droom te werk – nie eers te praat van die geld wat dit deesdae kos om ‘n album van gehalte op te neem nie. Terwyl ek in die Kaap gebly het vir ‘n wyle het ek besluit om hierdie droom te verwesenlik, en het vir my ‘n stemafrigter gekry terwyl ek my kop skoon gemaak het by die see. My leuse in die lewe is nie verniet ‘Face your fears and live your dreams’ nie, en om aan ‘n liefdesprojek soos hierdie te werk het my weer laat besef dat jy moet doen wat op jou hart gedruk word om te doen – daarom het ek begin skryf en werk aan hierdie album in ‘n tyd in my lewe waar die waters nie altyd spieëlglad was nie. Die storms wat ‘n mens soms moet aandurf om jou drome te bewaarheid is beslis die moeite werd.

Short verduidelik dat die pad na die eindproduk ‘n strawwe een was, en dat hy ‘n hele span kenners gekry het om hom te help met die vervaardiging daarvan. “Ek het meeste van die liedjies self geskryf, en die res saam met ‘n vriend voltooi. Toe het ek die liedjies na ‘n kundige op die gebied geneem om my te help om dit meer radio-vriendelik te maak, en toe het ek my kennis oor die vervaardiging van liedjies opgeskerp deur ‘n hele paar vervaardigers te nader, onder andere Werner Beukes, Ferdinand Skead en Rian Swanepoel – en dit was ‘n leerskool op sy eie. Op die ou einde van die dag is die album ‘n spanpoging sowel as ‘n enkellopende reis – een wat ek nog mee besig is omdat ek nog aan van die opnames van die liedjies skaaf. Tans is daar 20 liedjies wat ek voel goed genoeg is om op die album te verskyn, maar die proses om die regte keuses uit te oefen is nog nie voltooi nie. Aangesien hierdie my eerste album is, wil ek hierdie gedeelte van my loopbaan op ‘n hoë noot afskop.

Short vertel ook dat die Suid-Afrikaanse musieklandskap ‘n moeilike een is om jou voete in te vind. “Ek het iemand gesoek wat op dieselfde bladsy as ek is aangaande die tipe klank wat ek wou hê vir die liedjies, asook die gevoel wat ek wou weergee. Omdat al die liedjies op die album iets vir my beteken, en ek vas glo dat elke liedjie met die luisteraar sal praat, wil ek hê dat elke aanbieding ‘n luisteraar op ‘n reis sal neem. Elke liedjie is na my mening eerlik en opreg, en kan nie vergelyk word met die gewone ‘bubblegum’ popmusiek (lekker woorde op ‘n goeie ritme met aanvaarbare melodieë) wat aan die orde van die dag is nie.

Short is nie bang vir harde werk nie – nog minder om op sy eentjie te swoeg en sweet om sy drome te bewaarheid nie. Hy het grootgeword in ‘n kinderhuis in Durbanville, en later sport- en bemarkingsbestuur gaan studeer op Stellenbosch, waar ‘n talentsoeker van Los Angeles hom genader het om sy loopbaan ‘n effense wyer draai te gooi as wat hy aanvanklik beplan het. Short het na sy jaar oorsee weer terug gekeer na Stellenbosch en nog verdere kursusse in drama voltooi terwyl hy ‘n kelner was by die destyds bekende Julian’s Coffee Shop op die studentedorp. In 2008 het hy sy eerste deurbraak gemaak deur die rol van Quinton Meyer te aanvaar in Binnelanders, en soos hy self sê: “Die res is geskiedenis.”

Om ‘n album op te neem en voltyds te werk aan BINNELANDERS is ‘n uitdaging,” vertel Short, “maar al my vrye tyd het ek bestee aan die opname van hierdie projek. Soms het dit baie moeilik gegaan om hierdie droom te verwesenlik, want ek is nie iemand wat sommer net die eerste opname van ‘n liedjie aanvaar as die beste een nie. Ek is baie krities oor my werk, en wanneer daar kreatiewe struikelblokke was, het ek maar net aan die volgende vervaardiger se deur gaan klop. Ek het my eie geld ingespan om te verseker dat die eindproduk iets is waarmee ek nie net kan saamleef nie – maar wat my uiters opgewonde maak om dit aan die wêreld ten toon te stel.

Short se musikale ikone sluit onder andere Bon Jovi en Bryan Adams in. “Ek is nie hier om enige iemand na te maak nie – ek is ‘n musikant in my eie reg, met my eie klank en – meer belangrik – my eie woorde. Hierdie album is iets wat ek nou van my emmerskoplys kan afhaal. Des ondanks die feit dat ek heelwat teenkanting gekry het toe ek met die idee begin het, en ten spyte van die feit dat ek soms regtig alleen gevoel het in die samestelling van hierdie produk, het ek uiteindelik ‘n kindsbeen droom bewaarheid: ek het eersdaags my eie album wat op die rakke sal wees, en dit is beslis iets wat niemand ooit van my sal kan wegneem nie.

Die lied kan natuurlik gehoor word op jou gunsteling stasie:

Musical Venture Radio

 

Leave a Reply