Arno Jordaan verklaar ’n ‘derde wêreldoorlog’

Met meer as een miljoen trefslae op YouTube, nommer een treffers op verskeie radiostasies, goue- en platinum-albums, Ghoema-benoemings en verskynings op Huisgenoot Skouspel en Afrikaans is Groot, is Arno Jordaan geen vreemdeling nie.

Dié sanger, wat reeds veertien jaar bedrywig is in die musiekwêreld, se splinternuwe enkelsnit, Derde Wêreldoorlog is pas vrygestel.

Derde Wêreldoorlog, uit die pen van die bekroonde en talentvolle liedjieskrywer, Johan Oberholzer, handel oor ’n man en vrou wat baklei, maar nie sonder mekaar kan klaar kom nie. Hulle sal dan oorlog maak vir mekaar.

Arno vertel dat die liedjie ’n regte ‘Arno-tipe liedjie’ is. “Ek glo mense gaan dit baie geniet. Dis in die styl waaraan meeste van my aanhangers gewoond is en hulle sal lekker hierop kan dans,” sê hy. Arno wil hê sy musiek moet ’n boodskap van blydskap oordra. “Of dit nou ’n glimlag of ’n traan is… dit moet die van blydskap wees.

’n Musiekvideo vir die nuwe enkelsnit is ook in die pyplyn, maar Arno wil nie te veel verklap nie.

Wanneer hy egter nie agter die mikrofoon is nie, speel hy graag gholf en sê dat hy ’n positiewe mense is. “Ek sien min (dalk te min) die slegte dinge in die lewe raak, maar ek hou daarvan om ander gelukkig te maak en dis vir my lekker om te sien dat mense iets wat ek vir hulle gee, (my musiek) geniet,” voeg hy by.

Vra jy hom uit oor wat die musiekbedryf hom geleer het, antwoord hy vinnig: “Dat jy nooit moet vergeet waar jy vandaan kom nie.”

Verder bieg hy dat die grootste uitdaging vir hom die onregverdigheid in die bedryf is. “Dit is ’n verskriklike onregverdige bedryf, want dit maak nie saak hoe hard jy werk of weet wat jy bereid is om te gee van jouself nie, jy is altyd afhanklik van mense, hulle opinies en voorkeure, en ongelukkig kan almal nie van jou hou nie. Dis soms moeilik om te aanvaar.

Arno is tans druk besig om aan sy nuwe album te skaaf en skuur, wat op sy verjaardag vrygestel gaan word. En hy werk aan die Boobaloo Expo wat vir ’n tweede keer aangebied word op 1,2 en 3 Maart in die Sun Arena van Pretoria. Maar vir nou, verklaar hy ’n ‘derde wêreldoorlog’…

 

Ondersteun en volg Arno Jordaan op:

Facebook: Arno Jordaan

Twitter: @ArnoJordaan

Instagram: @arnojordaan

Leave a Reply