Manie Jackson is terug met ‘n nuwe album, ‘My Beste en meer’

Manie Jackson se vokale vernuf en vermoë om met woorde te toor het oor jare heen van hom ‘n gróót gunsteling op die SuidAfrikaanse musiektoneel gemaak. Met sy nuutste vrystelling, “My beste en meer”, lewer hy ‘n terugblik op sy mees suksesvolle snitte en verras met kraakvars nuutskeppings wat jou ore sal laat hunker na meer!

Die album beslaan 20 snitte – nagenoeg ‘n uur en ‘n half se ouditiewe bederf – en plaas Manie se uitsonderlike, klassiekkontemporêre stem in ‘n vertoonkas van juwele wat in ‘n ryke verskeidenheid uiteenlopende, dog uitstekend
komplementerende, kleure pronk.

Momente van diep, treffende monoloë en solo-instrument word uitstekend afgewissel met dié van vol orkes, simfonie, stem en agtergrondharmonie. Hierdie twee uiterstes, en die ryke mengsel van klanke tussenin, sorg vir ‘n luisterryke ervaring – enige iets van goeie Afrikaanse sokkie met polsende ritmes en techno-invloede, ‘n tiksel country, ‘n bietjie jodel en ‘n ballade of twee, tot meer geestelike werke en selfs ‘n wals met ‘n knypie Griekeland in sy hart.

Vir ‘n voet wat sy lyf danser wil hou is daar snitte soos “Waarom het jy nie nee gesê”, “Liefde en genade” en “Julia”, ‘n lekker jive met “Onthou se jodel”, twee meevoerende walse, “Sê nou” en “Bring die sterre nader”, sowel as effens rustiger snitte soos “Onthou my” en “Palms van my hande” wat ruimte maak vir bietjie asem skep.

“Die Hemel weet” – ‘n immergroen en alombekende gunsteling – maak ook sy verskyning op die album.

Manie neem ‘n oomblik om ‘n prag huldeblyk te bring aan legendes van gister wat ons vooruit gegaan het met “Ek, Bles en Gé” – ‘n roerende werk waar ‘n volkleurbeeld van groot name in die musiekbedryf in hul Ewige Woning met musiek geskets word.

Snitte met diepe lewenswysheid, soos “Dorings vir Ma” en “Loop net langs my spore”, sowel as geestelike werke soos “Engele”, “Fire within me” en ‘n pragtig herwerkte weergawe van die Onse Vader – op wysie van die ou bekende Auld lang syne – is ook op die album ingesluit.

Die album lewer presies wat dit belowe en soveel meer. Dis die hoogtepunte van alles Manie Jackson en ‘n pronkstuk van musikale diversiteit vir enige musiekversameling!

Die album is nou landswyd beskikbaar.

Volg hom op Facebookhttps://www.facebook.com/Manie-Jackson-Blad-143626159033190/

 

Skakel ook in na: Musical Venture Radio

om na die lied te luister.

Leave a Reply