Maroela Media spog nou met eie liedjie!

Nuus is, net soos musiek, iets wat nooit uit die mode gaan nie. Dit trek aandag, lok belangstelling en is altyd relevant. Daarom is dit net gepas dat ’n reuse-nuusbron, soos MAROELA MEDIA, wat Afrikaanssprekendes daagliks op hoogte hou van plaaslike en internasionale gebeure, bederf word met ’n liedjie wat vasvang hoe hierdie platform ons mense met mekaar verbind.

PLATTELANDERS, uit die pen van Muller Brandt en Michael van der Walt, is geskep toe dié nuusreus op soek was na temamusiek vir hulle vervolgverhaal met dieselfde naam. “Die klank moes eg Afrikaans wees, maar ook spreek tot ’n mark wat wyer is as net die platteland. Iets tong-in-die-kies, positief en vrolik, wat boeretrooskuiers en samesyn versinnebeeld,” verduidelik Susan Lombaard, uitvoerende hoof van MAROELA MEDIA. “Michael en Muller is albei baie talentvolle musikante wat graag saam werk. Hulle klank is eg Afrikaans en hulle het ’n goeie sin vir humor. Daarom was hulle die perfekte kunstenaars om dié liedjie se lirieke en musiek te hanteer en hulle stel beslis nie teleur nie.”

Volgens die sangers, wat ook die liedjie vervaardig het, het hulle ’n tipiese prentjie probeer skep van hoe dinge op ’n plattelandse dorpie sou verloop – met die hoop dat almal wat al in ’n stadium op ’n kleindorpie gewoon (of gekuier) het, daarby aanklank sal vind. Die eindresultaat is ’n opgewekte lekkerluister-dansnommertjie wat, met die gebruik van verskeie instrumente soos die mondfluitjie, dit regkry om die wel en weë van die Afrikaanse gemeenskap perfek vas te vang. Dit herinner ook dat alhoewel die lewe gebeur en nuus nie altyd positief is nie, tragedie die Afrikaanse gemeenskap dikwels nader aan mekaar bring.

“Dis vir ons regtig ’n groot eer en voorreg om deel te wees van hierdie projek. Ons hou baie van MAROELA MEDIA se mense en dit waarvoor hulle staan, want ons deel ook hulle liefde vir Afrikaans, mense en die Here,” sê Muller en Michael oor dié goue geleentheid wat hulle te beurt geval het. “Ons albei werk hard om ons musiekloopbane te bevorder en hopelik sal die bekendstelling van dié lied help om ons te vestig as liedjieskrywers. Om meer liedjies te skryf is een van ons hoof-mikpunte en ons is tans besig om te werk aan ’n paar nuwe idees.”

PLATTELANDERS word op 3 Oktober 2019 aan radio landswyd vrygestel en is ook die temalied van MAROELA MEDIA se nuwe digitale inisiatief, Maroela-fontein, wat aan die einde van die jaar bekend gestel word en waar lesers as’t ware kan deel word van dié digitale dorpie.

Lombaard sê verder: “Afrikaans is veel meer as ’n taal. Dis ’n identiteit waarmee miljoene mense in ons land vereenselwig. Met PLATTELANDERS wou ons met klank en lirieke ’n prentjie skep van wie ons is. Ons glo dat elke Afrikaanssprekende iets van hom- of haarself in die liedjie sal vind. Ons hart klop Afrikaans en met hierdie liedjie neem ons ons droom, om ’n Afrikaanssprekende gemeenskap uit verskillende agtergronde saam te bind en te laat tuis voel, nog ’n treetjie verder. Ons wil hulle weer laat saamsing en -lag en hulle met nostalgie herinner aan waar hulle vandaan kom. Ons wil vir hulle hoop skep deur ’n liedjie wat uit die gemeenskap vir die gemeenskap is.”

 

DIE MANNE AGTER DIE MUSIEK

Muller Brandt is ’n Afrikaanse sanger en liedjieskrywer wat glo dat hy en ander kunstenaars ’n stem van hoop in die land moet wees. Dié Pretorianer kom uit ’n musikale familie en het ná skool sy musiekdiploma aan die Kampus van Uitvoerende Kunste (COPA) verwerf. Sedertdien het hy al saam met van die land se grootste vervaardigers gewerk en verskeie enkelsnitte, waaronder “Ballades wat resoneer” en “Jy is”, uitgereik wat speeltyd op die Top-20 van verskeie radiostasies se treffersparades geniet het.

Muller put graag inspirasie uit die musiek van internasionale sterre soos Ed SheeranJohn MayerBon Jovi en Chris Tomlin, en uit plaaslike kunstenaars soos Theuns Jordaan, Matthew Mole, Joshua na die Reën, Len Muller en Kaleidoskoop. Hy hoop hy om binnekort ook sy eie CD ook vry te stel, te gaan toer en vir ander kunstenaars musiek te skryf.

Michael van der Walt is al van skooltyd af besig met musiek, maar dit het eers in sy matriekjaar regtig in sy hart begin leef toe hy homself geleer kitaarspeel het. Kort daarna het hy betrokke geraak by die kerk se musiekspan en sommer gou die jeugmusiekbediening gelei.

Nadat hy ’n talentkompetisie gewen het met een van sy oorspronklike liedjies, het hy ’n musiekgroep begin wat later opgebreek het soos wat die lewe met elkeen van hulle gebeur het. In 2016 het hy die groep, ’n Pel Van My, begin saam met Muller Brandt en begin sing by troues, feeste en funksies.

Hy beplan om binnekort ’n splinternuwe projek aan te pak, waarmee hy oorspronklike musiek onder die naam – Mighael van der Walt – gaan vrystel.

PLATTELANDERS getuig nie net van hierdie twee musikante se ongelooflike talent nie, maar ook van die passie en liefde van ’n Afrikaanse gemeenskap wat, ten spyte van geskille, altyd daar sal wees vir mekaar.

Die liedjie sal vanaf 3 Oktober 2019 op Joox beskikbaar wees en binnekort op alle ander digitale platforms. Dit is ook reeds op Maroela se winkel, die Koöperasie by www.maroelawinkel.co.za beskikbaar, so as jy daarvan hou kan jy dit nou dadelik daar gaan aanskaf!

SOSIALEMEDIASKAKELS

MAROELA MEDIA

Facebook: https://www.facebook.com/MaroelaMedia/

Instagram: @maroela_media

Twitter: @maroelamedia

Webblad: www.maroelamedia.co.za

 

MULLER BRANDT

Facebook: https://www.facebook.com/mullerbrandtmusiek/

Instagram: @christiaan_mullerbrandt

Webblad: www.mullerbrandt.co.za

 

MICHAEL VAN DER WALT

Facebook: https://www.facebook.com/mighaelvdw/

Instragram: @mighaelvanderwalt

Leave a Reply