André Schwartz vier sy pad na sukses met nuwe album, enkelsnit & vertoning.

“Elkeen van ons het ’n pad wat ons in die lewe moet stap. Soms is daar kronkels en draaie, wat ons voete seermaak en selfs laat bloei. Ander kere raak die las wat ons moet dra so swaar, dat dit ons breek. Maar ’n mens staan altyd weer op. Hoop en geloof is wat ons dra,” verklap Suid-Afrika se grootste vermaaklikheidskunstenaar, André Schwartz, oor die betekenis agter die titelsnit van sy langverwagte nuwe album, DIE PAD.

Hierdie hoendervleismooi Pop-ballade, uit die pen van Roux Cloete, is die derde vrystelling vanaf die nuwe album en is een van daardie liedjies wat direk met die siel praat, omdat gehore van alle ouderdomme by die boodskap kan aanklank vind.

“Almal van ons het al struikelblokke beleef en daarom dink ek dat mense van die liedjie sal hou. Dit is ’n pragtige produksie deur Christi Schutte wat ek vreeslik geniet om te sing, so ek hoop dat mense dit net soveel sal geniet om daarna te luister,” sê hy.

DIE PAD volg in die suksesvolle voetspore van Tweede Kans en Ek sal Wag wat beide baie goed ontvang is en bo-aan die treffersparades van verskeie groot radiostasies gepronk het. Albei enkelsnitte is saam met treffende musiekvideos uitgereik, wat al deur ’n paar duisend mense op YouTube gekyk en ook steeds op die kassie te sien is.

Kyk Ek Sal Wag se video hier:

André, wat onlangs met ’n Ghoema-musiektoekenning vereer is vir sy lewenslange bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek, is baie opgewonde om sy album uiteindelik met aanhangers te deel en beskryf dit as ’n vars Afrikaanse Pop-album, wat nuwe klanke met elemente van sy vorige werk kombineer.

Die CD bestaan uit tien oorspronklike snitte wat deur verskeie liedjieskrywers geskep is, asook vier bonussnitte wat verwerkings is van bestaande gunstelinge soos Piano Man, Lief Vir Alles Hier en meer. I Dare To Dream, ’n hartroerende duet saam met Yvonne Chaka Chaka, vorm ook deel van dié indrukwekkende speellys.

“Die hoofinspirasie agter die nuwe vrystelling was om meer op die verhoog te wees. Optredes is my pitkos. Daar het so baie mense aan hierdie album gewerk en dit is wonderlik hoe ’n klomp verskillende style en klanke so mooi kon saamsmelt om ’n beeldskone eindproduk te lewer,” deel hy. “Wat die album so besonders maak, is dat elke liedjie ’n ander storie het om te vertel.”

As jy vir hom vra watter liedjies hom na aan die hart lê, verklap die sanger dat Negentien September – waarvan die musiek deur Christa Steyn geskryf is vir PG du Plessis se rolprent met dieselfde naam – vir hom baie spesiaal is, aangesien hy self ’n groot aanhanger van du Plessis is. Hy is ook mal oor Perfek Vir My se lirieke, omdat hy meen dat dit ’n eerlike en pragtige manier is om vir iemand te sê hoe wonderlik hulle is.

 Sy nuwe albumvrystelling loop hand-aan-hand met ’n konsertreeks met dieselfde naam wat spesiaal deur die veelsydige ster vir gehore saamgestel is. Dié multimedia-vertoning word beskryf as ’n vreugdevolle en nostalgiese reis deur die lewe van hierdie ongelooflike musikant. Dit bied ’n kombinasie van musiek, staaltjies uit André se verlede en hede en stel sy fenomenale opera-stem ten toon. Die regie word behartig deur Casper de Vries.

“Die Pad is daarop gemik om almal te herinner om die lewe te waardeer en die stories wat ek deel is gevul met humor en positiewe gedagtes. Dit is vir my belangrik dat mense weet dat ek regtig nog soveel musiek wil maak as moontlik,” verklap hy.

André is al van jongs af doenig met musiek en het op veertien sy televisiedebuut gemaak. Hy het klassieke musiekopleiding gehad en is net so gemaklik agter die klavier as agter die mikrofoon.

Dié veelsydige superster is nie net ’n uitstaande sanger, liedjieskrywer, verhoogkunstenaar, akteur (Sterlopers7de Laan) en televisieaanbieder nie; maar ook ’n besigheidsman van formaat, wat alles in die lewe met passie en presiesheid aanpak.

Daar is veertien solo-albums op sy kerfstok, waarvan byna almal goue verkoopstatus bereik het en verskeie liedjies deur hom self geskryf is. Verder is hy bekend vir verskeie radiotreffers soos Ek wil jou nooit weer sien en Lief Vir Alles Hier. Hy het ook ’n besonderse manier om gehore vir ure lank te bekoor met sy aangrypende en sjarmante verhoogpersoonlikheid.

Hy is ook ’n uiters talentvolle teaterster, wat bekendheid verwerf het vir kragtige hoofrolvertolkings in verskeie musiekblyspele soos Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat, Jesus Christ Superstar, Pirates of Penzance en The Phantom of the Opera. Vir laasgenoemde het hy talle toekennings ontvang en word hy beskryf as een van die beste ‘Phantoms’ ter wêreld en dra hy Andrew Lloyd Webber se stempel van goedkeuring.

 André Schwartz se nuwe enkelsnit en album was beslis die wag werd en getuig van DIE PAD wat hy deur sy suksesvolle loopbaan moes stap om te wees waar hy vandag is. Nie net stel elke liedjie op sy nuwe vrystelling sy uitsonderlike talent en kreatiwiteit as musikant ten toon nie, maar bewys dit ook weereens hoekom hy een van die mees geliefde kunstenaars in die land is.

 

 LYS VAN SNITTE

Die Pad

Tweede Kans

Trap in my Spore

Negentien September

Perfek vir My

Ek Sal Wag

Roep My

Stukke Optel

I Dare To Dream (met Yvonne Chaka Chaka)

Ek Kom Huistoe

Bonussnitte

Lief Vir Alles Hier

Ek wil jou nooit weer sien/ Met Jou In My Lewe Medley

Hello

Piano Man

 

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/AndreSchwartzOfficial/

Twitter: @Andre_Schwartz

Instagram: @andreschwartzsa

YouTube: https://www.youtube.com/user/AndreSchwartzVideos

Webblad: www.andreschwartz.co.za

 

ALBUMNAVRAE

Christien De Klerk

E-pos: christien.deklerk@umusic.com

Leave a Reply