Geliefde SA Country-Sangeres, Chereé, se nuwe musiekvideo is pas bekendgestel!

Chereé het pas haar langverwagte album, WILDE WATERS, vrygestel en nou volg die Country-ster se pragtige musiekvideo van die titelsnit.

Die album het pas die rak getref het reeds die nommer 1 posisie op iTunes behaal. Die album bestaan uit 13 snitte wat deur die kunstenaar self, asook ander gesoute liedjieskrywers soos Rudi Claase, Vaughan Gardiner, Hugo Ludik, Michael Lindt, Tony Ridgway en Roux Cloete, geskep is.

Die titelsnit is saam met die album as enkelsnit vrygestel. Wilde Waters is ’n pragtige kommersiële popliedjie, uit die pen van die bekende liedjieskrywer Rudi Claase, met ’n melodie wat strelend is op die oor.

Dit gaan oor mense se daaglikse worsteling om geluk binne ’n verhouding te vind, want partykeer wil iets net nie werk nie al baklei jy hoe hard daarvoor. “Hierdie liedjie is definitief nie ’n weerspieëling van my en Wynand se verhouding nie. Ek besef egter dat nie almal so gelukkig is nie en dat hierdie amper perfekte verhouding nie vir almal beskore is nie. Elkeen van ons is tog maar op soek na daardie spesiale persoon wat ons op alle vlakke kan aanvul,” vertel Chereé. “Die liedjie vertel juis van hierdie struweling tussen wat die hart wil hê en dit wat in realiteit moontlik is. Dit is ’n terugblik op mooi herinneringe wat twee mense gedeel het met die hoop dat dinge sal uitwerk, maar dan skop die besef in dat liefde sy eie gang gaan.”

Die musiekvideo, is deur Christian Wolf verfilm en vervaardig in en rondom Pretoria. In die video sien die kyker wat in twee mense se gedagtes aangaan, terwyl hulle met hulle eie emosies worstel. Die vrou reis deur haar gedagtes na ’n ou gunsteling-plek van haar en haar geliefde met die hoop dat alles weer reg sal kan kom. Hulle werk deur ’n klomp probleme en dit lyk nie asof hulle tot ’n vergelyk sal kan kom nie en miskien uitmekaar gegroei het. “Die storie beeld die reis uit van hulle lewe saam en hoe hulle intussen ook verlore geraak het. Jy sien hoe hulle sukkel om weer bymekaar uit te kom en wonder of dit genoeg sal wees om aan te hou probeer,” verklap die musikant. “Die boodskap is dat al is jy hoe lief vir iemand en al probeer jy dit ’n duisend keer maak werk, is daar net sommige mense wat nie bedoel is vir mekaar nie.” Hare, grimering en stilering vir die video en albumomslag is deur Suna Robberts van Image by Suna behartig.

Kyk video hier:

 

Die album is beskikbaar op alle digitale platforms hier: https://umgafrica.lnk.to/wildewaters

 

VOLG HAAR OP SOSIALEMEDIA

Facebook: https://www.facebook.com/Cheree-146481635369938/

Twitter: @chereestrydom

Instagram: @chereestrydom

Leave a Reply