André Schwartz met sy nuwe enkelsnit, ‘Ek sal wag’

’n Superster word beskryf as ’n persoon of vermaaklikheidspersoonlikheid wat gevier word vir sy uitsonderlike talent en veelsydigheid. Alhoewel daar baie begaafde kunstenaars in Suid-Afrika is, geniet slegs ’n handjievol werklik superster-status, en André Schwartz is een van hulle.

Dié bekroonde sanger, liedjieskrywer, verhoogkunstenaar, akteur (Sterlopers7de Laan) en televisieaanbieder, wat beskou word as een van die land se mees talentvolle musikante, het pas sy nuutste enkelsnit, EK SAL WAG, vrygestel.  Dit is die tweede enkelsnit-vrystelling vanaf sy komende album wat op 19 Julie 2019 vrygestel sal word en dit is reeds besig om die trefferleer te klim.

Die snit kan beskryf word as ’n popliedjie, met ’n ouderwetse kontemporêre gevoel. Dit is geskryf deur die kykNET Afri-Visie-wenner, Hanmari de Wet, en handel oor ’n onwrikbare geloof in die liefde. Verder dra dit ook die boodskap dat seer genees kan word en dat jy nooit moet ophou baklei vir wat jy wil hê nie. “Die liedjie het dadelik my aandag getrek as gevolg van die nbesonderse lirieke en melodie, maar ook oor die verhaal wat dit vertel,” verduidelik André.

Hy nog altyd glo dat musiek ’n storie moet vertel en aanklank vind by die gehoor :   “Alles moet ’n storie vertel en daar moet ’n rede wees hoekom jy ’n liedjie op die verhoog of op n CD sing. Dit is natuurlik belangrik dat luisteraars die wysie moet geniet, maar hulle moet ook met die emosie en boodskap kan identifiseer.”

Hy glo dat die snit goed ontvang sal word, omdat die tema universeel is. “Ons moes al almal moeilike struikelblokke oorkom, maar die krag lê nie daarin om weg te stap sonder oplossings nie. Ons moet bereid wees om die goed en die sleg te trotseer en daaruit te leer ” sê hy.

EK SAL WAG word verder gekomplementeer met ’n musiekvideo wat op 10 Mei 2019 uitgereik sal word.  Dit is ‘n video met ‘n ongewone invalshoek met konsep ontwikkeling deur André en regie deur Christiaan Wolf.

Die storie word ‘vertel’ deur middel van kinders wat met poppe speel. Ek het dieselfde uitrusting aan as een van die poppe en daar is ’n konstante verskuiwing tussen ’n fiktiewe wêreld en die werklikheid. Dit speel af teen die onskuld van kinders wat nou die spel manipuleer – maar dit is eintlik  ’n blik op hulle emosionele toekomswerklikheid. Dis pure kabaret teen die agtergrond van ’n oëenskynlike naïewe liedjie,” verduidelik die sanger.

André is al van jongs af doenig met musiek en het op veertien sy televisiedebuut gemaak. Hy het klassieke musiekopleiding gehad en is net so gemaklik agter die klavier as agter die mikrofoon.

Daar is  16 solo-albums op sy kerfstok, waarvan byna almal goue verkoopstatus bereik het en verskeie liedjies deur hom self geskryf is. Verder is hy bekend vir verskeie radiotreffers soos Ek wil jou nooit weer sien en Lief vir alles hier en het hy ’n manier om gehore vir ure lank te bekoor met sy aangrypende en sjarmante verhoogpersoonlikheid.

Hy is ook ’n uiters talentvolle teaterster, wat bekendheid verwerf het vir kragtige hoofrolvertolkings in verskeie musiekblyspele soos Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat, Jesus Christ Superstar, Pirates of Penzance en The Phantom of the Opera. Vir laasgenoemde het hy talle toekennings ontvang en word hy beskryf as een van die beste ‘Phantoms’ ter wêreld.

Afgesien van al sy loopbaanhoogtepunte en –ervaringe, glo André dat die vermaakbedryf baie het om vir kunstenaars te leer – selfs vir diegene wat al vir jare daarby betrokke is. “Wanneer jy al vir so lank in die bedryf werk, begin jy wonder of jy steeds relevant is. Om relevant te bly, moet jy seker maak dat jy die kontemporêre genre ten volle verstaan en bereid wees om by die jonger generasie te leer. Jy moet ook, natuurlik, gewillig wees om jou kennis met ander te deel.”

Met so ’n indrukwekkende loopbaan om na terug te kyk, is dit vir hom moeilik om spesifieke hoogtepunte uit te sonder. “Elke nuwe vrystelling is ’n hoogtepunt en dit is ’n ongelooflike gevoel wanneer jy hoor dat jou liedjies goed doen op die radio,” sê hy, “Maar my eerste Afrikaanse album “ Lief vir Alles Hier “ en my rol as ‘The Phantom’ sal altyd ’n baie spesiale plek in my hart hê.”

Een van die aspekte wat van hom so ’n merkwaardige musikant maak, is die feit dat sy werk so veelsydig is. Buiten vir sy komende album en vorige enkelsnit, Tweede Kans, wat laas jaar vrygestel is, is hy ook besig om te werk aan ’n opwindende nuwe vertoning met die naam  Die Pad.

Dié vertoning word beskryf as ’n vreugdevolle en nostalgiese reis deur die lewe van hierdie ongelooflike musikant. Dit bied ’n kombinasie van musiek, staaltjies uit André se verlede en hede en stel sy fenomenale stem ten toon, wat dit maklik maak om te sien hoekom hy Andrew Lloyd Webber se stempel van goedkeuring dra.

“Die Pad is daarop gemik om gehore te herinner om die lewe te waardeer en die stories wat ek deel is gevul met humor en positiewe gedagtes,” verklap hy.

 EK SAL WAG stel nie net André Schwartz se ongelooflike talent ten toon nie, maar is ook een van daardie liedjies wat – soos die sanger – ’n prominente plek in die Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis verdien.

 Dié liedjie is nou beskikbaar op alle digitale platforms 

xxxx

 

VOLG HOM OP SOSIALE MEDIA

Facebook: https://www.facebook.com/AndreSchwartzOfficial/

Twitter: @Andre_Schwartz

Instagram: @andreschwartzsa

YouTube: https://www.youtube.com/user/AndreSchwartzVideos

Web: www.andreschwartz.co.za

Leave a Reply