Deon Groot se nuutste enkelsnit, ‘Wyn’

Ons lewe in moeilike tye, met soveel probleme en bekommernisse en dis dikwels moeilik om net te laat gaan en die lewe te geniet. Maar Deon Groot se nuwe enkelsnit en musiekvideo, WYN, herinner ons om presies dit te doen!

Die musiekvideo is pas hierdie afgelope naweek op sosiale media platforms asook op die kykNET Top20 en Jukebox vrygestel en kykers en volgelinge is absoluut dol daaroor!

Dié liedjie, uit die kunstenaar se eie pen, is geïnspireer deur die behoefte om mense daaraan te herinner om hulleself te geniet, ongeag van wat rondom hulle gebeur. “Daar is soveel verskillende probleme in vandag se lewe, soos liefde, werkstres of politiek… Ons wou iets skep wat fokus op die goeie, eerder as die slegte dinge,” verduidelik Deon. “Dit gaan daaroor om ’n goeie tyd te hê; miskien selfs te goed! Ek wil mense herinner om eerder op die positiewe te fokus – musiek, pret en mooi tye.

Hy erken egter dat luisteraars moontlik geskok gaan wees wanneer hulle WYN vir die eerste keer hoor: “Maar dit is een van daardie liedjies wat jy oor-en-oor gaan luister – die wysie is tydloos en die is lirieke lekker om te hoor.

Net soos die snit, beloof die musiekvideo ook om hope vermaak te skep. Dit is in ’n klein kroeg, in die middel van niks en nêrens, verfilm en vertel die storie van hoe ’n doodgewone partytjie hand uitruk en verander in een vir die boeke!

In die video, verander ’n gewone aand in een van daardie geleenthede wat jy sukkel om die volgende dag te onthou… Jy weet dat dinge effens chaoties geraak het, maar jy kan nie onthou hoekom nie,” deel Deon. “Dit herinner die gehoor om soms van hulle probleme te vergeet en hulleself net te geniet.

Kyk die video hier:

WYN is die eerste enkelsnit vanaf Deon se nuwe album wat gedurende Mei 2019 uitgereik sal word en hy glo dat dit ’n goeie idee skep van wat van die res van die album verwag kan word.

Volgens Deon, is die inhoud op sy nuutste ateljee-album, wat ses maande geneem het om op te neem, verweef met liefdes- en partytjieliedjies. “Elke liedjie op die album moes aan die kenmerkende klank van die Namakwaland voldoen en by ’n groter gehoor aanklank vind, sonder om prys te gee wie ons as kunstenaars is,” sê hy. “Die grootste uitdaging was om te verseker dat dit uniek bly en nie net tendense navolg nie. Ons moes getrou bly aan ons self, sonder om luisteraars af te skrik.

Vir die sanger, is die hoofdoel om waardering vir sy musiek te skep met goeie melodieë en eerlike lirieke – hy wil graag hê dat mense dit moet geniet vir wat dit is.

Hy beskryf die album as eenvoudig, maar treffend: “Ons moet maak soos die Namakwalanders – hulle leer ons om te dans, om saam te kuier, en om musiek en goeie geselskap te geniet,” verklap hy.

Dit is egter onmoontlik om te raai watter liedjie die grootste treffer gaan wees. “Ek het ’n gevoel dat enige snit, wat ons vrystel, positief ontvang sal word en die potensiaal het om groot hoogtes te bereik.

Op die ou einde van die dag, meen die musikant dat hy net graag wil hê dat aanhangers die album moet geniet: “Mense moet daarna luister en hulleself herken in die musiek. Elke liedjie vertel ’n storie wat ek graag wil hê almal moet hoor.

Deon, wat sy debuutalbum, Gee my Oor, in 2017 vrygestel het, het in ’n musikale huis grootgword. “My ma was ’n musikant en het gewoonlik in die aande vir ons klavier gespeel toe ons klein was,” vertel hy.

Hy het al jare terug daaraan begin werk om sy eie musiek te skep. “Almal dink dat jy oornag ’n sukses word. Maar dis nie waar nie, ek skryf al liedjies van 2004 af. Ek tree ook al sedert 2007 in kroeë op en het in 2015 my eie ding begin doen. Dit het amper vyftien jaar se harde werk, geloof, droom en bou geneem om te kom waar ek nou is.

Deon glo dat elke situasie in die lewe êrens heen lei – hartseer, liefde, geluk – en dat almal emosies op ’n unieke manier ervaar. Dit is wat hom inspireer en sy musiek vorm, wat wissel tussen baie ernstig tot skreeusnaaks.

Hy het ook ’n groot hart vir diere en sou graag ’n wildbewaarder wou wees as hy nie ’n musikant was nie. “Ek glo dat ek in die natuur, tussen diere hoort. Min mense weet dit, maar ek het ’n groen boomluislang met die naam Ceimera. Ek is gek oor diere.

Wanneer jy hom vra wat die musiekbedryf hom oor die jare geleer het, antwoord hy: “Geduld en uithouvermoë. Jy sal dit nooit maak as jy nie in jouself glo nie. Dit is die grootste uitdaging om nie ander mense se opinies oor jou werk, goed of sleg, te ernstig op te neem nie. Dis belangrik om net jouself te wees en te leef vir dit wat jy graag wil bereik.

Wyn is beskikbaar op alle digitale platforms – kry die liedjie hier:
https://umgafrica.lnk.to/Wyn

VOLG HOM OP:

Luister ook gereeld na jou stasie:

Musical Venture Radio

Leave a Reply