Chris Duvenage vertel sy ‘stories’ met liedjies

Die sanger en liedjieskrywer, Chris Duvenage, se eerste enkelsnit vanaf sy debuut-album, Stories #1, is onlangs vrygestel en sal aanklank vind by die wat al afskeid moes neem van hul geliefde.

Tydelik, uit Chris se eie pen, handel oor die proses waar iemand hul geliefde verloor. Dit gaan oor die punt wat die persoon bereik om die een wat weg is vry te spreek en net goeie dinge oor die ander persoon te spreek en toe te wens. “Soos mens deur die lewe gaan ondervind mens teleurstellings in liefde, die  inspirasie en die boodskap is dat mens die persoon moet vryspreek in plaas van verwyt en kwalik neem,” vertel die sanger.

Chris sê dat die liedjie gegroei het vandat hy dit geskryf het tot die finale produk. Hy wil graag hê dat die liedjie, nes die ander op die album, ’n verskil sal maak in die manier na hoe mense na seker dinge en aspekte van die lewe kyk. “Elke mens kan vereenselwig met die gevoel waar liefde verlore is en die proses waardeur mens gaan, ek hoop en glo dat dit goed ontvang sal word.”

Die liedjie is in Chris se studio opgeneem en verder verwerk deur Sean Manley van Manley Recording Studios. “Die lied het ’n paar ekstra vocals tussen die lirieke wat dit makliker maak om saam te sing en ek glo die dromme maak dit ’n lekker luister-lied,” verduidelik Chris.

’n Musiekvideo, wat eersdaags op kykNET NOU gespeel sal word, is in 2018 vrygestel. Dié musiekvideo, wat deur Roelien Roux van Pinnacle Studio Videography opgeneem en vervaardig is, speel voor ’n ou gebou in Parlementstraat in die middestad van Pretoria af. Daar is ook tonele in ’n bos in Wolwespruit verfilm. “My vrou, Marni Duvenage het ingestem om die model te wees in die video. Dit handel oor terugflitse van herinneringe wat verwys na ‘hoe dinge was’ in konteks van die liedjie, en hoe ek dan sing oor die tema van die lied en hoe die ‘persoon’ dan vrygespreek is.

KYK DIE MUSIEKVIDEO HIER:

’n Bietjie meer oor Chris

Chris Duvenage, wat reeds twaalf jaar besig is met musiek, se passie vir musiek het reeds van kleintyd begin toe hy na orrelmusiek en goue oues soos Cliff Richard geluister het. Rugby was bo aan sy droomlysie, maar na ’n besering het die lewe ander planne gehad met hom en in 2006 na hy ’n kitaar gekoop het, het die musiek gogga behoorlik gebyt.

Ed Sheeren se musiek inspireer Chris en voeg dan by waarom hy musiek maak: “Die verskil wat musiek kan maak in mense se lewens. Ek het seker dinge in die lewe ervaar wat ek deur middel van musiek wil deel, die eerste snit op die Afrikaanse album se naam is Okay en maak nie saak waardeur jy gaan in die lewe, Smile maar, dis als Okay.”

Vra jy hom wat mense nie van hom weet nie, antwoord hy graag: “Ek het op ’n plaas groot geword met sewe kinders in die huis, en baie stories om te vertel.”

En die grootste les wat hy geleer het? “Dat elke musikant se musiek saakmaak en dat die sukses van elke kunstenaar nie afhang van hoeveel aanhangers en luisteraars nie, maar in die verskil wat dit maak in ’n paar lewens,” vertel hy.

Terwyl Chris woeker met sy eerste Afrikaanse album, kan aanhangers ook gereed maak vir ’n Engelse album. “Ons is besig met ’n liedjie op die Engelse album genaamd Shoelace. Dis ’n lekker liedjie met komieklike lirieke se samestelling en stemme. Ek is opgewonde oor hierdie liedjie. Dit mag ook dalk die liedjie wees met die eerste musiekvideo op die album My Stories #2,” verklap hy.

 

SOSIALE MEDIA SKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/cdmusiek/

Twitter: http://www.twitter.com/chrisacd

Soundcloud: https://m.soundcloud.com/chris-duvenage

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCS7y27QK4ENwB5paDzawn2w

Webblad: https://cdmusic.co.za

Leave a Reply