Musieklegende, Jannie du Toit stel nuwe enkelsnit bekend: ‘Lig en Donker’

Met musiekstyle en –tendense wat konstant verander, vat dit ’n merkwaardige musikant om relevant te bly vir byna vyf dekades. Afrikaanse musieklegende, Jannie du Toit, is een van daardie kunstenaars wat die toets van tyd kon deurstaan. Hy het homself oor die afgelope paar jaar daarop toegespits om musiek van sy gunsteling-musikante, soos Jacques Brel, Jules de Corte, Koos du Plessis en Lucas Maree  te sing, maar het besluit dat dit weer tyd is om op sy eerste liefde en passie te fokus – naamlik om Afrikaanse liedjies te skryf en na die verhoog te bring. Die resultaat hiervan, is ’n splinternuwe album: OESJAAR.

Die tweede enkelsnit vanaf dié nuwe album, ’n positiewe en opgeruimde snit – Lig en Donker, dui daarop dat Jannie die natuurlike en mooier dinge in die lewe geniet.

Hierdie album is in November verlede jaar vrygestel. OESJAAR ’n hoogtepunt en viering van agt-en-veertig jaar as ’n Afrikaanse kunstenaar, maar dit bevat slegs materiaal wat hierdie jaar geskryf is. Dit gaan oor wat ek glo, goed waarvoor ek hoop en oor die mense, plekke en dinge wat ’n verskil in my lewe gemaak het en steeds maak. Ek is vol vertroue dat die eindresultaat nie sal teleurstel nie.” sê hy.

OESJAAR bevat ook ’n paar bonussnitte – van vroeëre liedjies uit sy wingerd, waaronder Karen Zoid se opwindende rockverwerking van ’n Liedjie Vir Jou. Dié liedjie is presies veertig jaar gelede deur Jannie geskryf en dit het vanjaar opslae gemaak nadat Karen en Jannie dit opgeneem het vir haar program, Die Republiek van Zoid Afrika. Binne ’n uur na die uitsending, het dié opname bo-aan iTunes se treffersparade gepronk.

Die album is beskikbaar via Vonk Musiek, iTunes asook by uitgesoekte musiekwinkels.

Jannie se sololoopbaan het, byna ’n leeftyd gelede, afgeskop nadat hy sy regs- en taalstudies voltooi het. Gedurende sy studentejare in die 1970’s het hy in ’n pop- en rockgroep gespeel en was ook lid van die Afrikaanse folk-groep, Trilogie, wat reeds op die toetsuitsendings van SATV in 1975 verskyn het. Hy het in 1979 bekendheid verwerf as sanger en liedjieskrywer en het sy eerste solo-album, ’n Liedjie Vir Jou, in 1981 uitgereik. In die tagtigerjare skryf hy musiekblyspele vir Tukkies en in die 90’s bevorder sy JNS Musiek-maatskappy minder kommersiële Suid-Afrikaans musiek. Hy het in 2008 ’n ere-penning ontvang van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook – onder andere – in 2012 van Innibos Kunstefees vir sy bydrae tot die Afrikaanse Skryfkuns.

Deur die loop van sy dinamiese loopbaan, het hy verskeie albums vrygestel, waaronder  Drie-Uur In Die Môre (1987), Palet (1990), De Kleine Man (1994), Volgende Winter (1996), Geloof Hoop En Liefde (1998), Leeuspruit (2002), Diepverlange (2007), Onderweg (2011), Ligjare (2013), Doep Is Nie Dood Nie en Grenzeloos Nederlands (2014) en Die Eggo Van Jou Oë (2015). Twee verdere CD’s  is in 2016 uitgereik, naamlik sy Brel-album in vier tale en Kiekies – Lucas se Liedjies saam met Thean Kotzé.

BESPREKINGS & NAVRAE

Jopie Koen

Sel: 072 460 5568

E-pos: jopie@pierneefteater.co.za

 

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/JannieduToitBlad

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCoMAu3dxQnKK-CYJhDR7iFg

Web: www.janniedutoit.com

Leave a Reply