Kom vier Afrikaans in die Vrystaat! – Musical Venture Radio

Kom vier Afrikaans in die Vrystaat!

Dit is amper tyd vir die vierdie Ek DIE VRYSTAAT FEES in Bloemfontein en hierdie een gaan nog beter en groter wees as van te vore. So skryf 22 September 2018 in dagboek en maak seker dat jy en jou gesin nie die kuier-van-die-jaar by Bains Lodge misloop nie!

Oudergewoonte kan feesgangers verwag om 12 van die grootste Afrikaanse kunstenaars in die land, asook interessante stalletjies, heerlike wyn en ander drankies, en die lekkerste kos en snoeperye op die platteland by dié geleentheid raak te loop.

Die idee vir die Ek DIE VRYSTAAT FEES het ontstaan omdat Bloemfontein die mees sentrale punt van ons land is en geen Afrikaanse konserte gehuisves het nie. Soveel paaie loop na en deur Bloemfontein na die res van die land en die Vrystaters was uitgehonger vir hulle eie unieke Afrikaanse fees,” verklap feeseienaar, Leon Pheiffer. “Dit gaan ’n heerlike familie-kuierdag wees, propvol Bloem-baldadigheid, met kunstenaars op die verhoog, die kroning van Mej. Ek DIE VRYSTAAT, kos- en wynstalletjies en vele meer. Die fees skop af met ‘n heerlike BBP-wynproeaand en ’n eksklusiewe konsert deur sommige van die sangers, rondom die swembad by Bains Lodge op die Vrydagaand.

Feeshekke sal om 09:00 op die dag open en besoekers sal deur die loop van die dag deur sterre soos Robbie Wessels, Leah, Ampie, Jay, Lianie May, Nádine, Joe Foster, Zamar, Tussen Sterre, Monique Steyn, Dillion Lern, Gretha Pers en Jemma vermaak word. Daar sal ook om 22:00 ‘n after-party wees saam met Dewald Wasserfall.

Niemand hoef vroeg huistoe te gaan nie…

“Hierdie jaar se informele fees maak dit anders as voorheen. Dit bring Afrikaners bymekaar om in hul eie taal onder mekaar te kuier, te dans, saam te sing en bietjie Vrystaatse samesyn te deel. Elkeen kan sy eie stoel en kombers bring en kan eet en drink van vroeg tot laat – met kinders wat oral rondhardloop en baljaar, terwyl die ouers ten volle kan ontspan”, voeg Pheiffer by.

KRY JOU KAARTJIES!

Kaartjies vir die Ek DIE VRYSTAAT FEES is beskikbaar by www.computicket.com of by die hek (behalwe vir spesiale pakkette).

Die kaartjie-opsies waaruit jy kan kies is:
• R180 per persoon met eie kombers of stoel; 
• R500 per persoon vir bespreekte BBP-sitplekke en wynproe-konsert met uitgesoekte kunstenaars; en
• R1 500 vir ’n bespreekte tafel waar ses mense kan sit.

As jy ’n plesierige Afrikaner is, wat hou van kuier, lag en goeie musiek, val die grootste musiekfees in die Vrystaat beslis so reg in jou kraal. Sien jou daar!

KAARTJIES BY COMPUTICKET

 

Leave a Reply

%d bloggers like this: