Manie Jackson se “Palms van my hande” – twee handevol topklas musikale bederf!

Die bekoring van Manie Jackson se unieke vermenging van ‘n klassieke ondertoon stem met ‘n country styl van sing maak van hom ‘n groot SA-gunsteling.  Sy kraakvars nuwe album, “Palms van my hande”, is van omslag tot omslag getrou aan hierdie resep.

Die album beslaan 15 snitte wat sorg vir nagenoeg ‘n uur se luistergenot – ‘n hele rits oorspronklike snitte, maar ook ‘n paar uistekende vertolkings van ou bekende gunstelinge.

Die album bied ‘n goeie balans tussen nuutskeppings en goue oues en is pasgemaak vir lekker agteroorsit en luister, maar daar’s ook ‘n dansnommer of drie vir wanneer ‘n skoffel-lus jou beetpak!

Sake van romantiese liefde – van verlange, ‘n terugkeer na die een aan wie jou hart behoort en liefdesbetuigings aan daai één persoon waarvoor jy alles sal doen – word met ander liefdes – die liefde van familie en vriende tot by die liefde van ‘n God wat ‘n fyn-uitgewerkte plan vir elkeen van Sy kinders se lewens het – verweef in snitte soos “Ek kom terug”, “As ek jou verloor”, “Wals van die Engele”, “My hart sê bly”, “Moenie dink ek dink nie meer aan jou nie” en die die titelsnit.

Stop en kyk en sien”, Manie se duet met Angel, leen homself uitstekend tot ‘n stadige dans op maat van rustige countrymusiek met twee van Suid-Afrika se eersterangse country-stemme. Drie merkwaardige, tog amper vergete, gunstelinge word netjies blinkgepoets met Manie se weergawe van Barry Sadler se “Ballad of the Green Berets”, “Sing van liefde” – A Capella se treffer
uit die 1970’s, sowel as Willie Nelson se “To all the girls I’ve loved before” wat Manie in ryke harmonie met Pieter Mohr uitvoer.

“Palms van my hande” vertel ‘n pragtige storie in melodie en bied ‘n ryke verskeidenheid musiek wat net soveel goue herinneringe sal oproep as wat dit nuwe herinneringe sal maak!

Die album is nou landswyd beskikbaar.

Leave a Reply

%d bloggers like this: