Ray Dylan se splinternuwe album ‘UITBASUIN’ is hier.

Die hoeveelheid dansvloere wat al behoorlik blinkgedans is op maat van Ray Dylan treffers is ‘n getuigskrif van die wye aanklank van sy musiek. Met sy nuutste album, “Uitbasuin” draai hy die volume, en die lekkerkry, nog ‘n kerf of twee op!

Ray Dylan se splinternuwe album, “Uitbasuin”, se titel som in een woord op wat menige musiekliefhebbers daarmee sal doen, want dis 15 snitte van eersteklas musiek in Afrikaans en Engels wat hartsnare en dansskoene ewe veel sal roer.

Lirieke – wat soms in ‘n ligte luim rondbaljaar en ander kere meer ernstig en dieper delf in die hart van ‘n meer volwasse Ray – smee hulle saam met sterk, hoë-energie geure van pop, country en rock, sowel as die sterk kitaar- en rasperstem lyne, wat oor die verstek van 15 jaar
van dié uitsonderlike talent ‘n huishoudelike naam gemaak het.

Hoë-tempo danssnitte soos “Vir ewig jonk”, “Ek is wie ek is”, “Dis nooit te laat nie” en die titelsnit word goed afgewissel met rustiger nommers soos “You’re my everything”, “Jy’s my eerste, jy’s my laaste”, “Hier teen jou lyf” en “Woorde”, waar tema’s van onder andere die vreugde van lewe, manword, die tweestryd tussen kop en hart, liefde, vriendskap en tweede kanse verken word.
Ray se duet met Liezel Pieters – hulle uitvoering van Christina Aguilera en Blake Shelton se “Just a fool” – is ‘n merkwaardige stuk musiek wat weereens bevestig dat Suid-Afrikaanse kunstenaars nie ‘n enkele tree terugstaan vir wêreldmark-ikone nie.

Hierdie album is veel meer as meevoerende woorde, melodieë, techno-ondertone en sleep-joudansvloer-toe ritmes… dit het daai “iets” wat jou weer en weer daarna sal laat luister, en steeds sal laat hunker na meer.

Uitbasuin” is ‘n album wat sonder twyfel nog menige ranglyse gaan skud en is een van die dae landswyd beskikbaar by jou naaste musiek winkel en alle digitale platforms.

Leave a Reply

%d bloggers like this: