Saarkie is terug met ‘n nuwe enkelsnit, ‘Vir Altyd’

Na agt suksesvolle jare in die musiekbedryf, het SAARKIE beslis geen bekendstelling nodig nie. Hierdie Ghoema (Beste Rock-Album van die Jaar, Beste Album deur ’n Groep of Duo, Groep van die Jaar)- en SAMA (Beste Rock-Album)-benoemde trio het pas ’n nuwe enkelsnit vrygestel, wat nie net uit die staanspoor positief ontvang is nie, maar ook bewys hoekom hierdie groep “vir altyd” ’n plekkie op die Suid-Afrikaanse verhoog sal hê.

VIR ALTYD bou voort op die elektries-akoestiese, bars-uit-jou-nate-uit, wenresep waarvoor dié groep bekendheid verwerf het en kan beskryf word as ’n mengsel van moderne Pop en Rock. Die liedjie is geskryf deur Adèle Fouché en Mjön van Blommestein en verteenwoordig die goeie plek waarin die Saarkies hulleself tans bevind. “Almal het iemand wat hulle vir altyd in hulle lewe wil hê, selfs al droom jy nog net van ’n ontmoeting met so ’n persoon. Die lied vertel van iemand se begeerte om sy of haar drome uit te leef saam met hierdie persoon, vir altyd…,” vertel hulle entoesiasties. “Ons dink mense sal daarvan hou omdat die universele boodskap met jonk en oud praat. Dis ook een van daardie liedjies waarop almal kan dans en saamsing.” Daar word ook ’n musiekvideo vir hierdie treffer beplan en die beeldmateriaal is glo regoor die land geskiet.

Die snit is die eerste vrystelling vanaf hulle vierdie album, Queen van die Toorbos, wat later vanjaar uitgereik word. Volgens hulle, kan luisteraars uitsien na nuwe klanke, soos klavier- en tjellomusiek wat by sekere ballades ingewerk is en lekker kitaarsolo’s by die Rockliedjies. Elf oorspronklike snitte en drie verwerkings van bekende gunstelinge, soos Stille Waters (Laurika Rauch), I’m On Fire (Bruce Springsteen) en Beds are Burning (Midnight Oil), vorm deel van die speellys en die titelsnit word uitgesonder as hulle gunsteling.

SAARKIE bestaan uit drie pragtige en talentvolle musikante. Adèle Fouché is die hoofsanger en liedjieskrywer en speel ook kitaar en mondfluitjie. Lila Botha speel dromme en doen ook een van die agtergrondstemme in die groep. Erika Pretorius is die nuutste toevoeging tot die Saarkies en het in 2016 by die groep aangesluit, nadat Lourene Mostert die groep verlaat het. Sy is verantwoordelik vir die baskitaar, klawerbord en tweede agtergrondstem.

Die groep het, sedert hul ontstaan, al stempel afgedruk by al die grootste Suid-Afrikaanse muskiekfeeste soos Aardklop, KKNK, STRAB, Mieliepop en Innibos en ook die verhoog gedeel met van die land se bekendstes soos Karen Zoid, Francois van Coke, Die Heuwels Fantasties, Spoegwolf, Steve Hofmeyr, Kurt Darren, The Parlotones, Cindy Alter (Clout), Ballyhoo en vele ander. Hulle was ook in 2016 deel van die Rock in jou Taal-konsert by Carnival City en het ’n draai gaan maak by Dozi se Back to the Roots.

 

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: http://www.facebook.com/#%21/pages/SAARKIE/321222057747

Twitter: @SaarkieBand

Instagram: @saarkieband

Webblad: www.saarkie.com

Leave a Reply


Strict Standards: Only variables should be passed by reference in /home1/musicalv/public_html/wp-content/plugins/custom-javascript-editor/custom-javascript-editor.php on line 181
%d bloggers like this: