Rina Hugo is terug met ‘n nuwe album: ‘Sy naam is Jesus’

Ná ‘n album-stilswye van ses jaar, bied die gewilde en bekroonde sopraan Rina Hugo musiekliefhebbers ‘n splinternuwe tweetalige album in die geestelike genre: Sy naam is Jesus. Dit is Rina se vyfde gospel-CD; die jongste in ‘n roemryke loopbaan met ‘n diskografie van 31 albums.

Rina tree steeds onverpoosd by verskillende kerke regdeur die land op en trakteer gehore saam met haar man, die pianis Johan van Rensburg, by oggendgesellighede.

“Alhoewel ek dwarsdeur my loopbaan altyd betrokke was by geestelike musiek en baie keer in kerke opgetree het, het ek ongeveer drie jaar gelede besluit om my gewone konserte af te skaal en hoofsaaklik te fokus op die eredienste wat ek namens die Christelike Seemansorganisasie doen. Die dienste bestaan uit liedere en gedigte wat ek saam met my goeie vriendin Rien Joubert skryf en saamstel. Die tema vir die nuwe diens is ‘Sy naam is Jesus’. Dit was vir my logies om die liedere wat ek in die program ingesluit het op dié CD te sit. Daar is ‘n paar bekende liedere op en dan nuwes wat ek oor ‘n lang ruk bymekaar gemaak het.”

Groot sorg is met die produksie, gelei deur Tertius Human, gedoen. Die verwerkings, onder meer deur Johan van Rensburg, is klassiek gepoets en Rina se vokale vernuf skitter op elke snit. Luisteraars sal groot waardering put uit die liedere Hy’s die een, Hoe groot is U, U roep my, Daar is geen ander naam, Hy is hier en Bring lof aan God. Tussen die opheffende Engelse werk is die liedere For Those Tears I Died, I Stand Amazed, Precious Lord, Mary Did You Know en die immergewilde liedjies It Is No Secret en Jesus Loves Me.

Die album spog met twee meesterlike duette: Agnus Dei (Lam van God) met Jaconell Mouton en What I Need Is You (met Johan van Rensburg; klavier). “Jaconell is een van ons land se begaafste pianiste en musiekverwerkers. Sy is by baie mense bekend as leier van die Musiekfabriek in die gewilde TV-program Noot vir Noot. Ek het haar eendag hoor sing in een van haar verhoogoptredes en dadelik besluit dit is die stem wat ek soek om saam met my die duet op die CD te sing. Sy het ingewillig en sommer ook aangebied om die begeleidingsmusiek te verwerk en te vervaardig. Ek is verskriklik opgewonde oor die lied!

“Ná ‘n lang tyd wat ek nie in die ateljee was nie, was die opneem van die CD weer vir my baie inspirerend en lekker. Ek het dit so geniet om die musiek te sing Die liedere se woorde inspireer en bemoedig my. My wens is dat al die liedere vir almal wat daarna luister tot groot seën sal wees.”

Ervaar suiwer vokale vernuf en musikale integriteit!

Leave a Reply

%d bloggers like this: